ADVERTISEMENT:

 

 
 

123. Daisy en die soektog na haar geliefde (2)

Date: 19 May 2016 By: 

Soos altyd is Kathy die praktiese en nugter een. Daar is min dinge in die lewe wat Kathy van stryk bring. Van kleintyd af is dit juis wat die vriendskap tussen Daisy en Kathy sterker laat groei het.

Daisy is die een wat doen voor sy dink en Kathy die stabiele, versigtige een. En in plaas daarvan dat sy ‘n kalmerende invloed gehad het op Daisy, is Kathy se lewe keer op keer verryk deur elke impulsiewe avontuur wat sy saam met haar alternatiewe vriendin ervaar het.

Kathy neem beheer van etes en verblyf en die bestuur van die gastehuis. In die algemeen probeer sy om enige verdere stres ver weg te hou van Daisy af. Sy het nog geen kommentaar gelewer op Daisy se nuus dat sy swanger is nie. Niks daarvan eers aan Ousus genoem nie.

Die manne kom en gaan. Soek, brandstof, eet, slaap. Daar kom nog by om die soektog te vergroot. Bernard is internasionaal bekend en geliefd voor en agter die Soutpansberg. ‘n Heeltemal ander prentjie van die mense en gemeenskap ontvou vir Kathy. Mense in die stad staan nie so bymekaar nie! Die mense bel nie net nie – hulle kom op die plaas aan; reg om te help. Die vrouens bring kos, die manne kom hoor hoe hulle op die grond bystand kan bied met die soektog.
Daisy sien niemand nie. Sy trek nie eers haar nagklere uit nie.

Kathy hanteer haar soos sy ‘n siek kleuter sal hanteer. Sy maak eenvoudige disse vir Daisy – macaroni en kaas, herderspastei, roereiers. Sy tap vir Daisy badwater in en maak self haar bed op met skoon linne. Wanneer sy ‘n kans kry, gaan lê sy by Daisy op die bed en vertel haar simpel goedjies ... Wie almal kom kuier het, wat hulle saamgebring het, nuusberigte in die Zoutpansberger, snaakse stories van Facebook af. Sy noem niks van die soektog nie, ook nie van die swangerskap nie. En Daisy vra ook nie. Sy rol haar op in ‘n fetusposisie en hou haar kat styf vas. Af en toe kyk sy ou episodes van MasterChef Australia of lees kinderstories.

In die nag klim Kathy vir ‘n rukkie agter die slapende Daisy in en hou haar styf vas. Sy slaap vir twee ure en sluip weer uit kombuis toe om toebroodjies en koffie te maak vir die vlieëniers. Die ligte in die huis is helder en daar is ‘n samehorigheid en geselsery wat amper vrolik is. Maar Kathy weet dis om die vrees en stres van elkeen te besweer. Manne het die manier. Toe almal koers gekry het volgens die dag se plan, maak Kathy Earl Grey tee vir haar en Daisy en vat dit kamer toe...

“Kathy! Kathy!!”
Daar is ‘n geweldige geraas en ‘n getimmer.
“Kathy, Kathyyyyyyy! Maak oop die deur!”
Dis Daisy en Bernard en ‘n toegedraaide bondeltjie wat voor haar deur staan. Kathy kry nie ‘n woord uit nie; dan bevlieg sy vir Bernard en gee hom ‘n lang druk. Sy kyk vir Daisy en dan vir die wriemelende bondeltjie en sak teen die kosyn af tot op die vloer.

“Uhmm, Kathy? Is jy okei?” vra Bernard en vat die bondeltjie wat Daisy vir hom aangee.
“Hei, vriendin, ons het gou hiernatoe gevlieg om ons nuutste baba te kom haal en toe dink ons ons sal jou kom haal vir middagete. Maar ek kan nie kleinkry hoekom jy so tjank nie? En hoekom kry my man so ‘n vuurwarm omhelsing en jy groet my nie eers nie? Nee hel, man...”

“Drank,” prewel Kathy. “Ek het drank nodig.” Sy staan bewerig op en stap na die loodglaskraffie met sjerrie wat op haar koffietafel staan.

Daisy bars uit van die lag. “Kathy ... jý? Jy drink sjerrie op jou nugter maag? Nou’t ek als gesien! Wil jy tee hê, Bernard, of gaan jy my gek vriendin geselskap hou met die sjerrie?” Sy druk haar blonde hare terug agter haar oor en stap kombuis toe.

“Daisy,” sê Bernard. “Ek gaan net gou hierdie goue prinsessie van jou vat vir ‘n stappie in die tuin...” Hy skud die kombersie af en ‘n spierwit, glimlaggende babahondjie kyk nuuskierig rond. Toe Bernard haar neersit, begin sy dadelik rondsnuffel. Bernard kry haar net betyds buite.
“Daisy,” kry Kathy haar stem terug. “Hy leef. Bernard leef!”

Daisy kyk haar aan soos iets wat uit ‘n sirkustent ontsnap het. Soos Kathy haar van haar droom vertel, word Daisy se gesig al hoe prettiger. “Maar daar is nog iets, nê Kath? Dis nie net dat Bernard vermis was nie...”

Toe lag Kathy diep en hartlik. Sy druk vir Daisy styf vas.

“Ja, my liewe Daisy. Ek het eintlik ‘n voorbode gehad oor jou Golden Retriever-baba...”

 
 
 

Viewed: 123

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT