ADVERTISEMENT:

 

 
 

8. Daisy sterk aan en ruik weer die dorp se rose

Date: 22 November 2013 By: News Correspondent

Daisy strek haar behaaglik uit in die bed. ‘n Sagte bed met  kraakvars wit linne. Haar glimlag is helder soos die eerste strale van die son deur die wit gordyne.

Drie dae gelede is ‘n bewerige, brandmaer Daisy uit die hospitaal ontslaan. In die bakkie maak Ousus vir Daisy stil nog voor sy ‘n woord oor haar lippe kan kry: “Ja, toemaar Daisy, ek weet. Jy’s honger. En ek kan jou seker ook nie kwalik neem nie - ek het gesien hoe lyk die kos wat hulle deesdae in staatshospitale bedien. Ek gril my dood!”

“Kom ons gaan Sticky Toffee toe – ek weet jou swaer beplan om jou te verwelkom met ‘n braai. Ai tog, enige rede vir Jakobus om te braai en ‘n dop te gooi. So die T-bone sal maar moet wag tot vanaand toe; ek stiek jou liewer vir ‘n gesonde slaai en rooibos latté. Jy is baie heilsame etes agter. Of wou jy liewers hoender gehad het? Ons moet net eers gaan inkopies doen, die spens is soos gewoonlik leeg,” gesels Ousus in die ry.

Daisy kriewel op die sitplek rond van lekkerte. “Shopping,” roep sy, “en uiteet! Dit klink na die Pêrelpoorte. Is jy seker ek het nie die tydelike met die ewige verwissel en staat en skaam my voor Petrus in my blou skapiepyjamas nie?” Sy giggel soos ‘n tiener oor die vooruitsig en klink nie in die minste bekommerd oor Petrus se opinie nie.

Ousus deel nie Daisy se entoesiasme nie. “Ek verstaan jou nie, Daisy,” mor sy. “Hoekom moet jy altyd so dwars wees en in onfatsoenlike plekke gaan inkruip? Kyk nou net die siekte wat jy daar opgetel het. Ek gril my dood!”

“Ag, jy weet - iemand moet die vuil werk doen om stories uit te grawe. En dit dan in suiwer taal oorskryf sodat mense soos jy ook avontuur in hulle lewens kan hê,” trek Daisy haar suster se siel uit. “Jy weet, as mens net na plekke toe gaan waar daar haardroërs en spoel­toilette en kamerdiens is kry jy nooit die kans om die mees basiese geriewe te waardeer nie.”

In Pick n Pay is Daisy nie juis behulpsaam nie. By die vars groente en vrugte staan sy woordeloos voor die koelkaste en bewonder die oorvloed van kleure en teksture. Sy tel die vrugte op en ruik met toe oë daaraan. Sy voel aan die bosse vars wortels en streel oor die spinasieblare, vryf ‘n droë uieskilletjie tussen haar vingers stukkend.

“Kóm tog Daisy! Jy weet ek haat dit om op ‘n Saterdagoggend in die dorp te wees. Kyk net hoe baie mense is hier! En ek het hope skoolwerk wat ek moet gaan doen ...”

Niks blus Daisy se vreugde om weer in die beskawing te wees nie. Sy glimlag vir al die onbekende gesigte wat haar agterdogtig aanstaar, koer met ‘n baba in ‘n winkeltrollie, laai ekstra tjips, tjoklits en Coke in Ousus se trollie en gaan koop sigarette en lugtyd by die kiosk terwyl haar befoeterde sussie alleen die uitpak- en betaalwerk doen. Terwyl Daisy haarself verloor in die malse kleure van vars plukblomme en potplante, gryp Ousus haar met mening aan die arm en sleep haar in die rigting van die bakkie. Daisy wil nog protesteer dat sy die nuwe tydskrifte wou kyk, maar Ousus se lippies raak dun.

Op die plaas storm die honde swaaistert op die bakkie af. Precious staan met ‘n groot wit glimlag nader om te kom aflaai. “Eish, nonnie hoekom is daar so min van jou? Toemaar, jy sal gou weer gesond word hierso by die plaas. Ek het jou kamer reggemaak, gaan lê maar bietjie.”

By die kamerdeur staan Daisy verras stil. Al die gordyne is spierwitskoon, die dubbelbed opgestapel van wit kussings. Die geur van grasdak meng met die reuk van wit rose uit die tuin uit. Op die bed lê vars, wit handdoeke en ‘n hopie nuwe tydskrifte.

Dis drie dae later. Daisy spring rats uit die bed en skakel die radio aan. Dan gryp sy na haar selfoon en loer of daar enige boodskappe was vir haar in die nag. Behalwe vir ‘n teksboodskap wat verkondig dat haar nommer R950 000 gewen het in ‘n trekking, is daar niks. Maar Daisy is steeds nie gewoond daaraan dat daar 24-uur radio- en selfoonopvangs is nie.

Buite is daar die gewone kakofonie van voël- en ander geveerde oggendklanke. Die African Greys raas met die honde, die jong kapokkies en skrophoenders kraai vakerig die dag wakker, die ringnekke se skel klanke word verdof deur die swetsende gekrys van die Macaws.
Te midde van hierdie vreugedevolle lawaai is dit Daisy se stiltetyd. Sy maak al die vensters oop wat uitkyk op die groot maroelaboom, snuif genoeglik die vars lug in en klim met haar slimfoon terug in haar wit bed.

Dan lees sy op Facebook:

"Gratitude unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough, and more. It turns denial into acceptance, chaos into order, confusion to clarity. It can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a friend. Gratitude makes sense of our past, brings peace for today, and creates a vision for tomorrow.”

 
 
 

Viewed: 446

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT