ADVERTISEMENT:

 

 
 

120. Daisy en die boodskap wat haar vlerke gee

Date: 21 April 2016 By: 

Terug in Waterpoort is Daisy die ene kalmte en rustigheid. Haar nuwe boheemse klerekas het haar belangstelling in vrygeestige dinge geprikkel en sy word getrou elke oggend vieruur wakker om te mediteer. Sy verruil tot haar slaapklere vir los, wit linneklere voor sy haar onttrek na die groot wit kussings in die konserwatorium waar haar wit orgideë blom.

Aanvanklik was Bernard hoogs geamuseer deur die splinternuwe Daisy wat van die Kaap af teruggekom het. Hy het haar nuwe voorkoms geniet en sy het gedy op al die komplimente van haar man af. Maar toe dinge nie na normaal toe terugkeer binne twee weke nie begin Bernard brom.

“Nee hel, Daisy. Noudat dit later lig word, soek ek jou warm lyf hier langs my in die oggend! Ek drink tot alleen koffie ... Los nou al hierdie New Age foefies en lê liewers lepel met my!” murmureer hy. Daisy glimlag net ongestoord en geheimsinnig.

“Dis my hemelsake, Bernard,” verduidelik sy. “Ek het nie verniet die kussings self gemaak en die hele plek vol wit kerse en wit klippe gepak nie. Dis stiltetyd.”

Natuurlik is Bernard baie ingenome met die situasie toe hy een oggend teen sonop in die kombuis kom en vir Daisy by die tafel sien sit.

“More, mooiste! Wat ‘n lekker verrassing. Kan ek vir jou ook koffie maak?” Hy mik om haar te soen, maar Daisy draai haar kop weg.

“Nee dankie, Bernard, nie koffie nie. Maar sit – ek wil bietjie met jou praat.”
Bernard se skouers sak, maar hy kry darem reg om nie hardop te sug nie. Enige man se slegste manier om die dag te begin ... as sy vrou wil “praat”.

“Reg, Mevrou Young. Wat doen ek vir jou vandag?” vra hy liggies.
“Dis nou twee dae agtermekaar dat ek boodskappe vroeg in die oggend kry, Bernard. Anoniem. Dis ernstig,” skets sy die situasie. “Dis iemand wat my waarsku dat jy rondflerrie met ‘n ander vrou.” Sy hou hom stip dop.

Haar man se Bloubulblou oë blits, maar hy sê niks.
“Daar was foto’s by, Bernard. En dis nie ge-Photoshop nie.”
Daar is stilte. Daisy hoop dat as sy lank genoeg stilbly Bernard eerste sal begin praat. Maar Bernard ken ook dié tegniek. Hy bly doodstil.

“Nou wat nou, Bernard? Wat moet ek van hierdie boodskappe maak? Wat moet ek daarvan dink?” Sy vra dit stilweg, sonder woede. Glad nie soos Daisy gewoonlik sou doen nie.
Bernard staan op en begin werskaf met die koffiemasjien. Hy haal beskuit uit en sit dit op die tafel neer. Dan gooi hy vir hulle elkeen koffie in.

“Daisy, wees bly dat ek nie dadelik geantwoord het nie. Wat ek eintlik vreeslik graag wil doen is om jou oor my skoot te trek soos ‘n kleuterkind en jou boude warm te slaan. Maar ek sien jy weet nie regtig wat om te doen nie; wat om te glo nie. Daarom gaan ek en jy net één keer in ons lewe hierdie gesprek hê. Een keer. Net een keer. Verstaan jy mooi, my liefste vrou?”
Bernard praat stadig en sag en duidelik. Daisy skrik haarself bleker as haar wit meditasie-uitrusting.

“Ek hoef glad nie die foto’s te sien nie, Daisy. Ek weet na wie daar verwys word en ek weet ook dat die foto’s onskuldig is. Jy verstaan na twee jaar nog steeds nie mooi die mindset van ‘n klein plattelandse gemeenskap nie, Daise. Die bliksems het nie afleiding nie. Selfs DStv en Netflix is nie genoeg om die skinnerbekke gelukkig te hou nie. Almal ken mekaar, maar niemand gun mekaar die soort van geluk wat ek en jy beleef nie. Ons staan uit soos kreme­tartbome in die landskap. En die spul is soos skaapooie wat koppe bymekaar sit om ons lewe hel te maak.

“Maar dis nie wat my pla nie, my vrou. Wat my pla, is dat jy twyfel het, dat jy die boodskappe ‘n vastrapplek gee. Dis ‘n klap in my gesig. Nou - read my lips: ek stel in GEEN ander vrou belang nie. Nooit nie.”

Daisy staar oopmond na Bernard. Dis die langste en ernstigste toespraak wat hy nog ooit gegee het...

“En die vrou? Julle is afgeneem by At se Gat op Alldays? Twee keer. Met haar hand op jou arm.”
Bernard gooi rustig vir hom en Daisy nog koffie in en doop ‘n derde beskuit in sy koffie.

“Dis heeltemal waar, Daisy. Ek ken haar baie goed. Haar naam is Alicia. Dit was besigheid. Persoonlike besigheid.”

“Jy sien, toe jy nou terugkom van Kaapstad af met al daai hemelse klere en jy is so rustig en kalm en vol vrede, het ek ‘n idee gekry dat jy besig is om ‘n engel te word. En met jou verjaarsdag wat net om die draai is, meen ek toe ek skaf vir jou amptelik vlerke aan. Dis die minste wat ek kan doen. Alicia gee vlieglesse, Daisy. Ek het jou ingeskryf vir jou PPL by Alicia. Vir die vlerke...”

Die volgende oomblik gryp Daisy vir Bernard om sy nek en begin hom papnat soen.

“Kom,” sê sy. “Terug bed toe. Dis nie te laat vir lepellê nie!”

 
 
 

Viewed: 162

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT