ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Jacques Wepener (48). Foto verskaf.

Jacques se skielike dood kom as groot skok

Date: 28 March 2024 By: Andries van Zyl

Inwoners van Louis Trichardt is verlede Vrydagoggend (22ste) stomgeslaan met die nuus van die skielike dood van die 48-jarige Jacques Wepener, wat ‘n massiewe hartaanval gehad het terwyl hy met sy trapfiets in Songozwistraat gery het.

Vir skoonouers Simon en Alida Miller was dit veral ‘n onwerklikheid. “Ek het hom nog die oggend gebel, want ek wou hê hy moes my kom help met my boot en sommer dan die dag by ons kuier,” het Simon Dinsdag gesê. Maar Jacques het vir Simon gesê dat hy eers vinnig dorp toe moes gaan om ‘n paar dinge te gaan doen. “Ek het vir hom gevra of ek hom nie eerder moet kom haal nie, dan ry hy sommer met die bakkie. Maar hy het gesê hy wil eerder op sy tyd klaar maak. Hy sou my bel as hy weer by die huis is,” het Simon gesê. Dié oproep sou egter nooit plaasvind nie.

“Dit is baie hartseer, maar ons aanvaar dit maar so,” het Simon gesê. Die hartseer word vererger weens die feit dat Jacques se dogter, Mia, Saterdag haar 13de verjaarsdag gevier het. Sy het vir die langnaweek vir haar ma Marna in Johannesburg gaan kuier waar sy woon.

“Hy was eintlik baie fiks gewees. Orals waar hy wou gaan, het hy met sy trapfiets gery. Anders het hy sommer gestap waar hy wou wees. Hy het net altyd gesê dit is baie goeie oefening. Hy was baie gesondheidsbewus ... hy het probeer reg eet vir die diabetes,” het Simon gesê. Dit blyk juis Jacques se diabetes te wees wat tot sy hartaanval kon gelei het. Volgens Simon was dit ‘n oorerflike familiekwaal waarmee hy in ‘n erge graad gesukkel het.

Jacques was ‘n boorling van die Soutpansberg wat beide sy laer- en hoërskoolloopbaan hier (Louis Trichardt) voltooi het. Ná skool was hy vir baie jare by ‘n plaaslike “cash loan” maatskappy, wat met nuwe wetgewing gesluit het. Daarna was hy vir baie jare werksaam by die plaaslike Spar-groep. Ten tye van sy dood was hy vir die aflope paar jaar werksaam by Koos en Boeta van der Merwe by hulle saagmeule op die Witvlag-pad.

“Hy was lief vir visvang en jag. Klein Mia is net so erg oor visvang,” het Simon gesê. Volgens hom sal hy veral Jacques se behulpsaamheid mis. “Almal het hom geken en hy was altyd vriendelik met almal. Hy was altyd behulpsaam. As iemand hom gevra het vir iets, dan het hy gehelp,” het Simon gesê.

Teen druktyd was reëlings ten opsigte van Jacques se roudiens nog nie gefinaliseer nie. Voorlopig sou dit Dinsdag, 2 April, plaasvind. Wyle Jacques word oorleef deur Marna, dogter Mia, seun JJ (21), broer Willem van Middelburg en skoonouers Simon en Alida Miller. “As iemand hom sou vra wie sy ouers is, het hy altyd gesê pa Simon en ma Alida,” het Marna gesê.

Simon het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt vir hulle woorde van vertroosting en bystand in hierdie moeilike tyd. Hy het veral vir Renier Fourie en Luke Enslin bedank vir al hulle hulp op die toneel. Spesiale dank het ook gegaan aan Wikus en Johan van Avbob vir hulle professionele hulp.

 

 
 
 

Viewed: 2206

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT