ADVERTISEMENT:

 

 
 

125. Daisy se waardering vir musiek (Deel 1)

Date: 02 June 2016 By: 

Daisy WhatsApp vir Kathy:

“wat doen jy vanoggend? ek en sunshine lê nog onder die duvet en drink tee want dis johannesburg. mens drink tee hier in die oggend. earl grey. bone china en ou familiesilwer. en in die slaapkamer bedien op ‘n butler’s tray ... so wat maak jy?”

Kathy antwoord:
“Werk, daisy. soos almal wat nie ‘n ryk man het nie ... lol!”
D: “Ag kath, moenie so boring wees nie! kom ons gaan doen shopping vanoggend ... ek moet ‘n warm rok kry vir vanaand se gedoente...”
K: “watse gedoente?”
D: “Daai vreeslike duur liefdadigheidskonsert vir dokters sonder grense ... klassieke musiek en lieder en al die neus in die lug geld-adel van jozi ... In een of ander trekkerige kasarm in Pôrktoun...”
K: “wyk satang! ek het nie tyd vandag nie. ek het nie geld vandag nie. ek moet my hare was ... gaan weg!”
D: “aag toe? as jy saamgaan kan jy sunshine vanaand oppas? dan kan sy sommer saam met jou terugry pretoria toe ... of nog beter – slaap sommer hier vanaand?”
K: “daisy ... ek het flippen baie werk. al die nuwe voorraad wat uitgepak moet word ... geprys word...”
D: “maar jy het dan daai oulike assistentjie gekry ... wat is sy naampie nou weer? die een wat eintlik ‘n danser wil wees ... met die blou hare?”
K: “o hêl ... henning? ek is bang as ek als vir hom los, kry hy al sy pêlle vir ‘n opdress paartie ... hy het juis daai een negligee wat dieselfde kleur is as sy hare so geaai...lol!”

Net toe lui Kathy se foon. Daisy se gegiggel is aansteeklik. “Aag, Kathy – partymaal  moet jy ‘n fun baas ook wees! Los nou die liewe engel dat hy sy beenstrekke en pliés met bravura doen. Wat jy nie weet nie kan jou nie pla nie! Dreig hom net met die dood as jou goed iets oorkom en belowe hy kan die mo­del by die volgende stoute partytjie wees as hy hom goed gedra en al die werk klaarmaak vandag. Toe – ek sal vir ons ‘n lekker brêkfis maak dan kry ons sommer Bernard se drywer om ons in Sandton te gaan aflaai en weer oplaai? Amper soos There’s a Gautrein op jou Voorstoep,” lag Daisy uitbundig.
Soos gewoonlik het Kathy nie veel verweer teen Daisy se kombinasie van logika en verleiding nie. “Jy weet net hoe om ‘n girl se Maandag pienk en plesierig te maak, Daisy. Ek sal my GPS herprogrammeer vir Johannesburg...”

Laatmiddag is Daisy en Kathy terug van Die Ekspedisie - soos Daisy enige shopping noem. “Dis soos die arme Scott en die Suidpool,” verduidelik sy.
“Antarktika, Daisy,” help Kathy reg.
“Nee man, Kath ... Dis poetic freedom: Suidpool klink BAIE meer na Sandton. Daar is net meer cougars in Sandton. En dis als hulle skuld dat my voete nou so seer is. Mens kan mos regtig nie jou gemaklikste Crocs aantrek om daar tussen hulle in te vaar nie.” Daisy val op die naaste bank neer en skop haar spykerhakke uit net voordat ‘n bondeltjie wit pels met oorgawe haar platspring en entoe­siasties begin lek.
Shall I leave your purchases in the foyer, Mrs Young?
Ah, mmm ... Yes, that will be fine, Innocent. Thank you very much.” Tersyde mompel sy vir Kathy, “Sal ek ooit gewoond raak aan hierdie styfheid, vriendin?”
Maar Kathy is alreeds besig om met ‘n groot grinnik die pakkies in die sitkamer in te dra. “Waarheen gaan ek al hierdie mooi goed dra, Daisy? Jy gaan beslis vir my ‘n paar blind dates moet reël met Bernard se ryk pêlle!”
“Miskien moet jy maar vanaand saam met Bernard gaan na die ‘soiree’ toe? Dan kan ek en Sunshine vroeg in die bed kruip ... Miskien ontmoet jy sommer ‘n sugar daddy daar,” terg Daisy.
“Dankie, Daisy, maar nee dankie. Dis nou die een deel van jou lewe wat ek nie beny nie. Jy het my heerlik bederf vandag en ek kan nie wag om die nuwe winterpajamas en warm pantoffels aan te trek nie. Maar vanaand het ék ‘n date met Sunshine!”

Net na donker kom meld Innocent aan vir diens. Bernard wag vir Daisy by die kaggel met ‘n glas sjerrie. Kathy en Sunshine lê op die bank onder ‘n kombers en wag vir Daisy om haar opwagting te maak.
En sy doen. In groot en dramatiese styl kom Daisy die sitkamer binne. In al die kleure van oop vlamme: dieprooi, purperpers, hoeranje en nog hoerderpienk met net ‘n titsel poublou. ‘n Skepping in fluweelglans. Haar lippe en naels is rooi; haar silwerwit hare deurmekaar gestapel op haar kop en vasgemaak met haarrekke wat elkeen van die kleure van haar rok reflekteer.
Bernard, Kathy en Innocent is vir ‘n oomblik soos ‘n toneel uit The Matrix. Selfs Sunshine is vir ‘n oomblik doodstil.
“Uhm, wel...” probeer Bernard sy ekwilibrium herwin. “Jy lyk mooi, Daisy. Baie mooi...” is al wat hy uitkry. Innocent kry nie sy mond toe nie en Kathy het ook nie woorde nie.
“Uhm, wel...” probeer Bernard weer. “Ek dink jy gaan dalk koud kry, my mooiste. Toe koop ek vir jou iets warms...” Hy gee ‘n pragtig-toegedraaide boks aan vir Daisy.

(word vervolg)

 
 
 

Viewed: 204

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT