ADVERTISEMENT:

 

 
 

126. Daisy se waardering vir musiek (Deel 2)

Date: 09 June 2016 By: 

Daisy pluk die toedraaipapier af van die verrassingspresent van haar geliefde Bernard.
“En dis nog nie eers ons  huweliksherdenking nie, ou Barries,” skerts Daisy. “Waaraan kan ek my goeie geluk toeskryf?”

“Winter, Daisy, winter. Dit wil my voorkom asof jy reeds volledig geakklimatiseer het daar anderkant die Soutpansberg, my liefste. Al wat ek hoor as ons hier in Johannesburg is, is hoe vrek koud dit is...”

Daisy en Kathy snak gelyk na hulle asems toe Daisy die boks se deksel oopmaak. Binne is pels – dieselfde kleur as Daisy se sil­werblonde hare. Vir ‘n oomblik kan Daisy niks anders doen as om net met haar hand oor die sensualiteit van regte, egte pels te streel nie.

“Haal uit, Daisy,” fluister Kathy skor. “Dit is ongelooflik mooi...” Sy mis die koppige trek om die mond en opstandige oë van haar beste vriendin.

“Bernard ... In hierdie dae van bunny huggers en Greenpeace koop jy ‘n pelsjas vir my? Wil jy nou wragtig hê jou vriende en besigheidsvennote moet die blouaapstuipe kry? Ek verstaan nie hoe jy hierdie kan regverdig nie!” Daisy raak mooi warm onder haar veelkleurige fluweelrok; twee rooi vlamme slaan op haar nek uit.

“Hokaai, Daisy. Stop. Doodstil...” Bernard soen vir Daisy – die vinnigste manier om haar stil te kry.
“Ek is bly dit het jou geflous. Dit sal almal flous ... Dis ‘n namaaksel, my mooiste. G’n arme nertsdiertjie of ysbeer het omgekom in die maak van hierdie warm jassie nie. Belowe.” Bernard lag.
Daisy en Kathy kan nie genoeg kry van die weelderige tekstuur nie. Kathy help Daisy aantrek, maar sy kan haar hande nie afhou van die pelsjas nie.

“Kom, kom Daisy. Kom Innocent. Laat ons ry en die spulletjie gaan beïndruk,” sê Bernard en hy gee vir Daisy ‘n drukkie.

Die volgende oggend vroeg kom kruip Kathy by Daisy in die bed in. Kathy is nog versigtig, maar Sunshine het geen respekte vir iemand wat eers vroeg vanoggend by die huis gekom het nie. Sy spring op die slapende Daisy en begin haar onmiddellik karnuffel vir aandag. Haar vreugde om haar mens-ma te sien is aandoenlik. Die lieflike pelsjas lê uitgesper oor die leunstoel.

“Ek het gereël vir Earl Grey en vars plaatkoekies, Daisy. Hulle bring nou.” Daisy kreun en trek haar kop toe.

“Is daar geen genade vir iemand wat mag laat slaap nie? Ek het gehoop jy sal vir Sunshine besig hou dat ek net so ekstra uurtjie slaap kan inkry, vriendin...” protesteer Daisy onder die duvet uit. Kathy het geen simpatie nie.

“Nonsens, Daisy. Ek het ‘n half­uur om te hoor hoe die soiree was voor ek terugry Pretoria toe. Moet niks uitlaat nie, vertel als.”

Daisy sukkel regop teen die kopstuk van die bed terwyl sy probeer om die wriemelende babahond se pienk tong te ontduik.

“Nie veel om te vertel nie, Kathy. Ek het elke oomblik daarvan gehaat. Daar was ‘n strykkwartet, ‘n pianis en ‘n ou oom met ‘n bewerige stem wat al die liedere na begrafnis laat klink het. Die gemiddelde ouderdom van die gehoor was amper gelyk aan die gemiddelde IK en die gemiddelde diamantkaraat per persoon ... Ag hel tog. Rykes is so voorspelbaar.

“Toe ek instap is daar ‘n man in uniform wat my splinternuwe jas wil vat. En ek weet dis goeie ma­nie­re en als, maar die dêm plek was kouer as die plaas se koelkamer in die jagseisoen! Toe klou ek aan die jas en weier om uit te trek. Nie eers ná die vierde sjerrie nie. Bernard het met die instapslag al verdwyn om met die witboordjie-ooms te gaan gesels...

“Dit was obskure Russiese komponiste, Kathy. Nie eers ‘n klein bietjie Mozart of Liszt of selfs Carl Orrf nie. Net vreemde ge-kattemaai van die klavier en die oom se bewende stem. En toe...”
Daisy begin ongemaklik met ‘n gebreide, wit kombers se tossel speel. “Ja, en toe, Daisy?” vra Kathy geamuseerd. Sy vermoed half hoe die storie gaan eindig.

“Wel, jy sien, hierdie nuwe jassie van my is so snoesig en gemaklik ... Blykbaar het ek net laer in die stoel afgesak. En die eerste wat ek toe weer onthou is toe Bernard aan my skud.

“Blykbaar het ek gesnork,” erken Daisy.

 
 
 

Viewed: 177

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT