ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike AfriForum-voorsitter mnr. Wally Schultz (met die plakkaat) voor van die hope vullis wat hy en 'n span vrywilligers Dinsdagoggend bymekaargemaak en weggery het. Morné Mostert, AfriForum se Limpopo koördineerder, neem gou 'n foto.

AfriForum help begraafplaas skoonmaak

Date: 12 October 2015 By: Isabel Venter

AfriForum se “selfdoenprojek” het die afgelope week ook plaaslik begin, maar nie sonder  stampe en stote nie.

Dié burgerregte-organisasie het ‘n 10-dae-lange selfstandigheidsprojek geloods wat poog om ‘n handjie by te sit met die lewering van munisipale dienste in dorpe regoor Suid-Afrika.

Dinsdag het die plaaslike AfriForum-tak die munisipale begraafplaas, aan die einde van Kortstraat, gepak met die idee om dit skoon te maak. “Ek weet watse beslommernis dit is om ‘n geliefde hier te besoek en die begraafplaas is oorgroei en vol rommel ... my eie ma is hier begrawe ... ek wil net hê die begraafplaas moet skoon lyk en ‘n bietjie meer toeganklik wees,” het die plaaslike AfriForum voorsitter, mnr. Wally Schultz, gesê.

Hy en ‘n span vrywilligers was Dinsdag al vroeg op hulle pos, toe munisipale werkers glo hulle planne in die wiele probeer ry het. Volgens Schultz het die Makhado munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, gesê die aksie moet gestop word omdat daar nie toestemming deur die munisipaliteit gegee is nie. “Ons het ‘n brief by sy kantoor gaan aflewer en met die skoonmaak-aksie voortgegaan. Vrywilligers van die hele dorp het kom help en selfs plante by die ingang van die begraafplaas geplant,” het Schultz gesê.

AfriForum se Limpopo koördineerder, mnr. Morné Mostert, het gesê dié tipe aksies is nodig omdat plaaslike regerings hul grondwetlike pligte versuim.

Kort nadat Schultz teruggekeer het van Mutshinyali se kantoor het daar nog ‘n span werkers by die begraafplaas opgedaag met grassnyers en ‘n sleepwa om vullis weg te ry.

Die nasionale “Tien dae van Selfstandigheid”-projek sal tot ‘n einde kom hierdie Saterdag, 10 Oktober.

Inwoners wat wil betrokke raak by Schultz se projekte kan hom kontak by tel. 079 298 2676 of vir sy sekretaris, mnr. Fanie Otto, by 082 574 0585.

 
 
 

Viewed: 2069

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Vrouewerker van die Makhado Munisipaliteit sny die gras Dinsdagoggend in die begraafplaas. Sy en haar medewerkers het volgens AfriForum opgedaag nadat hulle klaar begin het om vullis op te tel in die begraafplaas.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT