ADVERTISEMENT:

 

 
 

119. Daisy soos ‘n vlinder wat uit kokon kom

Date: 14 April 2016 By: 

“Aitsa.” Dis al wat die naaister sê toe Daisy haar vertel wat sy in gedagte het.

Mevrou Gamidha van die Bo-Kaap kyk met glinsterende oë na Kathy en Daisy waar hulle saam met haar om die kombuistafel sit en tee drink. Daisy het haar hele lewe uitgepak vir die vrou – elke rede wat sy het om skielik te jeuk vir kleur en tekstuur en oordadigheid.

“Ek het noual baie dingetjies gehoor, maar dis die eerste maal wat iemand vir my prentjies van kos bring om klere te maak!”

Daisy bloos verleë en trek gleufies op die witgeskropte hout van die tafel. “Tannie Patel het gesê as daar een is wat sal verstaan as ek dit so verduidelik, dan sal dit jy wees, Mevrou Gamidha. Sy het my vertel jy het dieselfde passie vir kos as wat ek het en jy sal die geure en kleure kan herken...” Skielik klink dit selfs vir Daisy ‘n bietjie vreemd en vergesog. Sy kyk onseker na Kathy.
“O nee, moenie na my kyk vir hulp nie!” lag Kathy dat sy amper in haar heuningbostee stik. “Maar ek moet sê, hierdie is beter as enige show wat ek gesien het by die KKNK! Jy moet tog net nie dat die celebs hiervan uitvind nie ... Dan sleep hulle binnekort vir Reuben Riffel of Jamie Oliver saam om rokke vir die parlements­opening te gaan ontwerp!” Kathy en Mevrou Gamidha lag dat jy hulle straataf kan hoor.

Dis Gamidha wat eerste die kilheid in Daisy se oë raaksien en besef sy is nou op dun ys.

"Toemaar, my darling, ons is sommer so ‘n bietjie laf op ‘n Bloumaandag. Ekskuus. My skoonsussie is heeltemal reg – ek verstaan maar te goed waarvan jy praat as jy sê dit moet borriegeel wees maar voel soos ryk tamatie- en tamarynsous. En die jasgoed moet die kleur van knoffel wees met star aniseed vlokkies, maar room teen jouse vel ... Fluweel soos vars dhania. Nee, ek verstaan, my skat.”

“Nou kyk, vandag is al amper klaar oor. Kom nou more vroeg terug met plat skoene en ‘n volgepropte wallet en dan gaan koop ons materiale. Ek sal julle stiek vir lunch. Maleierkos – the real thing.”

Halfpad deur die volgende dag gee Kathy op. Sy volg Gamidha se instruksies en gaan wag vir die mevrouens by die eetplek. Met baie wyn. Daisy se wange is bloedrooi van opwinding en Mevrou Gamidha gee opdragte aan die jong verkoopsmeisies. Daar lê later berge materiale en afwerkings waar Daisy opgewonde vertel wat gemaak moet word en Mevrou Gamidha notas neem.

En nes Tannie Patel gesê het, is daar skielik kleur en tekstuur en lig en geur in Daisy se lewe. Sy verloor haarself heeltemal en maak planne met die onwaarskynlikste pasmaats – fluweel en sy, pers en rooi en goud en skelpienk.

Uiteindelik is ‘n fraksie van die aankope in die gehuurde kar gelaai en sluit Daisy en Mevrou Gamidha soos ‘n sirkus in volle blom by Kathy aan.

“Alla liewe hel, Daisy! Ek kan nie dink dat jy eers op jou troue so gelukkig gelyk het nie. Dis ‘n avontuur wat jou aanstaan, nê my vriendin?” Daisy se oë blink en sy kry nie regte woorde uit om haar oudste en beste vriendin te antwoord nie.

“Laat ek dit só stel – nie eers vars oesters en kreef met die heel beste Franse sjampanje bedien deur ‘n horde halfnaakte Chippendales sal my nou so vermaak nie!”

En dit kan mens van Daisy sê: Wanneer sy fokus, is daar min wat haar van stryk bring. Die res van die week spandeer sy by Mevrou Gamidha en skets en beplan hulle ‘n hele nuwe klerekas (of twee-drie) vir Daisy. Kathy het haar uit die sakie gewikkel en toeristedinge begin doen. Saans het Kathy en Daisy hulle oorgegee aan die kulinêre kunste van Kaapstad en bedags het Daisy net weggeloop uit die Bo-Kaap uit om meditasiesentrums en ietwat esoteriese winkels te besoek.

Op hulle laaste dag in Kaapstad gaan groet Daisy en Kathy vir Mevrou Gamidha. Daisy se bagasie is reeds volgepak van die mooiste uitrustings en hulle maak reëlings om die res op Waterpoort te kry. Daisy se lang blonde hare het ekstra blonde behandeling in een van die beste salonne gekry. Daar is syblomme in haar hare en ‘n rok van salmpienk met heuninggeel fisante op sagte, vloeiende lap.

Mevrou Gamidha huil toe sy Daisy styf vasdruk.

“Parvana...” sê sy teen Daisy se nek. “Parvana is ‘n butterfly in Persies. Jy het hier aangekom soos ‘n Daisybos en jy gaat weg hier soos ‘n butterfly wat uit die kokon ontsnap het, my darling.
Blessings vir jou.”

 
 
 

Viewed: 224

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT