ADVERTISEMENT

 
 

 

Leanda le Cornu, uittredende president van die plaaslike Rotary Anns vir 2016/17 jaar, het teruggekyk oor haar komitee se werksaamhede die afgelope jaar:

Ek glo die jaar se tema Rotary Serving Humanity (something we do every time we better the life of somebody) is wat elke Rotary Ann in Louis Trichardt uitgeleef het.

Een fondsinsamelingsprojek het behels ‘n prettige Anns Craft Day wat gehou is aan huis van Diane Bannatyne. Dit was ‘n heerlike oggend wat goed ondersteun was deur die vroue van die gemeenskap, waarvoor die Anns baie dankbaar was.

Die Anns  het ook ‘n welkome bydrae ontvang van die Rotariërs wat hulle in staat gestel het om die toebroodjieprojek van Laerskool Louis Trichardt te ondersteun. Ons het ses keer, vir ‘n week lank, toebroodjies kon voorsien aan 42 kinders by die skool.

Die Anns was ook aktief betrokke by die plaaslike liefdadigheidsorganisasie Bergcare. Ons het hulle ondersteun met die herwin van artikels, tien Kersboksies wat vir bejaardes geskenk is, 30 komberse en hulp en bystand gelewer om ‘n staalhouer (container) te bekom vir Bergcare se kinderhuis wat ‘n werkswinkel nodig gehad het.

Oudergewoonte het die Rotary Anns ook weer hul sop-projek gehad, waarin daar droë sop bestanddele en ‘n vleisie aan Laat Lente en Herfsakker se inwoners oorhandig is. Met die jare het ander diensorganisasies ingekoop en gehelp met die projek.

‘n Donasie is aan Maude Myburgh gemaak om voorraad vir die ambulans aan te koop.

Louis Trichardt se Rotary Anns het ook aan hulle distriksbestuurder, Nadine Daily, se Day Care projek deelgeneem. Opleidingsessies vir Day Care personeel is net buite die dorp gehou. Die Anns het herwinbare items versamel wat ook aan die Day Care groepe uitgedeel is, nadat hulle gewys is wat hulle alles daarmee kan maak. ‘n Verdere sessie word beplan vir Augustus.

Verder het die Anns ook hulp verleen aan die Rotariërs met hul kinderdag, 'n braai by Laat Lente en Herfsakker, 'n senior ete, fietsry en kwartaallikse vergaderings.

Dankie aan elke Ann vir jou ondersteuning deur die jaar en elkeen se bydrae om van die jaar ‘n sukses te maak.  Baie dankie ook aan die Katvoet Restaurant waar ons een maal ‘n maand heerlik kon vergader.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT