ADVERTISEMENT:

 

 

Search for a story:

 
 

Wyle Annekie Jandrell (75). Foto verskaf.

Annekie se dood laat groot leemte in gemeenskap

Date: 28 June 2024 By: Pétria de Vaal

“Sy was ‘n alomteenwoordigheid.” Só beskryf ‘n vriendin vir Annekie Jandrell wat skielik op Woensdagaand, 19 Junie, omstreeks 23:00 tot 23:15 in haar slaap oorlede is. Annekie was beslis een van die bekendste en mees geliefde inwoners in die Louis Trichardt en haar heengaan laat ‘n groot leemte in die gemeenskap.

Sarel en Sarie Coetzee se oudste dogter, Anna Magrieta (née Coetzee), is op 25 Mei 1949 in Pretoria gebore. Die gesin het in 1961 van Waterval Boven na Louis Trichardt verhuis. Ouer inwoners wat die Coetzees geken het, sal onthou dat Sarel die posmeester was, en Sarie het by Vleissentraal gewerk. Annekie was in Laerskool Soutpansberg en Hoërskool Louis Trichardt, waar sy in 1967 gematrikuleer het.

Tjol Jandrell, Annekie se eggenoot, vertel dat sy die heel eerste meisie was wat hy gesien het toe hy en sy broer, Alex, vir sy ouers in Louis Trichardt kom kuier het. Ná hulle verhuising het die seuns steeds in Rustenburg skoolgegaan en gematrikuleer. “Die bure het die aand by my ouers kom kuier en daar is gereël dat ‘n groepie jongmense die volgende dag saam sou gaan tennis speel. Annekie (toe in Standerd 7) het ons kom haal! Nou ja, ek was in Standerd 9. Ná Matriek het ek gaan studeer en Annekie het by die Technikon in Pretoria ‘n sekretariële kursus voltooi. Sy het as sekretaresse by Unie Boekhandel in Pretoria gewerk. Ons het besluit om in 1970 te trou.”

Die egpaar se twee kinders, Jeanne (Swanepoel) en Alex, is onderskeidelik in 1972 en 1974 gebore. In Augustus 1978 het die gesin na Louis Trichardt verhuis, waar Tjol jare lank sy firma, Jandrell Rekenmeesters (later Jandrell en Swanepoel), begin het.  “Annekie was by Coxwell en Steyn, asook Piet de Vaal Prokureurs werksaam. Waarvoor Annekie egter ‘n passie gehad het en wat sy ten volle uitgeleef het, is liefdadigheidswerk. Sy het haar kombuis haar kantoor genoem, omdat sy so lief was vir kosmaak. Soms het sy tot drie etes vooruit beplan en gekook.” Tjol vervolg dat Annekie se altyd-teenwoordige morele ondersteuning vir hom sóveel beteken het. “Ek en Annekie was geestelike genote – ons het dieselfde visie en geestelike aanvoeling gehad, maar nooit daarmee te koop geloop nie,” noem Tjol.

Annekie se jonger suster, Rita Olivier, beaam alles wat die res van die familie uitlig. Hulle, as kinders, het baie goeie herinneringe aan ‘n sorgvrye kindertyd in President Steynstraat en omgewing – hoe al die buurt se kinders saamgespeel het, saam skool toe gestap of fietsgery het.

Terwyl haar kinders op skool was (1978 tot 1992), het Annekie bekend gestaan as “Tannie Kerrie en Rys” omdat sy altyd hierdie stalletjie by skole beman het. Die familie noem dat Annekie destyds vir tannie Sophie van der Lith by die “Huis van Genade” vir ‘n tydperk van 10 jaar bygestaan het. Tannie Sophie het verskeie hulp-aksies vanuit haar huis bedryf. Annekie het klokslag elke jaar ‘n Kerspartytjie vir minderbevoorregte kinders saam met die lugmag en plaaslike Rotariërs gereël - tot 2023.

Friede Meissenheimer, vorige maatskaplike werker, skryf in ‘n huldeblyk dat Annekie vanaf 1990 tot 2023 as vrywilliger by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) betrokke was. “Sy het al die moontlike rolle op die Diensbestuur vervul, maar wou eerder op grondvlak betrokke wees. Haar gunsteling gesegde was: ‘moenie vir my goed gee om oor te dink nie, gee vir my goed om te doen’,” skryf Friede. “Sy was ‘n vrywilliger in hart en siel. As jy iets nodig gehad het, kon jy altyd op haar knoppie druk en sy het dit laat gebeur. Annekie het ‘n sagte plekkie vir kinders gehad. Kleuterskoolprojekte was vir haar ‘n hoogtepunt en met die Kerspartytjies was dit haar missie om die kinders se dag so spesiaal moontlik te maak.”

Friede noem ook dat Annekie by jaarlikse veldtogte van die SAVF betrokke was, byvoorbeeld Kinderbeskermingsweek en 16 dae van Aktivisme. Tydens die destydse weeklikse Afrikaanse uur op Makhado FM, was Annekie tuis agter die omroepersmikrofoon. Sy het dikwels relevante sake met ‘n maatskaplike werker bespreek.

Annekie was altyd dáár om iemand in moeilike tye te ondersteun. Sy sou nie skroom om byvoorbeeld te ry met ‘n vriendin wat by ‘n dokter moes wees of behandeling moes ontvang nie.

Tjol bevestig dat Annekie baie ná aan hulle kleinkinders was. Sy het gereeld gesê: “Is hulle nie pragtig nie?” Handri Spies sê: “Ouma Annekie het altyd roomys in haar yskas gehad. Sy het soos my ouma gevoel.” Annekie se oudste kleinkind, Heidi Swanepoel, sê dat haar ouma baie selfstandig en onafhanklik was, veral as dit gekom het by bestuur – iets wat sy self wou doen, selfs al was ‘n kleinkind saam met haar wat reeds ‘n bestuurderslisensie het. “Sy het altyd ‘n glinster in die oog gehad,” sê Heidi.

Staaltjies oor Annekie is volop: Een middag nadat Anita Grobler (Vermaas) inderhaas vir Annekie gevra het om net die slaghuis te gaan sluit, was die uiteinde ‘n twee-jaar-lange werk by Louis Trichardt Koelkamers.

Annekie se wye belangstellingsveld is noemenswaardig. Volgens Tjol was lees vir haar ‘n passie. Haar uitgebreide boekversameling getuig hiervan. “Sy wou nog altyd ‘n volledige lys van die boeke opstel en het gesê dat daar nog tyd is … Annekie het ook ‘n groot belangstelling in geskiedenis, ook die dorp se geskiedenis, gehad. Sy het as vrywilliger op die dorp se Erfeniskomitee gedien. Daar het nie ‘n dag verbygegaan dat sy nie die koerant deurgelees het nie. Sy was baie ingestel op aktuele sake en het nooit nuus gemis nie en dit gereeld op haar selfoon dopgehou,” sê Tjol.

Annekie was ‘n bekende gesig by “The Bookshop”, en die lyndans-groep, bekend as Five o’clock Rock, was die hoogtepunt van haar week. Sy was altyd gretig om plaaslik te reis. Tjol vertel dat huisbootvakansies te Kariba asook vakansies aan die Suidkus haar gunstelinge was. Sy het selfs visvang saam met Tjol geniet en saam reise na Namibië en Hentiesbaai onderneem.

Huldeblyke stroom in: Nic Hoffmann sê: “Sy was ‘n fire cracker”.  Brink Schlesinger sê: “Die gemeenskap gaan haar mis.”

“Annekie was die verpersoonliking van die Bybelse opdrag om jou naaste lief te hê. Haar dienende hart en hande sal vir altyd gemis word,” noem Friede Meissenheimer.

Die familie wil graag vir Avbob Begrafnisdienste bedank vir hulle uiters professionele diens. Annekie se troosdiens word gehou op Donderdag, 27 Junie, om 11:00 vanuit die Haantjiekerk (NG Moedergemeente).

Annekie word oorleef deur haar eggenoot Tjol Jandrell, kinders Jeanne (Swanepoel) en Alex Jandrell, skoonseun Hein Swanepoel, kleinkinders Heidi, Anje en Albert Swanepoel, haar suster Rita Olivier en swaer Alex Jandrell.

 

 
 
 

Viewed: 2005

 
 

Pétria de Vaal

 
 

ADVERTISEMENT

 
 

Most Read Articles

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

Somer is vir tuinbou, so kom leer meer saam met Athri Wilson

Of jy ’n groot tuin het of selfs net ’n paar potplante vertroetel, almal weet van die menigte voordele wat tuinmaak jou bied. Nie net ontlaai jy van stres nie, maar gesoute tuiniers glo vas dat tuinmaak jou langer laat lewe. Die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het gesê: ”Om tuin te maak is om in môre te glo”.

Recent Headlines

ADVERTISEMENT