ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 28-jarige Rio Potgieter sê dit was net genade van Bo dat niemand in die botsing oorlede is nie.

Nie hul tyd nie

Date: 04 June 2017 By: Andries van Zyl

Van hulle voertuie het daar nie veel oorgebly nie, maar al drie het feitlik ongedeerd uit die wrakstukke geklim. Dit was weereens ‘n bewys daarvan dat as dit nie jou tyd is nie, is dit nie jou tyd nie!

Vir die 28-jarige Rio Potgieter is dit niks anders as genade van Bo dat hy en twee ander motoriste verlede Dinsdag, 23 Mei, die tromp-op botsing op die Dwarsrivierbrug op die N1 naby Matoks oorleef het. Die Zoutpansberger het kort ná die ongeluk, wat omstreeks 06:30 plaasgevind het, foto’s van die ongelukstoneel ontvang. ‘n Leser het die foto’s geneem en die algemene gevoel was dat niemand hierdie “gru-ongeluk” kon oorleef het nie. Die foto’s is op die koerant se Facebook-blad geplaas as ‘n waarskuwing aan motoriste.

Groot was die koerant se verbasing toe hulle uit die bloute ‘n e-pos van Rio ontvang. Iemand het hom op die koerant se Facebook-inskrywing getag. “Almal wat in die ongeluk was, is 100%. Daar was geen beserings nie,” het Rio geskryf.

Die Zoutpansberger het hierdie week by Rio gaan inloer om uit te vind hoe op dees aarde almal uit die wrakstukke kon klim. Rio is die bestuurder by Vencor (ou Madikor) in Louis Trichardt, alhoewel hy in Polokwane bly en daagliks heen en weer ry.

“Jislaaik, ons het vir ons in ‘n ander bloedgroep in geskrik. Die oom wat agter my gery het, het ook gesê hy weet nie hoe ons daardeur gekom het nie,” het Rio gesê. Hy het verwys na oom Nico Bouwer van Bela-Bela. Die ander bestuurder wat betrokke was in die ongeluk, was Agnus Shonisani van Univen. Die ongeluk het ‘n dag ná haar 51ste verjaardag plaasgevind.

Rio het vertel dat hy onderweg na Louis Trichardt was. ‘n Kort entjie agter hom het oom Nico gery. Hulle sou mekaar egter eers na die ongeluk ontmoet. Agnus was op pad in Polokwane se rigting. “Ek dink die son het haar verblind, dit is nou die weerkaatsing vanaf ons windskerms,” het Rio gesê. Die pad maak so ‘n effense draai soos wat mens vanaf Louis Trichardt die Dwarsrivierbrug nader. “Ek vermoed sy kon nie lekker sien hoe die pad draai nie. Ek dink toe sy in die dip is en die son haar nie meer pla van die windskerms af nie, het sy agtergekom sy is nie meer in haar baan nie,” het Rio gesê.

Volgens Rio het Agnus haar voertuig probeer terugruk in haar baan in. Hy het breukdele van ‘n sekonde gehad om die botsing te probeer vermy en het gepoog om regs óm die vrou te ry. Met dié wat Agnus haar voertuig egter probeer terug pluk het, het sy Rio se bakkie feitlik tromp-op op die passasierskant getref. Haar voertuig het weggespat en bykans heeltemal tromp-op met oom Nico se bakkie agter Rio gebots. “Oom Nico sê vir my, toe hy my Dinsdag bel, hy het gesien hoe Agnus se kar, op die volgafstand wat hy gery het, reeds links van my voertuig uitgesteek het kort voor die botsing,” het Rio gesê.

Die impak het Rio se bakkie teen die brug se reëling opgeskiet. Die hele passasierskant van sy bakkie is weggeruk. Sy dak het oopgeskeur en in die proses is sy bakkie se kappie afgeruk. Dié het saam met sy dryfas onder in die droë rivierbedding beland. “Toe sy my geslaan het, het dit gevoel of ek net op die teerpad gly en ek het gewag dat ‘n ander kar my gaan tref. Ek het die hele tyd ‘n tweede impak verwag … ek het gedink my bakkie gaan nou vassteek en rol,” het Rio gesê.

Volgens Rio het alles in stadige aksie gebeur, van die oomblik wat die impak sy lugsakke ontplooi net. “Daardie oomblik wat die lugsakke ontplof, is dit mos net rook en jy kan niks sien nie … dit lyk soos ‘n kar wat brand.” Hierdie vrees vir ‘n brand en tweede impak het Rio oomblikke se angs besorg. “Toe my bakkie tot stilstand kom, wou ek net uitkom … ek wou net uit die pad uit kom. Ek onthou dat ek eers nie my deur kon oopkry nie, want die impak het my enjinkap omgeswaai teen my deur en vasgesteek teen die klippies op die teer. Toe ek eindelik my deur oop kry, voel ek hoe wieg my bakkie. Dit was eers toe dat ek sien ek is op die brug se reëling,” het Rio gesê.

Verstom het die drie bestuurders uit hul wrakke geklim. “Ek sê vir jou, ek was nie eers styf gewees nie. My voorarm was bietjie seer, maar dit was letterlik al wat ek gehad het van die ongeluk,” het Rio gesê. Agnus was eweneens gelukkig. Die lugsak het haar op haar lip geslaan en dié het bietjie gebloei. Nico se knieë was bietjie seer waar hulle die paneelbord getref het, so ook sy bors waar sy veiligheidsgordel hom geruk het. “Uiterlik het die oom nie eers ‘n skrapie gehad nie,” het Rio gesê.

Rio het gesê dat die ongeluk hom nuwe respek vir die moderne voertuig gegee het. Hy en oom Nico het albei Ford Rangers gery. Agnus was op reis in haar Honda CRV. Al drie het hulle veiligheidsgordels aangehad. “Ek was baie beïndruk met haar voertuig. Toe ek om haar wrak stap, het ek gesien hoe hulle staal pype in die deure ingesit het om die kar te verstewig. Onthou, sy het my en die oom geslaan en nog steeds uit haar kar uitgeklim en feitlik niks makeer nie,” het Rio gesê. Hy was eweneens beïndruk daarmee om lewendig uit sy bakkie te klim. “Dit was ‘n groot impak gewees … Regtig, al wat jy tweedehands van my hele bakkie kan gebruik is die sitplek waarop ek gesit het ... selfs die agterste ligte is stukkend,” het Rio gesê. Hy het intussen sy nuwe Ranger al bestel.

Rio sê hy het sy hele lewensuitkyk ná die ongeluk verander. “Ja, ek het ‘n kleintjie wat nou sestien maande oud is … ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie, maar my vrou praat met een van die ouens wat saam met my werk en die ou sê vir haar dit wys jou die kleintjie het nog ‘n pa nodig gehad. Definitief het die ongeluk my lewensuitkyk verander. As jy nie geglo het nie, glo jy nou,” het Rio gesê.

 
 
 

Viewed: 1733

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die verwronge wrak van die 51-jarige Agnus Shonisani se Honda CRV. Al besering wat sy opgedoen het, was ‘n sny aan die lip. Foto verskaf.

Nico Bouwer van Bela-Bela staan by die wrak van sy bakkie nadat Agnus se voertuig hom tromp-op getref het. Foto verskaf.

Dit is moeilik om te glo dat Rio Potgieter lewendig uit hierdie bakkie geklim het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT