ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 12-jarige Leander Schoerie op sy duur koolstofvesel fiets kort voor die wegspring van die 35 km Keremetart-wedren Saterdag. 'n Paar uur later sou iemand die fiets steel, maar gelukkig kon die fiets weer op wonderbaarlike wyse opgespoor en teruggevind word. Foto verskaf.

Gesteelde fiets weer 'gered'

Date: 17 June 2022 By: Andries van Zyl

Die opwinding van die gewilde Kremetart-fietsrynaweek het Saterdag in ‘n oogwink in ‘n nagmerrie verander vir ‘n 12-jarige Graad 7-leerder van Laerskool Louis Trichardt toe iemand sy baie duur koolstofvesel (carbon fibre) fiets gegaps het. Dat die verhaal ‘n gelukkige einde gehad het, is bloot te danke aan gebed.

Leander Schoerie het die Saterdagoggend heel entoesiasties deelgeneem aan die 35 km -wedren, en daarna ook aan die Kiddies Race – hoe dan anders, want sy hele familie ry fiets en almal is mal daaroor, veral ouboet Xandrich (15), ‘n Graad 9-leerder by Hoërskool Merensky. Die volgende oomblik was sy fiets weg!

Haastig het sy ma Lizelle begin rondry en soek. ‘n Foto van Leander op sy fiets kort voor die 35-km wegspring is ook op sosiale media gesirkuleer, maar teen Saterdagaand is nog geen goeie nuus ontvang nie.

Kremetart organiseerder Stanley Thompson hervat die storie. Volgens hom het die verhaal twee helde, een van hulle die welbekende plaaslike Kombo Bere. Kombo is ‘n professionele fietsryer wat geweldig baie doen vir fietsry-ontwikkeling onder jong kinders in minder-gegoede gemeenskappe in en om Louis Trichardt as deel van Soutpansberg Youth Cycling Development (SYCD).

Stanley vertel hoe hy, Kombo en hulle span helpers Sondagoggend terug is na Hoërskool Louis Trichardt se Leeupark, waar die Kremetart se aktiwiteite aangebied is, om op te ruim. Daarna is hulle terug na Stanley se huis toe Formule 1 te gaan kyk, waarna middagete geniet is. Stanley het toe vir Kombo by sy huis gaan aflaai. Toe hulle daar aankom, staan een van Kombo se jong seuns van Tshikota daar wat saam met die SYCD-groep oefen. “Kombo! Kombo! I have your bike!” was die eerste woorde uit die jong seuntjie se mond toe hy vir Kombo sien.

Die jong seun, die ander held in die verhaal, het ook gehoor van die gesteelde fiets en, volgens Stanley, het hy die fiets Sondagoggend by ‘n sokkerwedstryd in Tshikota gewaar. ‘n Ander jong seuntjie was besig om met die fiets te ry.

“Ons is toe na dié seuntjie se huis toe,” het Stanley gesê.

Daar aangekom was die fiets nie daar nie, maar wel die jong seun. Stanley-hulle het toe uitgevind dat hy nie die fiets gevat het nie, maar dat ‘n ouer seun vir hom die fiets gegee het om tydens die sokkerwedstryd mee rond te ry. “Sy ma het hom goed oor die kole gehaal oor die vriende waarmee hy homself ophou!” het Stanley gesê.

Gelukkig het die jong seun se sussie die ouer seun wat die fiets gevat het geken en die groep “speurders” is daar weg na die ouer seun se huis toe in die “ou dorp”. Daar aangekom was beide hy en die fiets daar. “Dit was weer ‘n geval van geen pa of oupa in die huis nie, net ‘n ma en ouma en ‘n klomp kinders,” het Stanley gesê. Toe hulle die seun vra hoekom hy die fiets gesteel het, het hy bloot geantwoord dat hy ook graag wil fietsry. Die verklaring wat die seun, ‘n leerling by ‘n plaaslike hoërskool, gegee het, was dat die fiets vir bykans 45 minute eenkant gelê het, waarna hy besluit het om dit te vat.

Veral die seun se ouma was woedend. Volgens Stanley het sy hom goed die Leviete voorgelees! “Sy het vir hom gevra of dit die manier is waarop hy haar terugbetaal vir ‘n plek om te bly en kos om te eet.”

Teen daardie tyd het die seun klaar begin om die fiets agter rooi te verf – selfs die ketting en remme!

“Ons gaan die fiets nou stroop en skoonmaak en teruggee vir die klein Schoerie,” het Stanley gesê.

Leander se familie het besluit om ‘n beloning te betaal vir die jong seun van Tshikota wat die fiets gesien het en vir Kombo daarvan kom vertel het. Hy het letterlik die hele Sondagmiddag op sy fiets rondgery op soek na Kombo!

Oor die seun wat die fiets gesteel het se lot het Stanley, Kombo en die Schoerie-familie besluit om nie die mannetjie krimineel aan te kla nie, omdat hulle hom nie wil laat kriminaliseer nog voordat hy skool klaargemaak het nie. “Tussen my en Kombo het ons besluit ons het nog ‘n fiets. Ons sal die fiets vir daardie mannetjie gee, maar hy gaan vir ons gemeenskapsdiens doen. Hy gaan al die Kremetartborde begin afhaal en die Akkedis (bergfietswedren) se roetes begin oopkap. So hy gaan letterlik elke middag van 14:00 tot 17:00 vir ons werk,” het Stanley gesê.

Die gemeenskapsdiens vind plaas onder toesig van die polisie as deel van hulle rehabilitasieprogram, wat opvolgbesoeke by die seun se huis en skool om sy gedrag te monitor sal insluit. Dit het reeds ‘n besoek aan die polisieselle ingesluit om vir die seun te wys wat vir hom wag as hy op die verkeerde pad bly.

“Die held in hierdie verhaal is Kombo Bere en die goeie werk wat hy as deel van SYCD doen. Dit was danksy sy goeie werk en verhoudings wat hy opgebou het in omliggende gemeenskappe. Dit is ‘n suksesverhaal, maar nege uit 10 kere draai dit nie so uit nie,” het Stanley gesê.

“Ek dink hy [Leander] was banger vir ‘n pakslae as die hartseer oor sy fiets wat weg is,” het Lizelle Dinsdag skertsend aan die Zoutpansberger gesê. Hulle is baie dankbaar dat die fiets teruggevind is.

“Ek dink sy ouboet [Xandrich] was hartseerder oor die fiets. Xandrich is baie entoesiasties oor fietsry en daardie was sy eerste ordentlike fiets wat hy gekry het. Dié fiets het hom ver [in fietsry] gebring en hy het baie sentiment oor die fiets,” het Lizelle gesê;

Leander is egter baie verlig dat die fiets teruggekry is, want hy geniet dit om met hierdie fiets te ry.

“Wat ek graag wil hê julle moet noem, is dat die oomblik toe ons agterkom die fiets is weg, het ek net die heeltyd geloop en bid en gevra dat die Here ons genadig sal wees en asseblief vir ons die fiets sal terugbring. Dit is regtig ‘n duur fiets en nie ‘n R3 Game fiets nie,” het Lizelle gesê. Hulle het dadelik begin rondry op soek na die fiets en die boodskap orals verkondig.

“Daardie volgende oggend [Sondag] vyfuur het ek wakker geword met ‘n rustigheid in my hart. Ek het ‘n gevoel gehad in my hart dat Stanley Sondagaand vir Xandrich gaan probeer bel, maar dat hy nie gaan antwoord nie en dan gaan Stanley vir my bel om te sê hulle het die fiets gekry. Toe my foon Sondagaand halfsewe lui en my man sê vir my dit is Stanley, toe weet ek dat dit gaan presies gebeur soos wat ek glo die Here daardie vrede in my hart geplaas het. Toe ek die foon antwoord, toe sê Stanley vir my hy het vir Xandrich probeer bel, maar sy foon lui nie en dat hy net vir ons wil sê hulle het die fiets gekry,” het Lizelle gesê. Sy glo vas die Here se hand was in die manier wat die fiets teruggekry is. “Daar is krag in gebed!” het Lizelle gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1122

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT