ADVERTISEMENT:

 

 
 

122. Daisy en die soektog na haar geliefde

Date: 12 May 2016 By: 

Die foon lui langs Kathy se bed. Dis diep in die nag en sy weet daar is moeilikheid nog voor sy haar bedlamp aanskakel. Haar stem is dik en haar oë nog rebels bottoe teen die ongenadige gloeilamp.

“Ja,” se Kathy hees. Sy maak keel skoon en probeer weer. “Hallo?”

Dit neem Kathy ‘n oomblik of twee om agter te kom dis iemand wat huil aan die anderkant. Saggies. Ondramaties.

Kathy kyk na die naam op haar selfoon se skerm. “Daisy?” vra sy verbaas. “Daisy ... Wat gaan aan?”

Dan is daar skielik ‘n man se stem: “Kathy, dis Jacobus. Bernard word vermis. Hy is gisteroggend hier weg met besoekers van Duitsland af om te gaan soek na olifante in die Tuli-gebied in Botswana. Daar was ‘n noodroep en toe ver­dwyn die vliegtuig van die radar af. Ons vermoed die ergste. Sal jy asseblief kan kom? Sommer nou?”

Kathy ken Jacobus goed genoeg om te weet hy word net onbeskof as hy onder uiterste spanning is. Sy weet ook dat Jacobus ‘n manier het om dinge bymekaar te hou in ‘n krisis. As die grote man haar vra om te kom help, dan is hulp nodig.

“Ek pak net ‘n paar goedjies. My kar is vol petrol. Ek ry dadelik.”
“Kathy, daar is vriende wat kom help soek na Bernard. Hulle styg op van Grand Central af oor ‘n uur. Sal jy daar kan wees? Ek sal hulle laat weet...” Moegheid slaan deur Jacobus se stem. “Dankie, Kathy. Daisy is buite haarself.”

Kathy weet nie wat om te verwag nie. Daar word min gepraat tydens die vlug op pad Waterpoort toe. Die vriende van Bernard het geen nuus nie. Hulle bespiegel ook nie. Dis net af en toe wat die twee in die voorste sitplekke die nodigste kommunikeer om hulle doen en late en posisie te bevestig aan die lugowerhede. Die vorige keer toe Kathy hierdie manne ontmoet het, was toe Daisy en Bernard getroud is.

Die nag lê nog soos soel ferweel oor die bosveld toe die kragtige straler se enjin bedaar. Jacobus is een van die wat in sy Hilux sit en wag vir Kathy en die vlieëniers om af te klim. Hy groet besadig en sit Kathy se tas en handtas agterop die bakkie.

“Die weervoorspelling sê dit gaan ‘n helder dag wees vandag,” sê hy onbeholpe en half uit konteks. “Daar is koffie en beskuit vir almal en Ousus het beddens opgemaak vir almal. Daisy en Bernard se huis is half die hoofkwartiere...” verduidelik hy bedees en vou sy dik parka toe oor sy kakiehemp en kortbroek.

Daar is nie veel meer te sê nie toe Kathy uiteindelik suksesvol verby die werfhonde en ‘n sestal rokende manne wurm om vir Ousus ‘n drukkie gee.

“Waar is Daisy?” wil Kathy dadelik weet.

“In haar kamer, Kath. Sy praat nie, sy huil nie eintlik nie ... Eintlik doen sy niks behalwe om op haar bed te lê nie. Sy het nog nie eers water gedrink nie, maar elke nou en dan hoor ek hoe sy siek word in die badkamer. Miskien kan jy haar sover kry om iets te eet?”

Daar is skaars lig in Daisy se kamer. Kathy gaan lê styf teen haar vriendin en sit haar arm om Daisy se lyf. Lank is daar net stilte. Dan begin Daisy praat.

“Hy het geweet daar gaan iets gebeur, Kath. Verlede week nog het ons gepraat oor alles wat ons gelukkig maak. Gisteroggend het hy my lank vasgehou en wéér vertel hoe gelukkig ek hom maak. My vertel dat dit die gelukkigste is wat hy sy hele lewe nog was. Ek kon agterkom hy wou nie eintlik vlieg nie, maar hy het sy woord gegee vir die Duitsers. Hulle was so opgewonde – veral hulle vierjarige dogtertjie het geblom oor die vooruitsig om olifante uit die lug te sien. Hulle sou gisteraand oorbly in Botswana. As dit nie daarvoor was nie, het ek dalk saamgevlieg. Maar ek het nie lekker gevoel nie ... Heeltyd naar.”

“My liefste vriendin. Ek weet nie wat om te sê nie. Maar jy kan nie moed verloor nie – hulle soek dan steeds na hulle! Oor minder as ‘n uur is almal weer in die lug...”

“Kath, asseblief! Sal jy aanvaar wat ek nou vir jou sê? Bernard is dood. Hulle is almal dood. Ek weet dit net. Ek voel dit.

“Aanvaar dit en help my om solank daarvolgens reëlings te tref. Ek gaan nie uitmekaarval nie. Ek gaan nie histeries word nie. Ek durf nie.

“Ek is swanger.”

 
 
 

Viewed: 88

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT