ADVERTISEMENT:

 

 
 

116. Daisy geniet haar “vlugtelinge” totdat ...

Date: 24 March 2016 By: 

“Allahel, Bernard, wat ‘n dag!” kreun Daisy toe sy en Bernard in die nanag by die huis aankom. “Ek is eenvoudig te moeg om te gaan stort en slaap.” Sy trek haar skoene uit en begin haar voete masseer.

“Kom strek hier uit op die bank met jou voete op my skoot, dan maak ek dit beter. Jy was ‘n ongelooflike ster vandag, Daisy. Baie dankie.”

Daisy krul van pyn en lekkerte terwyl haar man haar voete vryf. “Ek weet nie regtig wat ek gedink het nie, maar die Coruptas is sulke ... sulke ... wel, nice mense. Dit het seker net nooit by my opgekom dat ek dalk van hulle sal hou nie.”

Bernard gee ‘n moeë laggie. “Ek neem jou ook nie kwalik nie. Na daai hele sirkus toe hulle hier aangekom het? Ek wens jy kon jou gesig sien toe die spul gewapende lyfwagte by die vliegtuig uitpeul! Daar was nie eers sulke streng sekuriteit toe Oom Cyril verlede maand hier by ons kom kuier het nie!”

“Hulle reis nou nie eintlik lig nie,” stem Daisy saam. “Wragtig tot skoonheidsterapeute vir henna tatoeëerings en ‘n haarkapper, en dan daai groot, aantreklike Sweed vir massering ... Mmmm. Maar jy doen glad nie sleg met my voete nie, my geliefde. Ek belowe ek sal nie ‘n oomblik verder dink aan die blonde reus nie, moet ASSEBLIEF net nie ophou om my voete te troetel nie!”

“Die heel beste is die sjefs! En die kosmopolitiese spannetjie wat doodeenvoudig die hele kombuis oorneem en eksotiese geregte op bestelling optower...” Bernard begin lag. “Het jy gehoor wat Tokkel te sê gehad het oor die hele petalje?”

“Nee jong, julle het seker weer in TshiVenda geskinder!”

“Hy wou weet met wie om te praat oor lobola vir daardie pragtige opgeskote meisiekind met die glinsterende swart hare en die goue neusringetjie!”

“En toe? Wat sê jy vir hom?” vra Daisy geamuseerd. Tokkel se verliefdheid op party van die celebrities wat by die gastehuis kuier is al legendaries en ‘n bron van binnepret vir die personeel.

“Nee, ek het gesê dit sal nogal moeilik wees om al die beeste in Venda bymekaar te maak, want sy gaan baie duurder wees as daardie Britse sangeressie waarop hy laas sy hart verloor het! Al ons personeel is vrek nuuskie­rig oor die mense wat so geheim is dat hulle op verpligte verlof moes gaan.” Bernard sug. “Gelukkig dink ek nie hulle weet hoegenaamd wat aangaan nie.”

“More gaan nog ‘n langer dag wees vir ons, ou Barries. Kom ons gaan slaap.”

En dit wás ‘n lang dag. Wat toe ‘n lang week word.

Aan die een kant is daar die belewenis van kleurvolle sari’s, Oosterse musiek en aroma­tiese speserygeure wat die gastehuis oorvloei. Maar onderliggend is daar die erns van die mans wat met selfone vasgeplak teen hulle ore onrustig op en af stap, die gedurige teenwoordigheid van die lyfwagte met angswekkende wapens en die kom en gaan van swart voertuie met getinte vensters.

Dan is daar Amuz wat nooit sy sonbril of hoed afhaal nie en nie vir al die olifante in Indië uit sy luukse kamer versit nie. Net twee van sy vrouens en van die jongste kinders is saam met hom, maar almal lyk op die oog af dikbek oor die situasie. Amuz vermy die Corupta manne heeltemal en maak oproepe op ‘n satellietfoon – so ver as wat die nuuskierige Daisy kan agterkom. Net een keer kon sy sweer hy noem die persoon waarmee hy onbetaamlik aan die flankeer was, Grace...

Bernard vra Daisy drie keer op ‘n dag om verskoning vir die buitengewone stand van sake wat al hulle aandag en energie verg. Maar sommer van die tweede dag af begin Daisy haarself vreeslik geniet. Sy knoop geselsies aan met die pragtige vrouens, luister na die stories wat die kinders vertel oor hulle wêreldreise en probeer versigtig uitvis by die personeel oor hulle werkgewers.

Toe, een helder, onskuldige oggend teen die hang van die Soutpansberg, is als skielik verby.
Net voor almal begin ontbyt eet, is daar ‘n harwar van vreemde tale en manne in swart pakke met oorfoontjies en vuurwapens wat instorm en klaarblyklik rampspoedige nuus aan almal uitskree. Terselfdertyd maak hulle mense en Vuitton-bagasie bymekaar en prop die protesterende spulletjie in voertuie.

In die verbygaan kry Bernard een van die lyfwagte aan sy Armani baadjie beet: “What the hell is happening?” eis hy.

“What the !@#$%^&*!!! does it look like,” tender die man vir seep in sy mond. “We are leaving. The Hawks, they know where we are!” en hy pluk sy baadjiemou en sy moer. “What are you waiting for? Get your vehicles and help us get these people to the plane!”

Bernard is skielik gatvol. Hy antwoord die man met ‘n goeie skoot peperwoorde van sy eie. “This is enough. I will have no further !@#$%^&*!!! part in this farce. Loyalty does not stretch to outwitting the Hawks! Get yourselves out of this one, my man,” grom Bernard dreigend en probeer vir Daisy afskud wat hom terughou.

Dis toe dat Amuz en sy familie en kadette ook verbykom. Rustig.
“Pity, Mr Young,” sê hy en giggel soos ‘n hiëna. “I still have some influence in the Cabinet. I could have spoken to the Coruptas too. 

“I am sure you would have made an excellent Minister of Tourism!”

 
 
 

Viewed: 199

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT