ADVERTISEMENT:

 

 
 

Lede van die Soutpansberg Dorpswag moes inderhaas ook hand bysit om die vlamme by Rocket Plastics onder beheer te bring.

Streek in vlammehel

Date: 17 September 2017 By: Isabel Venter

Wegholveldbrande het die afgelope week, te midde van ‘n totale brandverbod op die maak van oop vure, miljoene rande se skade aangerig.

Die eerste brand het verlede Woensdag (6 September) uitgebreek by ‘n privaatwoning in Buffelstraat. 'n Grasdak lapa het aan die brand geraak, vermoedelik nadat die wind vonkies van die gesin se nabygeleë braai-area (vuurpit) opgeskep het. Die vlamme is onder beheer gebring voordat dit versprei het na die huis. Die volgende oggend het die vlamme egter weer opgesteek en moes die brandweer inderhaas weer uitgekry word. Daar was ‘n paar benoude oomblik vir die huiseienaars gewees toe die brandweer van die dakteëls op hul huis moes lig om te voorkom dat die dakkappe aan die brand slaan.  

‘n Dag later het ‘n soortgelyke lot Elize Erasmus en haar gesin getref, toe hulle lapa langs die huis ook aan die brand geraak het. Erasmus sê dit was ‘n vieslike ervaring om 03:00 wakker te word en sien hoe brand alles af. Hulle woon sowat 10km noord van Louis Trichardt in die berg. Die lapatjie staan so entjie eenkant van hul huis af. “Eintlik is dit net Gods genade dat dinge nie erger uitgedraai het nie,” het Erasmus ná die voorval gesê. Hulle is egter nie seker oor die oorsaak van die brand nie. Vermoedelik het ‘n balk aan die brand geraak van die braaivleisvuur of dalk was daar ‘n elektriese kortsluiting.

Die brand is geblus nadat familie en vriende begin het om die vlamme dood te spuit met die tuinslang. Wouter Meintjies en Francois Pieterse, van die omliggende plaaswagstruktuur het ook bakkies wat toegerus is met noodtenks gebring om die vlamme finaal te blus. “As ek vandag nabetragting doen en sien hoe naby ons aan ‘n tragedie was, kan ons net die Hemelse Vader dank vir die wonderwerk,” het Erasmus gesê.

Sondagaand het ‘n massiewe veldbrand by Bandelierkop ontstaan. Die brand sou later die Last Post Lodge, asook die plaas waarop dit geleë is, tot op die grond afbrand. Hierdie brand, wat vermoedelik doelbewus deur onwettige jagters gestig is, het miljoene rande se skade veroorsaak.

Volgens mnr. Gert Reynecke, ‘n plaashuurder by Last Post, het ‘n wag alarm gemaak toe hy twee onwettige jagters op die plaas gewaar het. Die jagters het op die vlug geslaan en so in die hardloop toe ‘n stuk van die veld aan die brand gesteek. Volgens Reynecke is onwettige jagters  ‘n groot probleem in die hele Bandelierkoparea. Die onwettige jagters het blykbaar openlik oorlog verklaar teen die boere en grondeienaars. “Ons inligting wat ons gekry het is dat die stropers kwaad is omdat die plaaswag en polisie onlangs ‘n groot operasie gehad het om onwettige jag ‘n nekslag toe te dien. Nou het die stropers gesê hulle gaan die plase aan die brand steek, sodat die wild kan weghardloop en hulle dit dan iewers anders kan gaan jag,” het Reynecke gesê.  

Nadat daar Sondag hulp ontbied is, is die vlamme by Last Post aanvanklik onder beheer gekry. Die vuur het egter weer Maandagoggend momentum gekry weens ‘n sterk wind en teen middagete totaal en al buite enige iemand se beheer geraak.  Daar kon net hulpeloos toegekyk word hoe alles afbrand. Brandweerwaens van so ver as Polokwane en Thohoyandou is gestuur om te probeer help.

Buiten vir die Lodge het die vuur ook sowat 800ha weiding verswelg. Die skade kan derhalwe meer as R6 miljoen beloop. Klein gedeeltes van aangrensende plase is ook geraak deur die vuur.

Die Bandelierkop Plaaswag het ook Maandag inligting ontvang van ‘n naamlose ooggetuie wat gesien het hoe die vyf insittendes van ‘n silwer Mazda BT50 glo op twee plekke langs die N1-suid (sowat 28km van Louis Trichardt) die veld langs die pad aan die brand steek. Dié voertuig het egter nie ‘n registrasienommer gehad nie.

Terwyl daar gespartel is om Maandag dié brand by Last Post onder beheer te kry, het Rocket Plastics in Van der Lithstraat in Louis Trichardt ook in vlamme opgegaan. Ook hier moes die plaaslike brandweer, inwoners en lede van die Soutpansberg Dorpswag verwoed spook om die brand onder beheer te kry. Ongelukkig het die vlamme die perseel verswelg en totaal in puin gelê. Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.

Die hoof van die Makhado Brandweerstasie, mnr. Jack Ramalotsho, meen egter dat die brande, afgesien van die twee grasdaklapas wat afgebrand het, hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die feit dat inwoners nie besef dat daar ‘n brandverbod in plek is nie. Genadiglik het Ramalotsho gesê het hulle nog nie met ‘n brand te doen gekry waarin iemand ernstig beseer is nie. Hy het inwoners streng daaraan herinner dat daar ‘n totale brandverbod op die maak van oop vure is, wat reeds vanaf Augustus van krag is. Tradisioneel geld dié verbod tot en met die einde Oktober of tot die eerste goeie reën van die seisoen geval het. Ramalotsho het ook verder gevra dat inwoners dringend aandag moet gee aan hul eiendomme en moet seker maak dat daar nie enige lang grasse of rommel rond lê wat maklik aan die brand kan raak nie.

 

 
 
 

Viewed: 2220

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Wegholveldbrand het nie net 800ha se weiding afgebrand nie, maar ook die Last Post Lodge by Bandelierkop in puin gelê. Foto verskaf.

Vlamme en rook verswelg die Last Post Lodge naby Bandelierkop. Foto verskaf.

Elize Erasmus se lapa het Saterdagoggend afgebrand. Foto verskaf.

Elize Erasmus se lapa het Saterdagoggend afgebrand. Foto verskaf.

Dit is 'n aardige gevoel, het Elize Erasmus gesê, as jy drie-uur in die oggend wakker word en sien hoe brand jou lapa af. Foto verskaf.

Phineas Malanage van die Makhado Brandweerstasie besig om die vlamme Maandag te blus by die perseel van Rocket Plastics in Van der Lith-straat.

Phineas Malanage van die Makhado Brandweerstasie besig om die vlamme Maandag te blus by die perseel van Rocket Plastics in Van der Lith-straat.

Phineas Malanage van die Makhado Brandweerstasie besig om die vlamme Maandag te blus by die perseel van Rocket Plastics in Van der Lith-straat.

Phineas Malanage van die Makhado Brandweerstasie besig om die vlamme Maandag te blus by die perseel van Rocket Plastics in Van der Lith-straat.

Rocket Plastics in die industriële area van Louis Trichardt was een van vele eiendomme wat die afgelope week in die streek beskadig is deur brande.

Lede van die Soutpansberg Dorpswag moes inderhaas ook hand bysit om die vlamme by Rocket Plastics onder beheer te bring.

Die kuierarea van 'n woning in Buffelstraat is verlede week ook in puin gelê.

Die kuierarea van 'n woning in Buffelstraat is verlede week ook in puin gelê.

Die kuierarea van 'n woning in Buffelstraat is verlede week ook in puin gelê.

Die kuierarea van 'n woning in Buffelstraat is verlede week ook in puin gelê.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT