ADVERTISEMENT

 
 

 

Ophou oefen? Nooit!

Ek moet erken, alhoewel daar gesê word dat die 38-jarige dame aan natuurlike oorsake oorlede is, het die gebeure ‘n vraag in my wakker gemaak: Wat is die vereistes, indien enige, wat aan instrukteurs en fiksheidsentrums gestel word, aangesien hulle met die kosbare lewens van volwassenes en veral kinders werk?

Gemotiveerd om antwoorde te kry, het ek begin navorsing en navraag doen. Vir diegene wat moontlik oor dieselfde gewonder het, wil ek graag die volgende insiggewende inligting deurgee:
Die Nasionale Sport en Ontspan­ningswet  (110 van 1998) gee in­lig­ting ten opsigte van regulasies en standaarde wat deur fiksheidsentrums gevolg kan word. (http://www.etacollege.com/policies/fitness_regulations.pdf)

Fiksheidsentrum kan aansoek doen om deur die SA Fiksheidsraad geakkrediteer te word. Die doel hiervan is om te verseker dat die sentrum en die instrukteurs aan die nodige standaarde voldoen om so­doende hulle self en ook die publiek te beskerm.

Om geakkrediteer te word deur die Raad moet die sentrum en die instrukteurs by REPSSA geregi­streer wees. Om by REPSSA gere­gi­streer te word moet daar aan hulle standaarde voldoen word. Dit sluit onder andere in dat alle instrukteurs ‘n minimum kwalifikasie van ‘n diploma moet hê wat by ‘n geakkrediteerde instansie soos CATHSSETA, QCTO of CHE verkry is.

In ‘n navraag by REPSSA oor of iemand met Cross Fit opleiding (Vlak 1 tot 3) kwalifiseer om deur hulle geakkrediteer te word, het ek die volgende terugvoer gekry: “As an organisation, Cross Fit does not fulfill these REPSSA criteria” en “In order for a trainer to be able to deal with special population e.g. children, they would need to be on a REPSSA ‘Exercise Specialist’ level.”

AfriForum het ook die volgende terugvoer gegee ten opsigte van afrigting van skoolkinders deur Cross Fit instrukteurs: “... Dit is egter baie riskant ... want dit meen dat enige persoon wat aanvoer dat hy iets van sport of oefeninge weet kan kinders afrig en die persoon is nie noodwendig vertroud met die liggaamlike ontwikkeling van leerlinge nie en kan dan meer skade aanrig as goed. Dit is baie belangrik dat skole mooi moet seker maak dat hulle bekwame personeellede het wat ‘n biokinetikus, of sportwetenskaplike of agtergrond het ten opsigte van menslike bewegingskunde ens. wat leerlinge afrig.”

Dan is dit ook ‘n vereiste van REPSSA dat die fiksheidsentrum vir publieke aanspreeklikheid verseker moet wees in die geval van besering of dood, asook versekering vir professionele vrystelling om sodoende die instrukteur te beskerm.

(‘n Plaaslike geneesheer) Dr. Stroebel het voorgestel dat indien jy naby die 40’s is, jy ‘n draai by die dokter gaan maak. Dit is uitstekende raad; inteendeel, volgens REPSSA-standaarde verlang hulle dat elke persoon vir ‘n ‘pre-screening’ (doktersondersoek) gaan voordat hulle toegelaat word om afrigting te kry.

Deur ‘n klein bietjie navorsing te doen voordat ‘n sekere oefenprogram/sport aangepak work, kan jy jouself vergewis oor die moontlike gevare wat dit inhou, byvoorbeeld: “The cross-training program urges exercisers to go harder and faster, all while pushing through their limits. But going too far with these strenuous drills could cause a condition called rhabdomyolysis.”  (http://www.aol.com/article/2014/02/28/doctors-warn-extreme-workouts-have-dangerous-side-effects/20840409/)

Ek is dankbaar dat, ten spyte van die feit dat elke sport sy beserings en sterftes het, daar reëls, regulasies en professionele kwalifikasies in plek behoort te wees sodat ons almal in ‘n veiliger omgewing kan lewe. Dié wat hulle uitspreek dat hulle volgens ‘n sekere waardesisteem lewe moet egter self toesien dat hulle by die regulasies hou. So­doende kan ons op mekaar staatmaak dat dit nie net oor finansies gaan nie, maar ook oor integriteit en liefde vir ons medemens.

- Anoniem (Makhado / Louis Trichardt)

(Brief verkort - Red)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT