Martin en sy vrou Barbara (links) en Mavis en Khathu Muthandzwi (regs) afgeneem by die 80-jarige oom Ockert Maritz in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Foto verskaf.

Ware naasteliefde

Date: 27 September 2020 By: Andries van Zyl

Viewed: 8567

Sekerlik een van die mooiste verhale van omgee en naasteliefde oor die kleurgrens heen het homself die afgelope week in die Soutpansberg afgespeel. Dit is die verhaal van oom Ockert Maritz wie se lewe deur ‘n wildvreemde egpaar gered is.

Oom Ockert, ‘n inwoner van Pretoria, het op die rype ouderdom van 80 jaar besluit om bietjie alleen in die Kruger Nasionale Wildtuin te gaan kuier. Verlede Donderdag was hy op pad terug huis toe, toe die noodlot hom tref.

Oom Ockert het met sy motor op pad vanaf die Pafuri-hek ‘n slaggat op die R525 getref. In die proses het ‘n band gebars, maar omdat sy motor “run-on-flats” bande op gehad het, het hy so ver as moontlik probeer aansukkel. ‘n Paar kilometer vanaf die Tshipise-vakansieoord is hy egter geforseer om van die pad af trek.

Gelukkig het oom Ockert selfoonontvangs gehad en kon hy met sy versekeraar reël dat sy voertuig ingesleep word. Omdat oom Ockert egter “in die middel van nêrens” gestrand was, is hy meegedeel dat die insleepvoertuig ‘n geruime tyd sou neem om daar uit te kom. Hiervoor was oom Ockert nie voorbereid nie. Die dag was besonder warm, en te midde van die wag het oom Ockert hitte-uitputting gekry en in sy voertuig sy bewussyn verloor.

“Ons het verby sy voertuig gery en ek het besef daar is groot fout. Ek het vir my man gesê om dadelik om te draai.” So vertel mev. Mavis Muthandzwi, ook van Gauteng. Sy en haar man, Khathu, was toevallig dieselfde dag, op dieselfde pad, ook op pad terug huis toe.

Mavis het vertel dat sy gesien het hoe oom Ockert halflyf aan die passasierskant van sy voertuig uithang. Ander voertuie was reeds op die toneel, maar omstanders het net by oom Ockert se voertuig gestaan en na hom gekyk. “Niemand het iets gedoen nie,” het Mavis gesê.

Mavis en haar man het gestop en hulle na oom Ockert gehaas. Dit was so net ná 12:00, die warmste deel van die dag. “Hy was semi-bewusteloos en het glad nie op vrae gereageer nie. Hy het nie geweet waar hy is, of wie hy is nie. Hy kon glad nie beweeg nie,” het Mavis gesê. Intussen het die ander mense op die toneel begin wegry.

Mavis het dadelik die 112-noodnommer geskakel, maar is ingelig dat geen ambulans in die omgewing beskikbaar was nie. Sy het toe die nommer van die bestuurder van die nooddienste op Mutale in die hande gekry en hom geskakel om uit te vind of hulle in die moeilikheid sou kom indien hulle oom Ockert self na ‘n hospitaal sou neem. Die bestuurder het gesê hy voorsien geen probleme daarmee nie.

Mavis-hulle het op oom Ockert se selfoon in sy voertuig afgekom en gelukkig was dié nie met ‘n geheime kode gesluit nie. Sy het toe een vir een die nommers daarop begin skakel, totdat sy oom Ockert se seun, Martin, in Pretoria in die hande gekry het.

Mavis het Martin ingelig dat hulle sy semi-bewustelose pa in sy voertuig langs die pad gevind het en dat hulle van plan is om hom self deur te jaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal op Louis Trichardt, meer as ‘n uur se ry verder. Aangesien geen ambulans beskikbaar was nie, het Martin dankbaar hiertoe ingestem.

In daardie stadium het die insleepvoertuig op die toneel opgedaag. Dié wou oom Ockert se voertuig na Thohoyandou sleep, maar Mavis het daarop aangedring dat sy voertuig na Louis Trichardt gesleep word. “Daar was geen rede vir die voertuig om na Thohoyandou gesleep te word nie. Dit sou net ekstra moeite en koste wees vir oom Ockert om weer sy voertuig te kry,” het Mavis gesê. Hulle het toe gereël dat sy voertuig na Baobab Bande op Louis Trichardt gesleep moet word, waarna hulle oom Ockert en sy persoonlike besittings oorgelaai het in hulle voertuig en haastig na Louis Trichardt vertrek het.

“Martin het my by my werk geskakel en vir my gesê ek moet dadelik gereed maak, hy kom my nou haal,” het oom Ockert se skoondogter, Barbara, gesê. Net voor 14:00 het Barbara-hulle uit Pretoria begin ry, nadat Martin haar vertel het wat gebeur het.

Met Mavis-hulle se aankoms by die Zoutpansberg Privaathospitaal het hulle geweier om oom Ockert alleen te los voordat sy seun arriveer. Hulle het ook gehelp om oom Ockert te laat opneem, nadat hulle vasgestel het dat oom Ockert ‘n mediese fonds het. “Ek moet sê, die personeel was uiters behulpsaam en professioneel gewees. Die empatie waarmee hulle die situasie hanteer het, was ongelooflik,” het Mavis gesê.

Mavis-hulle het ná gesprek met Martin uit hul eie sak solank die deposito betaal wat nodig was, sodat oom Ockert opgeneem kon word.

Die insleepvoertuig het intussen oom Ockert se voertuig by Baobab Bande besorg. “Ons wou nie hê oom Ockert moes die volgende dag sukkel om sy voertuig te kry nie,” het Mavis gesê. Hulle het toe ook die R3 500 vir die herstel van die band uit hulle sak betaal en besluit om sy voertuig na die privaathospitaal te neem. Mavis het ook uit hulle sak vir hulle en Martin-hulle oornag-akkommodasie by ‘n plaaslike gastehuis bespreek. Dit het begin laat word en Mavis-hulle het besef dat niemand van hulle weens die Covid-19 aandklokreël daardie aand na Pretoria sou kon terugkeer nie.

Soos die toeval dit wou hê, het Martin-hulle net by die dorp ingekom toe Mavis by Baobab Bande weggetrek het. “Ons het letterlik agter haar gery,” het Barbara gesê.

By die hospitaal aangekom, het hulle gevind dat oom Ockert se toestand so merkwaardig verbeter het dat hy die aand 21:00 ontslaan kon word. Hy en Martin het toe vir Mavis en Khathu uit dankbaarheid uitgeneem vir ete en sommer ook dadelik alle kostes wat die egpaar aangegaan het, terugbetaal. Vrydagoggend het almal weer huiswaarts gekeer, met Mavis-hulle wat nog geskakel het om te hoor of oom Ockert-hulle darem nou hierdie keer veilig by die huis aangekom het.

“Weet jy, om dit in ‘n neutedop op te som, dit herstel jou geloof in die mensdom. In my opinie is niemand ‘n slegte mens nie. Almal het goed en sleg in hulle, dit hang net af van daardie persoon se besluit wat hulle wil wees. Ek is geneig om die goeie in mense te sien en hierdie mense was definitief twee engele. Ons kon nie gevra het vir beter mense nie. Hulle het al hulle planne opsy gesit om my pa te help,” het Barbara gesê na aanleiding van Mavis en Khathu se onbaatsugtige optrede. “My pa het sommer vir hulle gesê hulle is nou deel van die familie,” het Barbara bygevoeg. Sy het ook groot lof gehad vir die administratiewe en mediese personeel by die privaathospitaal vir die verskriklik baie moeite wat hulle met haar skoonpa gedoen het.

Mavis-hulle is op hulle beurt baie beskeie oor hul ongelooflike weldaad en het gesê oom Ockert-hulle se dankbaarheid is vir hulle genoeg.  “Dit is nie iets wat ons gereeld doen nie. Ons het net besef ons moet help. Ons kon nie net verby ry nie. Oom Ockert het regtig ernstig hulp nodig gehad in daardie stadium ... dit het vir ons gegaan oor medemenslikheid,” het Mavis gesê. Sy het in ligter luim opgemerk dat sy vir oom Ockert gesê het dat hy regtig te oud is om op sy ouderdom nog alleen rond te ry.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...