ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 59-jarige Jaco Basson, wat noodlottig gewond is tydens ‘n gewapende roof in Gauteng Sondagoggend. Foto verskaf.

Rugbywêreld geruk met nuus van sinnelose moord

Date: 16 November 2023 By: Andries van Zyl

Die plaaslike rugbywêreld is vir die soveelste keer hierdie laaste paar weke stomgeslaan deur die nuus van die ontydige dood van die 59-jarige Jaco Basson, voorheen van Levubu waar hy geboer het en instrumenteel was in die opbou van die Levubu Rugbyklub.

Basson is Sondagoggend dood ná ‘n gewapende roof in Winterveld naby Soshanguve buite Pretoria. Sy dood volg kort op die hakke van twee ander plaaslike rugbylegendes van die Soutpansberg die afgelope maand, Buffel du Preez (68) en Tjorra Nagel (56), wat beide aan natuurlike oorsake oorlede is. Dan was daar ook die 28-jarige De Necker van Schalkwyk, ook ‘n voormalige lid van die Louis Trichardt Rugbyklub, wie se liggaam op 11 Oktober met ‘n skietwond net buite Hermanus gevind is. Die omstandighede rondom sy dood is steeds duister.

Volgens Basson se suster, Rialta van der Mescht, het Basson en ‘n vriend van hom, Joe Burger, na ‘n voertuig gaan kyk wat deur ‘n persoon van Winterveld op Facebook se Marketplace geadverteer is.

“Hulle het by die adres aangekom. Toe hulle die ou bel, sê hy vir hulle Google het hulle na die verkeerde plek gevat. Hulle moet daar wag, hy stuur sy kind om hulle te kom haal. Daar kom toe ‘n jongetjie daar aan, klim in die bakkie saam met hulle en vat hulle toe na ‘n tweede perseel toe,” het Van der Mescht gesê.

By die tweede adres aangekom, is ‘n soektog na sleutels en goed geloods en Jaco-hulle is gevra om geduldig te wees. Jaco het volgens Joe opgemerk dat iets nie lekker voel nie, waarna Joe uitgeklim het en agter Basson se bakkie gaan staan het om te kyk wat aangaan. Hy het ‘n sigaret aangesteek en gesien iemand kom nader gestap.

“Die volgende oomblik, toe klap die skoot,” het Van der Mescht gesê. Net so is Basson in sy regtersy geskiet terwyl hy agter sy bakkie se stuurwiel gesit het. Hy het nie ‘n woord gesê of eers geskreeu nie.

Toe die skoot klap, het chaos uitgebreek. Burger is oorrompel en ernstig aangerand. Hy is sleg geskop en geslaan. In die proses is Burger se vuurwapen by hom afgevat. Daarna het die aanvallers al die waardevolle items uit die bakkie gevat.

“Joe het nog op die grond gelê met die een ou se voet op sy kop, toe sê hulle vir hom ‘Get up!’ Hulle het vir Jaco op die agterste sitplek gelaai en vir Joe gesê, met aanwysings na die naaste kliniek toe, ‘You better go, your friend is dying’. Toe gee hulle die bakkie se sleutel vir hom,” het Van der Mescht gesê. Basson is egter met sy aankoms by die kliniek in Winterveld dood verklaar. Burger moes ook mediese behandeling ontvang. “Dit was maar ‘n paar kilometer kliniek toe, maar dit was te laat gewees,” het Van der Mescht gesê.

Van der Mescht het die moord op haar broer as onverwags en onnodig bestempel. “Hy sou nie ‘n vlieg skade aangedoen het nie. Hy het in die goedheid in elke mens geglo,” het sy gesê. Rugby was sy lewe gewees en volgens Van der Mescht moes sy naam eerder Jaco Rugby gewees het as Jaco Basson.

Vir Basson se kinders is sy dood eweneens ‘n groot skok. “Dit is nie lekker nie. Dit is maar ‘n moeilike pil om te sluk. Die oggend is rof, maar soos die dag aangaan, is mens bietjie beter. Dit gaan maar op en af vir ons,” het Basson se oudste seun, Brandon, gesê.

Boodskappe van medelye aan die familie stroom sedert Basson se dood vanuit alle oorde in. Alhoewel Basson in 2006 reeds met sy familie vanaf Levubu na Pretoria verhuis, het hy steeds gereeld gesig gewys in die Soutpansberg, soos tydens die jaarlikse Conway Rugbydae. Hy is ‘n voormalige voorsitter van die Pretoria Rugbyklub en was ten tye van sy dood die direkteur van rugby by die klub. In ‘n Facebook-plasing het dr. Eugene Hare, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, sy skok uitgespreek oor Basson se ontydige dood. “Ek sukkel om woorde te kry om uitdrukking te gee aan my emosies oor hierdie tragedie. Jaco was so ‘n onselfsugtige siel gewees wat soveel vir rugby gedoen het, veral by die Pretoria Rugbyklub die laaste paar jaar. Wat my altyd van hom opgeval het, was hoe onselfsugtig hy opgetree het – altyd bereid om sy tyd en energie te deel, ‘n skatkis van kennis tot bevordering van die sport. Jaco het nooit gesê ‘Ek het dit gedoen’ nie, maar altyd ‘Ons het dit gedoen’,” het Hare gesê.

‘n Roudiens vir Basson vind Sondag, 19 November, om 11:00 by Riverside Venue in Kameeldrift, Pretoria, plaas. Hy word oorleef deur sy vrou Kay, kinders Brandon, Torros, Sheralee (De Klerk) en Ashleigh (Kruger), broers en susters Johann, Rialta en Melanie (Louw), en vyf kleinkinders.

Van der Mescht het ter afsluiting die publiek gevra om versigtig te wees om te reageer op advertensies wat of sosiale media geplaas word soos op Facebook se Marketplace. In baie gevalle is dit ‘n slenter, wat in hierdie geval ‘n noodlottige einde gehad het. “Hierdie tipe misdaad is ‘n probleem daar. Die sersant by die polisiestasie het uitgekom en my gevra dat ons sover moontlik op sosiale media mense moet waarsku om nie te val vir sulke slenters nie. Veral in daardie area gaan dit wild,” het Van der Mescht gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1461

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT