ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die mentaliteit van wild- en veestropers is verbysterend. Nadat ‘n boer ‘n trop onwettige jaghonde vergiftig het, het hulle eienaars 400 m van die boer (Swartwater-omgewing) se drade laat val en opgeknip. Foto verskaf.

Arrestasie ná boere dreig om te skiet

Date: 26 April 2024 By: Andries van Zyl

Boere in die Alldays-omgewing het die arrestasie van ‘n man wat verbind word met verskeie sake van wild- en veediefstalle in die omgewing verwelkom. Die man, ‘n 27-jarige Zimbabwiër, is Maandag in Louis Trichardt aangekeer.

Volgens ‘n polisieverklaring is die man in die park by die toerisme inligtingsentrum (op die hoek van Songozwistraat en die N1) vasgetrek deur lede van ‘n spesiale ondersoekeenheid van die Capricorn polisie as deel van taktiese operasie Wafa Wafa. Hulle was besig om inligting op te volg oor die man se kriminele bedrywighede toe hy in die park in sy grys Mahindra Bolero opgemerk is.

Volgens provinsiale polisie woordvoerder kol. Malesela Ledwaba is die verdagte positief verbind met verskeie sake van wild- en veestropery in die Alldays/Mara-omgewing en onmiddellik onder arres geplaas. Die polisie het ook sy Mahindra-bakkie, wat blykbaar in die uitvoering van die misdade gebruik is, gekonfiskeer. Ledwaba het gesê die man sou Woensdag (24ste) in die landdroshof op Senwabarwana verskyn op klagte van wild- en veediefstal, maar die uitslag van sy verskyning was teen druktyd nie bekend nie.

“Dit is die eerste tree in die regte rigting,” het Morné Gilfillan van Alldays Safaris (Limpopo) gesê. Gilfillan is een van die boere wat baie uitgesproke is oor die probleem van wild- en veediefstalle in hul omgewing en die plaaslike polisie se skynbare “laksheid” om verdagtes vas te trek.

Die Zoutpansberger het in November 2023 oor die omvang van die probleem gerapporteer en die buitengewone stappe wat boere moet neem om hulle wild en vee te beskerm. Dit sluit in die huur van privaat sekuriteitsmaatskappye en in een geval het ‘n boer sy eie privaat DNS-toetse laat doen op ‘n bees karkas om te bepaal of dit op sy plaas gesteel is.

In vorige berigte is melding gemaak van meer as 100 wild- en veediefstalsake wat sedert 2021 by die Alldays SAPD aangemeld is, met min of geen resultate nie. Rekord van al die sake en saaknommers is gehou. In baie gevalle het die polisie bloot die sake gesluit. Dit het, volgens Gilfillan, daartoe aanleiding gegee dat tot 70% van boere nie eers die moeite doen om wild- en veediefstalle aan te meld nie. Wat dit betref, het Ledwaba in November verlede jaar gesê dat die provinsiale polisiekommissaris, lt-gen Thembi Hadebe, kennis geneem het van die klagte en dat hulle sal kyk na al die sake en wat die vordering daarop was. Ledwaba het onderneem om terugvoer aan die koerant te gee sodra hulle ondersoek afgehandel is. Tot op hede is nog geen terugvoer ontvang nie.

Maandag se arrestasie was klaarblyklik ‘n uitvloeisel van ‘n gemeenskapsvergadering tussen boere en die top struktuur van die Capricorn polisie verlede Donderdag. Tydens dié vergadering, bygewoon deur ‘n 50/50 persent verdeling van beide wit en swart boere in die omgewing, was die boere se boodskap aan die polisie duidelik: “Nou gaan ons skiet!”

“Ons het vir die polisie gesê ons oorweeg dit ook ernstig om ‘n dispuut met die Alldays SAPD te verklaar, wat sal beteken dat die polisie vanaf nasionale vlak moet ingryp,” het Gilfillan gesê. Dit wil voorkom asof die dreigemente gehelp het. “Nou spark hulle!” het Gilfillan gesê.

“Ons praat nou met een stem,” het Petrus Jansen (voormalige voorsitter van Alldays Landelike Veiligheid maar steeds nou betrokke by die organisasie) ná afloop van verlede Donderdag se vergadering gesê. Jansen het verduidelik dat die probleem almal raak en gesê dat as ‘n kommersiële boer met meer as 100 beeste vyf per maand verloor weens hierdie diefstalle is sy verliese persentasiegewys baie minder as ‘n bestaansboer met 10 beeste wat vyf in ‘n maand verloor. “Hy verloor 50% van sy kudde,” het Jansen gesê.

Jansen het die arrestasie van die Zimbabwiër as “baie goeie nuus” beskryf. “Ons gemeenskap het totaal en al vertroue in die polisie verloor en die gemeenskap het bietjie goeie nuus nodig,” het Jansen gesê. Hy het die hoop uitgespreek dat nog arrestasies sal volg.

“Die polisie het tydens verlede Donderdag se vergadering vir hulself ‘n maand gegee om resultate te wys,” het Gilfillan gesê. “Dit is ook so genotuleer tydens die vergadering,” het Jansen bygevoeg. Hy het saamgestem met Gilfillan dat die arrestasie ‘n stap in die regte rigting is. “Ons hoop die SAPS stop nie hier nie en trek hierdie probleem met wortel en al nou uit,” het Jansen gesê.

 

 
 
 

Viewed: 892

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT