ADVERTISEMENT:

 

 
 

117. Daisy is baie beangs, want dit is Paastyd

Date: 31 March 2016 By: 

Elke jaar met Paastyd is Daisy opnuut beangs.

Sodra die eerste paaseiers en sjokoladehasies in die winkels verskyn, begin Daisy se vrees. Sy kry nagmerries en bekla haar lot by almal wat wil luister. (Niemand wil nie.) Sy vra hulp en ondersteuning, maar niemand is gewillig nie.

Paastyd is die tyd wanneer Daisy se tweede persoonlikheid oorneem. Gewoonlik is Babsie (ja, sy het selfs ‘n naam!) doodtevrede dat Daisy slaaie en vars groente en af en toe ‘n T-bone eet. Sy is selfs tevrede dat Daisy bitter selde nagereg eet en nie regtig ‘n soettand het nie ... Heel geduldig wag sy haar kans af. Want Paastyd kom!

Dinsdag voor Paasnaweek ry Daisy dorp toe. Maar dit is Babsie wat terugkom met sakke vol paaseiers. Sy dra self al die sakke uit die kar uit. Sy sluit die slaapkamerdeur en pak die paaseiers uit op die bed. Dit is indrukwekkend – daar is grotes wat hol is en grotes wat vol klein paaseiertjies is, daar is blinkes en bloues, daar is wittes in boksies om soos hoendereiers te lyk, daar is kleintjies soos duifeiers, daar is paaseiers in ritse paasprentjies aanmekaar vas.

Babsie bekyk haar rykdom met ‘n groot glimlag. Haar oë is glaserig. Van Daisy is daar geen teken nie, ook nie van enige common sense nie. Babsie trek die stywe jeans uit en trek ‘n pajamabroek met ‘n rekband aan. Sy bou vir haar ‘n nes met kussings op die bed en strek haar gemaklik uit tussen die skatte. Vir ‘n oomblik twyfel Babsie ... maar nee, jammer vir Daisy! Dit was net om te besluit wat sy heel eerste sal eet. Waarmee sy die bisarre insident sal afskop.

Sy begin nederig met een van die marshmallow eiers wat in ritse kom. Sy rek die lekker uit – breek eers stukkies sjokolade af van die wit en geel binneste en prop dan heel laaste die hele eier in haar mond. Die drie boeties aan die rits volg. Nou breek sy nie meer die sjokolade af nie, sy gee net twee happe aan elkeen. Maar dis groot moeite om eers die papiertjies oop te maak... Volgende gryp Babsie die wit eiers in die boksie. Sy kraak die harde dop met haar oogtand oop en breek dan die hele eier in stukke. Die helfte van ‘n halfdosyn verdwyn in Babsie se keelgat af, maar die wit van die dop sit om haar mond as getuienis.

Daisy word wakker van ‘n geklop aan die slaapkamerdeur.

“Wat de hel doen jy dat jy nodig het om die deur te sluit?” bulder Bernard. “Maak dadelik oop, Daisy!”

Sy loop vervaard deur toe en sluit oop. Bernard se irritasie verander in vraagtekens voor haar oë. Sy eerste gedagte is dat Daisy aangeval is en hy buk vorentoe om die gemors op haar gesig te bekyk. Dan vryf hy met sy vinger oor haar voorkop en proe daaraan. Hy begin verlig lag.
Maar sy lag droog gou op toe hy die oorblyfsels van die orgie sien. Daar is papiere van elke denkbare kleur en tekstuur wat rondlê; stukkies sjokolade wat vasgesmelt het op die beddeken en etlike paaseiers waaruit net een hap gevat is.

Bernard wil-wil met Daisy raas, tot hy die verwarring op haar gesig sien. Sy lyk geskok.
“As jy dink hierdie is erg my liefste, moet jy bietjie kyk hoe lyk jou gesig!” Hy begelei Daisy na die badkamerspieël toe. “Jy het seker met jou gesig in die sjokolade aan die slaap geraak,” lag hy uit sy maag uit.

Daisy kyk met benoude oë na haarself. Dit lyk asof sy aangerand is en toe sjokolade gebloei het. “Dis erger as verlede jaar! Dit word elke jaar erger, Bernard. Jy wil my nie glo nie, maar dis Babsie...”

“Nee wat, Daisy, dis oukei. Ons het almal ons ou sondetjies en geraamtes in die kas. As jy joune ‘n naam wil gee, is dit jou saak. Dis tog jammer dit gebeur net eenmaal per jaar! Dis darem ‘n vreklekker manier om sjokolade te eet...” Bernard begin ‘n giggelende Daisy se gesig aflek.

En ‘n stilgevrete Babsie glimlag slu toe sy dink aan al die plekke waar paaseiers wegge­steek is.

 
 
 

Viewed: 169

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT