ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leandri Muller (links) wat die rol van Bea speel, saam met Dillon Niemann wat die rol vertolk van Thinus in Ses209. By hulle is Wynand Mouton wat die rol vertol van Sam die boemelaar in die parkie en Thinus se vriend.

Nuutste toneelstuk stel gehoor nie teleur nie

Date: 24 August 2015 By: Isabel Venter

Hoërskool Louis Trichardt se nuutste toneelstuk het nie teleurgestel nie. Ses209 is verlede week vir die eerste keer op ‘n plaaslike verhoog opgevoer.

Vir ‘n vlietende oomblik in tyd kruis twee jongmense se lewens mekaar se laslappie-wêrelde, en los diep spore in elkeen se lewens. Ses209 vertel die storie, nie net deur sterk akteurs in die hoofrolle nie, maar ook deur hul minimalistiese gebruik van verhoog rekwisiete en beligting.

Dillon Niemann vertolk die uitdagende hoofrol van die onskuldige free spirit Thinus met sy mussie en boeksak.

Die gehoor leer vir Thinus ken waar hy besig is om sy goeie daad vir die dag te doen en blomme in die parkie te plant en Bea (Leandri Muller) hom daaroor uitvra. Hulle verhouding word gevolg deur ‘n boemelaar, Sam (Wynand Mouton), wat ‘n aspirant musikant en vriend is van Thinus.

Dit is eers later wat die gehoor agterkom dat Bea en Thinus nie die normale seun-ontmoet-meisie-en-toe-bly-hulle-gelukkig-vir-ewig-saam liefdesstorie is nie.

Bea konfronteer vir Thinus omdat hy net verdwyn, en wil hom in sy peetjie stuur as hy nie vir haar wil sê waarheen hy verdwyn nie. Dit is dan wat hy sy donker geheim met haar deel, deur haar te vertel van die laslappiekombers wat hy begin maak het toe hy jonger was.

Regisseur/skrywer Marcel van Niekerk vertel dat Bea en Thinus se storie kom uit ‘n gewaarwording van alledaagse stories van ander mense, wat toe verwerk is tot 'n stuk wat dit weerspieel.

Dillon, wat al sy hare moes afskeer vir die rol van Thinus, vertel dat sy grootste uitdaging was om meer kennis en ervaring op te doen oor pyn. “Ek moes met mense gaan praat en rondvra om uit te vind wat dit is waardeur Thinus gaan,” het hy vertel ná die opvoering verlede week.

“Dan natuurlik my hare ... dit was nóg ‘n groot uitdaging ... ek’s verskriklik lief vir my hare - so lief as wat mense vir hulle selfone is, is ek vir my hare,” het Dillon gesê.

Ses209 het, net soos Thinus se lappieskombers, stukkies wat die gehoor sal laat lag, ‘n traan laat wegpink of sal laat nadink. “Ek wil graag die stuk opdra aan Darrel Mitchell, wat nie meer met ons is nie. Thinus en Bea se storie is dalk nie gebaseer op al die feite van sy lewe nie, maar dit is wel geïnspireer deur sy lewe, en ek hoop Ses209 sal ander mense ook kan inspireer,” het Marcel gesê.

Na afloop van die plaaslike première het Marcel gesê sy spannetjie voel nou meer afgerond en reg vir die komende uitdunrondtes van die ATKV Tienertoneelfees. Die streeksfees word vanaf 17 tot 22 Augustus in Johannesburg aangebied. Indien die groep deurdring, sal hulle aan die nasionale finaal kan deelneem, wat voorlopig tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom aangebied sal word vanaf 6 tot 10 Oktober.

“Ons sien daarna uit ... met ‘n positiewe gesindheid behoort ons bo te kom en weer Aardklop toe te gaan,” het Dillon gesê.

 
 
 

Viewed: 2539

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Dillon Niemann en Leandri Muller in die hoofrolle van Thinus en Bea in Hoërskool Louis Trichardt se drama Ses209.

Dillon Niemann en Leandri Muller in die hoofrolle van Thinus en Bea in Hoërskool Louis Trichardt se drama Ses209.

Dillon Niemann en Leandri Muller in die hoofrolle van Thinus en Bea in Hoërskool Louis Trichardt se drama Ses209.

Leandri Muller vertolk die rol van Bea in Hoërskool Louis Trichardt se nuwe drama, Ses209, wat verlede week vir die eerste keer op 'n plaaslike verhoog te sien was.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT