3. Daisy ontmoet die bure en word geweeg ...

Date: 18 October 2013 By: News Correspondent

Viewed: 384

Die befoeterde Bosbewoner is ‘n forse teenwoordigheid, enige plek. Maar in die nedersetting waar hy bly, is almal gewoond aan die bleekgesig. Al die misterie is daarmee heen, die man is so arm (indien nie armer nie) soos hulle, daar is geen luuksheid nie. Die inhoud van sy huis is min of meer gemeenskaplike eiendom, die groot Mashatuboom voor die hut ‘n vertoefplek vir enigeen.

Daisy se aankoms is vooraf bepraat. Daar is duistere protokols; die hoofman moet ingelig word, die gemeenskap moet kennis dra – al is dit net om samewerking te kry vir die skryf van hulle unieke geskiedenis. Vroeg-vroeg dus, die tweede dag, begin daar stofwolke rondom die hut opslaan. Vervaard soos Daisy is wanneer sy wakker word, sit sy vir ‘n uur buite en glo dat dit bewolk is voordat sy besef die son is nog nie op nie. ‘n Dun vroutjie met ‘n verbete trek om haar mond vee die grond rondom die hut skoon. Sy loer kort-kort in Daisy se rigting en kyk afkeurend na die beker koffie en die warm kombers om Daisy se skouers.

Druipstert maak Daisy haar bedrol bymekaar en probeer haar klere netjieser stapel ...

Later kom ‘n jong man teen die rivierwal op. Vir ‘n lang ruk sit hy en die Bosbewoner buite in volkome stilte; Daisy se teenwoordigheid word geïgnoreer. Toe sy nie langer haar nuus­kierigheid kan uitstaan nie, gaan bied sy tee uit die Marokkaanse teeketel aan in haar fyn, wit koppietjies. Twee mansgesigte draai met ewe veel verstomming na haar oor dié vreemde kuiergebaar. Sy drink in stilte alleen tee, kyk hoe die jong man agteroor leun teen die muur en rustig aan die slaap raak ...
Haar daaglikse siestatjie op die harde bank word wreed onderbreek toe iemand haar leesbril van haar gesig afhaal. “Huh”, skrik Daisy vir die drie gefassineerde swart gesiggies langs haar en vlieg regop. Die dogtertjies giggel en maak beurte om die leesbril aan te pas. Daisy se mond hang oop terwyl die dogtertjies hulle neervlei op die vloer en haar glanstydskrifte deurblaai. Hulle klink soos rooivinkies in nes­boutyd en elke bladsy met blink skoene en helderpienk naelpolitoer laat hulle opnuut kwetter. ‘n Opgewonde tata-lôgesprek later met die Bosbewoner laat hulle vinnig gryp na besems en lappe en hulle skrop oneffektief in die badkamer en op die voorstoep ...
Laatmiddag sit Daisy en die Bosbewoner en uitkyk hoe die laaste sonstrale skaduwees oor die rivier begin trek.

“Gits, jong,” se Daisy. “Ek verstaan duidelik nie die doen van hierdie plek nie. G’n geklop­pery of uitnodigings nie, geen teken van pri­vaatheid of persoonlike ruimte nie. En daai jong man wat hiernatoe kom net vir ‘n slapie ... Waar’s hulle maniere? En daai seningrige vroutjie – wat het ek aan háár gedoen?”

“Ai, Daisy ... Daai vroutjie, sy’s ‘n masjien. Sy het geen ophou nie, nooit nie. Haar missie in die lewe is om skoon te maak en te sorg, sonder enige vergoeding. Die laaste twee kere wat ek malaria gehad het, het sy op die bank geslaap om my te verpleeg. Sy kom elke oggend en maak vir my pap, sy was skottelgoed en wasgoed – dit alles voordat sy na haar werk toe gaan op die paaie. En as sy dink my siel het strykwerk nodig, moet ons in die sitkamer gaan kniel en rapela! Sy praat nie baie nie, maar kýk die kyk sy jou uit! Ek dink nie sy glo die skrywery nie, sy dink seker jy het duistere motiewe met haar wit kind!” lag hy uit sy ruim maag uit.

“O,” sê Daisy stil. “En die slapende man?”

“Die oorlede hoofman se seun. Hy is die man met al die inligting – die handgeskrewe joernale van sy pa, die geskiedenis en statistieke van die gemeenskappie, al die skindernuus en politieke nuanses. En hy’t g’n geslaap nie – hy het jou fyn dopgehou die hele tyd; besluit of hy jou kan vertrou aan die binnekant van sy mense. Hy sê jy is oukei, jy groet darem al op die Venda-manier en hy wil weet of jy kan kosmaak ...” Die Bosbewoner sukkel om sy gesig ernstig te hou.

“En voor jy vra, die dogtertjies kom elke middag na skool hiernatoe dan help ek hulle met huiswerk. Of hulle pak hout en doen wer­kies vir sakgeld. Vanmiddag het hulle deur al jou wit klere gekyk en daai lang wit serp en die wit lapblomme wat jy in jou hare dra ... Hulle wou weet aan wie en met wat ek lobola betaal het en of hulle blommemeisies kan wees en wie gaan die bees slag en die bier maak,” skaterlag hy.

“Gmf,” praat Daisy later met die gemmerkat terwyl sy agteroorlê in ‘n skuimbad. “En ek dag sonde met die bure is ‘n wit kwaal en seders val net in Waterkloof!”

 

Lees ook:

2. Daisy doen shopping en maak ‘n slang dood

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: news@zoutnet.co.za

 
 

More photos...