ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Gerhardus skitter met honderdtal teen Killers

Date: 22 March 2024 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Krieketklub het die afgelope naweek hulle plaaslike T20-liga op die Louis Trichardt Ovaal voortgesit, met die Killers en Limpopo Melkery wat Saterdag teen mekaar te staan gekom het en RCI en die Roaring Lions wat Sondag kragte gemeet het.

Die Killers het Saterdag eerste ingegaan om te kolf en ‘n skaflike 182 lopies vir die verlies van nege paaltjies (182/9) in hulle 20 beurte aangeteken - danksy ‘n mooi 88 lopies vanaf slegs 41 balle deur kolwer AC Geldenhuys, met die kolfbeurt wat ingesluit het 12 viere en vier sesse. Dubbelsyfers met die kolf is ook aangeteken deur Frikkie van Niekerk (17), Paulo Piorek (14) en JP van Zyl (26 nie uit nie). Vir Limpopo het Leon Olwage die meeste sukses met die bal gehad en drie paaltjies vir die verlies van slegs 15 lopies in sy vier boulbeurte (3/15/4) laat kantel. Pierre Jonker het 2/23/4 geneem, terwyl Rikus Smit, AJ Fourie, Joubert Fourie en Hussain Patel elk een paaltjie gevat het.

Die Killers het sekerlik hulle boulbeurt met optimisme aangepak, maar Limpopo se kolwers het vinnig die boulers om die agtervoet gehad. Openingskolwers Leon Olwage en AJ Fourie het onderskeidelik 16 en 41 lopies aangeteken, maar Gerhardus Fourie, in op nommer drie, het die boulaanval uitmekaar gemoker vir ‘n kolfontleding van 107 nie uit nie lopies vanaf slegs 48 balle. Sy kolfbeurt het ingesluit 12 viere en ses sesse, om Limpopo te neem na ‘n agt-paaltjie oorwinning met ‘n telling van 187/2 wat in 16,3 beurte aangeteken is. Die enigste boulers van die Killers wat ‘n mate van ‘n impak kon maak, was AC Geldenhuys, wat 1/34/4 gevat het en Paulo Piorek wat 1/32/3 laat kantel het.

Wat Sondag se kragmeting betref, het RCI eerste ingegaan om te kolf en 156/6 in hulle toegelate 20 beurte aangeteken. Kolwers wat dubbelsyferbydraes vir hulle span gelewer het, was Nimesh Watekar (32), Imran Bhatai (36), Sandip Patel (18 nie uit nie) en Rafik Musa (onttrek 17 nie uit nie). Vir die Roaring Lions het bouler Brian Vermeulen 3/22/4 geneem, terwyl Craig Viljoen, Tebogo Mthathi en Francois Nel elk een paaltjie kon vat.

Die Roaring Lions se kolwers het haastig die teiken gejaag en in die doodsnikke van die 20ste beurt ‘n oorwinning van 158/5 behaal, wat aan hulle ‘n vyf-paaltjie oorwinning besorg het. Die Roaring Lions se kolwers wat dubbelsyfers tot die oorwinning bygedra het, was Brian Vermeulen (24), Brendan Bruce (35), Craig Viljoen (met 55 lopies vanaf 28 balle af wat ingesluit het sewe viere en een ses) en Thabang Maselesa (13). Vir RCI het Imran Bhatia 3/13/2 geneem, met Vimal Shah en Viral Patel wat elk een paaltjie laat kantel het.

Teen druktyd was die jongste ligabepalings nog nie beskikbaar nie, weens die Vhembe-liga wat tans ook beslis word.

 

 
 
 

Viewed: 1337

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT