ADVERTISEMENT:

 

 
 

118. Daisy besluit sy wil eerder ‘n hippie word

Date: 07 April 2016 By: 

Dis tienuur in die oggend en Daisy sit nog in haar blou skapiespajamas. Uit die diepste donkertes van depressie staar sy na die oop deure van haar hangkaste.

“Niks,” sê sy. “Ek het niks om aan te trek nie.”
Die hangkaste stry nie, vertoon net geduldig die inhoud van ‘n groot aantrekkamer. Die aantrekkamer is die grootte van ‘n klein boetiek. Heel aan die einde is twee toe deure waaragter die inhoud hoofsaaklik kakiehemde en –broeke is.

“Alles lyk dieselfde,” praat Daisy opstandig met die kaste. “Dieselfde wit T-hemde. Dieselfde jeans. Dieselfde boetse. Dieselfde baadjies ... Alles dieselfde, behalwe dat dit duurder is as ‘n jaar of twee gelede se klere.”

Daisy se selfoon lui. “Ek hoop dis dringend,” sê sy sonder om te kyk wie bel. “Ek neem net dringende oproepe vandag.”

“O hel, Daisy. Wat gaan aan?” Kathy weet dadelik daar is fout. Sy en Daisy is nie verniet BVVB (Beste Vriende Voor Buustes) nie.
“Ek het niks om aan te trek nie,” sug Daisy.
“Jy het tjoklits nodig vandag, Daisy,” spot Kathy. Sy ken vir Babsie en haar bisarre vergryp aan paaseiers maar te goed.
Daisy begin huil.

“Okei, okei ... Jammer Daisy – ek het vergeet Paastyd was net nou die dag. Vertel my liewers – wat het jy nodig? Moet ek vir jou ‘n klere-dingetjie of twee bring, dan kom kuier ek die naweek?”
“Kathy, dit gaan meer as net ‘n sak vol klere verg. Ek gaan in-diepte veranderings moet maak. Die klere is net simbolies van my hele lewe,” snik Daisy dramaties. “Alles knel my en alles is boring wit en swart. Ek het kleur en geur en tekstuur in my lewe nodig!”

“Daisy. Daisy!” stop Kathy die selfbejammering streng. “Staan op van die vloer af, gaan tap vir jou badwater met lekker olie in, steek kerse aan en sit Joe Cocker se musiek kliphard! Luister na You can leave your hat on of Patricia the Stripper van Chris de Dinges ... Jy voel altyd beter na Patricia. En dan bel jy my terug as jy klaar jou hare en gesig gedoen het!”

Twee ure later is dit ‘n ander Daisy op die foon.

“Jy is ‘n vriendin duisend, Kath! Ek het in die bad nou die hele sakie bedink en sowaar: Chris de Dinges hét my opgebeur!

“Dit het alles begin toe die Coruptas hier was. Ek wens jy kon dit beleef – al die pragtige vrouens, perfek versorg en aangetrek in ‘n warrelwind van kleure en teksture ... Ek het soos Aspoestertjie se stiefsussie gevoel! En toe vertel Tannie Patel ... jy onthou mos - van die speserywinkeltjie daar in Eltivillas - my van haar skoonsuster in die Kaap wat die wonderlikste klere maak. Al die lieflikste brokate en goue afwerkings. En haar niggie wat haar eie kookprogram op VIA aanbied ... Toe is my lewe maar redelik ... vaal. Vervelig. Voorspelbaar.

“Nou het ek die bul by die horings gepak en vir Bernard gevra om my gou Lanseria toe te vlieg. Sal jy my kan kom kry? Nog beter – wil jy nie vir ons plek bespreek op ‘n vlug Kaapstad toe nie? As alles goed uitwerk, kan jy jou tas sommer saambring ... Ons slaap nog vanaand aan die agterkant van die koue front!”

Dis duidelik dat niks vir Daisy nou van koers af gaan kry nie. Sy is so paraat soos ‘n beeswagter wat ‘n leeu hoor brul!

“Wat laat jou dink ek kan sommer net als los...” probeer Kathy walgooi.
“Luister, Kathy, ek dink ek begin hierdie skatryk storie verstaan. Geld kan wragtig geluk koop – moenie laat mense jou iets anders vertel nie. Jy moes gesien het hoe gelukkig is Bernard toe ek hom vertel ek wil vir ‘n week of so Kaap toe gaan ... Geen depressiewe vrou by die huis nie en soveel T-bones as wat hy en die res van die Waterpoort boere kan opeet in ‘n week ... Ek kon sweer hy het selfs met iemand gepraat oor visvang.” Daisy torring ‘n paar slierte blonde hare los oor haar voorkop en giggel.

“En as jou baas jou nie wil afgee nie, stel voor dat ek haar besigheid sal koop!”
Die oorblufte Kathy het nie ‘n kat se kans nie. “Jy weet mos ek het my eie besigheid...” begin sy; onseker oor wat Daisy bedoel.

“Dis juis, Kathy. Ek stel jou aan as my persoonlike beeldpoetser vir die volgende week. Jy gaan my help om kleur en geur in my lewe te skep.
“Jy sien, ek het besluit ek wil ‘n hippie word.”

 
 
 

Viewed: 230

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT