1. Daisy gaan bos toe om ‘n boek te skryf

Date: 04 October 2013 By: News Correspondent

Viewed: 555

Daisy sit dikbek en kyk na die hope bagasie rondom haar wat nét nie self ingepak wil kom nie. Daar is ‘n muskietnet, diksoolstewels, kombuisgoed, wit linne, kos. Dit is twee-uur in die oggend, die eerste dag van Die Groot Avontuur.

Daar doer waar Zimbabwe, Mosambiek en Suid-Afrika oopketel maak vir die Pafurihek, daar op die walle van die Mutalerivier… Daar het ‘n muse haar klere uitgetrek en skalks oor die skouer na Daisy gewink. ‘n Boek wat roep om geskryf te word, ryk aan geskiedenis en kultuur, vol kleur en karakters van haar kindweeswêreld.

‘n Skoolreünie het haar teruggebring, het mense gebring wat sy op laerskool laas gesien het. En tussen die braaivleisvure en die volmaan oor die rivier het almal stories en staaltjies vertel, gelag oor die voortvarendheid van jeugdige droogmaak, effentjies keel skoongemaak en die klammigheid aan die oë subtiel weggevee oor mense wat hulle lewens opgedrink het. Sy het teruggegaan huistoe en vir ‘n paar weke mooi gaan dink oor die uitnodiging om te gaan bly in Makuyaland en ‘n boek te skryf. Daar is niks anders wat haar aandag verg nie, daar is niemand wat haar vreeslik sal mis nie en sy is kriewelrig, sy het nuwe uitdagings nodig. Dit was nie regtig ‘n moeilike besluit nie.

Anderkant Tshipise loop die pad so reguit soos die N1 uit Louis Trichardt, terug na Pretoria. Maar dis lente en die bome is getooi soos vir ‘n koninklike troue – knoppiesdoring, spierwit valsdoring, berggranate, wilde sering ... As daar duisende mense langs die pad met wit vlaggies was om haar te verwelkom, sou Daisy nie verbaas wees nie. Sy is die heldin wat met ‘n tiara en ‘n mantel die wêreld gaan regskrýf! Agterop die bakkie is silwer kershouers, regte wynglase, lapservette, rou-sy beddegoed, fleurige wit katoenkleertjies. Daar is musiek gelaai vir enige geleentheid, boeke vir die gees en vlees, groentesaad, ‘n resep vir mopaniewurm-bredie, ‘n rooi Masailap vir die tafel onder die enorme Mashatuboom.

Om skielik ‘n eenvertrekhut met ‘n semi-vreemdeling te deel is toe nie so erg nie. Uit haar kluisenaarsomgewing het Daisy skielik 24 uur geselskap. Vir twee dae praat Daisy en die Bosbewoner sonder ophou; hulle maak kos uit die oorvloed vars groente, ruil stories uit, beplan wat nodig is om finansiële bystand by die Departement van Kuns en Kultuur te kry. Maar iewers in haar agterkop begin Daisy reeds ‘n lysie maak van wat sy die volgende keer moet saambring – Jik, Handy Andy, skropborsels... In die badkamer sien sy reeds hoe pragtige spoelklippe om die stort en badrand die rou sement en vrot matte vervang, hoe pragtig die takke wat met die vloed teen die walle van die rivier lê verander in handdoekrelings en hangplek vir klere. Die Bosbewoner gaan wys vir Daisy die gemeenskappie. Dis ‘n kort stappie, met guitige kontraste: die Mykonos-blou van die grasdakhutte met ‘n televisieskottel by die voordeur, baksteenoonde, ‘n splinternuwe kamp met grondverskuiwingmasjiene om die verspoelde brug te herbou. Hulle kom by die hut van die oudste inwoner net om te hoor dat die 103-jarige gogo ‘dorp’ toe is. Daisy neem fotos met haar selfoonkamera – dit laat nie reg geskied aan die nederige skoonheid nie, maar is noodsaaklik vir insluiting in die voorlegging aan die Owerhede. Die sukses van die voorlegging sal die verskil maak en voete gee aan die projek – ‘n ryding, satellietkommunikasie met internet-toegang – en haar stapboetse spaar!

Op die derde dag raak Daisy moeg vir die stappie na “Seinheuwel”. Terug by die boshut vlot niks nie. Haar klere is steeds ingepak en lê in ‘n bondel op ‘n stowwerige bed waarop sy nie kans gesien het om te slaap nie. Haar rug pyn op drie plekke van die harde bank waarop sy slaap. Sy verloor haar selfoon in die chaos, ook haar sigaretaansteker, flits en hande room. En orals waar sy soek is daar stof en selfs meer ontstellende teksture waar gereedskap tussen proviand op die vergete eetkamertafel lê. Dis toe dat haar Pretoria-maniertjies pruilmond en hand-op-die-heup skielik soos te veel wasabi haar humeur laat ontplof. Sy skrop en dra rond, order sommer die Bosbewoner rond in sy eie huis, pak reg tot haar enigste wens ‘n innige behoefte aan ‘n skuimbad in die daklose badkamer is. Daar is ‘n skerpioen in die bad. Die volgende oggend vroeg sit Daisy en die Bosbewoner en koffie drink, kyk hoe die son oor die rivier opkom. “Branson én Bill Gates en elke yuppie met ‘n fôbaaifôse gat, “ sê Daisy vir die Bosbewoner. “Selfs met ál hulle rykdom kan hulle hierdie lewe nie bekostig nie. Dis vir armgatte soos ons, hierdie oorvloed. Amper soos die Bergpredikasie in die Bybel.”

 

Lees ook:

2. Daisy doen shopping en maak ‘n slang dood

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: news@zoutnet.co.za

 
 

More photos...