ADVERTISEMENT

 
 

 

Mnr. Willie Agenbacht van Louis Trichardt, skryf:

Op Maandagoggend, 5 Oktober, het ons ‘n vriendin Soekmekaar toe geneem vir besigheid en in die proses het ons die hulp van ‘n dokter nodig gekry. Ons het net twee keuses gehad, naamlik om die hele ent pad terug te ry na ‘n plaaslike dokter, of om in daardie omgewing een te probeer kry.

Hoewel effens vergesog, het ons op die tweede keuse besluit. By die vulstasie in Soekmekaar het ek van die joggies probeer uitvind of daar ‘n dokter is, maar kon nie regkom nie. Een van die joggies was besig om ‘n houer agter op ‘n bakkie met brandstof te vul. Die eienaar van die bakkie het besef ek het ‘n probleem en het nader gestaan om te help.

Hierdie vriendelike jong man (ek het ongelukkig nie sy naam gevra nie), het vertel van ‘n dr. Cronjé wat in die oggende sy spreekkamer in Matoks beman en in die namiddae Soekmekaar toe kom. Hy het my haarfyn na die Soekmekaar spreekkamer beduie en ons is daar weg. 

Ek was aangenaam verras om te sien dat hierdie vriend deur gate en slote vol water, my voertuig volg om seker te maak ek kry die spreekkamer. Dít was vir my baie spesiaal! Ek het hom weer bedank en met ‘n gemoedelike “Hoop oom kom reg” het hy vertrek.

By die spreekkamer het ek dr. Cronjé se nommer gekry, hom geskakel en my probleem verduidelik. Hy het dadelik ingewillig om te help en het geduldig die pad na sy spreekkamer in Matoks vir my beduie. Daar gekom, is ons vriendelik gehelp en kon ons terug gaan en dinge in Soekmekaar gaan afhandel. Ek wil net graag vir hierdie twee persone BAIE DANKIE sê. Wat julle gedoen het, mag miskien vir julle doodnormaal voel, maar vir ons het dit baie beteken!

 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT