ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Vic Viljoen (76). Foto verskaf.

Vic Viljoen was ‘n mentor vir ander tot op die einde

Date: 30 November 2023 By: Pétria de Vaal

Huldeblyke stroom in vir Victor Viljoen (alombekend as Vic of Viljoen) ná sy afsterwe op 22 November 2023. Hy is op 13 Oktober vanjaar in Die Wilgers Hospitaal opgeneem.  Volgens sy dogter, Anri Viljoen, het sy gesondheid sedert Desember 2022 begin agteruitgaan, nadat hy ‘n beroerte gehad het.

“Hy was ‘n harde werker. My pa het nooit regtig opgehou werk nie. As mense hom gevra het wanneer hy gaan aftree, het hy altyd geantwoord, ‘I'll die in the saddle, like a cowboy’ en dit was regtig die geval,” vertel Anri.

Menige inwoner sal vir Vic onthou wat by twee verskillende geleenthede diep spore by die munisipaliteit in Louis Trichardt getrap het.

Vic is op 17 Januarie 1947 in Heidelberg, Transvaal, gebore. Hy was in Heidelberg en Dunnottar op laerskool en het gematrikuleer aan die Hoërskool Nelspruit. Hy het al sy studies buitemuurs deur UNISA voltooi en het hom veral toegespits op munisipale bestuur, finansies en BCom Rekeningkunde. Vic is aangewys as een van die top drie studente in rekeningkunde op derdejaarsvlak.

Vic se eerste betrekking was as meterleser by Vereeniging Munisipaliteit vanaf 1966 tot 1969. Daarna het hy ‘n pos as aflos-klerk gekry. Hierna was hy in Sandton by die munisipaliteit werksaam vanaf 1969 tot 1970.

“My pa het my ma, Marthie (née Matthee), in Vanderbijlpark ontmoet en hulle is in 1970 getroud. Februarie vanjaar was hulle al 53 jaar getroud,” sê Anri.

Behalwe vir sy werk in Sandton, was Vic ook by verskeie ander munisipaliteite werksaam, wat Nigel, Phalaborwa, Middelburg en Christiana insluit. “Vanaf 1977 tot 1981 was my pa vir die eerste keer by Louis Trichardt se munisipaliteit as stadstesourier werksaam. Hierna was hulle vir nege jaar weg – onder meer na Midrand en Ballito,” vertel Anri.

Louis Trichardt het vir ‘n tweede keer in 1991 hulle tuiste geword. Hy is weer aangestel as stadstesourier. Vanaf Januarie 1997 het hy waargeneem as munisipale bestuurder (stadsklerk). Die posisie van direkteur: strategiese en ekonomiese ontwikkeling het hom van Junie 2001 tot September 2004 te beurt geval. Daarna is hy aangestel as direkteur: korporatiewe dienste tot 30 November 2007.

Ná sy munisipale loopbaan het hy hom beywer as ‘n moderator en assessor by verskeie SETA’s (Sector Education and Training Authority).

“In 2007 het hy ‘n pos aanvaar by die Universiteit van Pretoria as fasiliteerder. Hy het nuwe modules, programme en werkswinkels in verband met munisipale finansies, administrasie en uitvoerende bestuur ontwikkel. Tot en met 2015 het hy gedurende die week in Pretoria gewerk en naweke huis toe gekom.  Toe my ma aftree [ook ‘n jarelange werknemer van die munisipaliteit op Louis Trichardt se verkeersafdeling] het hulle in Julie 2015 na Pretoria verhuis. Hier was hulle baie betrokke by die bestuur van die meenthuis-kompleks waar hulle ingetrek het. Hy het tot sy afsterwe gewerk as fasiliteerder, assessor en moderator - by Pro-Active Public Services College. Op sy rype ouderdom het hy steeds elke oggend vroeg opgestaan en reggemaak vir werk en laatmiddag teruggekeer. Hy het sy werk terdeë geniet,” vertel ‘n trotse Anri.

“Ons gaan hom baie mis. Hy was ‘n streng en presiese pa, maar daarmee saam baie regverdig. Hy wou net die beste hê vir sy kinders,” noem Anri.

Sy vertel ook hoe ‘n groot waardering hy vir die natuur gehad het. As kind wou hulle graag ‘n swembad by die huis hê, maar hy het geweier. Dit sou beteken dat ‘n boom afgekap moes word. Hy het selfs destyds in Louis Trichardt sy motorhuis óm ‘n groot boom gebou, juis omdat hy nie onnodig bome wou afkap nie.

“Hy het ook graag kampeer. My pa se ideale vakansie was met ‘n woonwa in die wildtuin of by Swadini – sy gunstelingplek. Ons het dan sommer vir ‘n maand lank op ‘n keer daar gekamp. Hy was baie lief vir rugby. Van kleins af het hy by my ‘n liefde daarvoor gekweek. Elke rugbytrui in my kas het hy vir my gekoop,” sê Anri met ‘n vol gemoed.

“My pa het enorme spore in Louis Trichardt gelaat. Ons as kinders en baie ander mense het hom as hoogs intelligent bestempel. Hy het kennis van alles gehad en kon oor alles raadgee. Hy was gelowig en het naby aan sy Skepper geleef. Ons as familie is oorweldig met al die oproepe, boodskappe, en meelewing,” sê Anri. Hussain Ayob skryf: “Oom Vic was a friend of my late dad Charlie Ayob. May his soul rest in eternal peace.” Suzy Caroto onthou vir Vic as ‘n wyse man wat aan baie mense hulp verleen het gedurende sy lewenswandel. ‘n Hartseer Inga Gilfillan maak melding daarvan dat hy ‘n groot merk op almal se lewens gemaak het – “ ‘n legende is weg.”  Michelle Nieman noem dat Vic se wysheid en ruim hart binne naasbestaandes sal voortleef.

Sy gedenkdiens was Maandag, 27 November, vanuit die Ou Apostoliese Kerk, Silverton, Pretoria.

Vic was ‘n liefdevolle man, pa en oupa. Hy word oorleef deur sy vrou, Marthie, oudste seun Ricu en skoondogter Daniella; Anri (middelste) en kleinkind Eduané (11 jaar) en jongste seun: Warren, sy vrou René en kleinkind Milan (13 jaar). “Oupa het ‘n spesiale band met sy kleinkinders gehad en laat ‘n groot leemte,” sê die familie.

 

 
 
 

Viewed: 1294

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT