14. Daisy begin werk en leer hoe om trekker te ry

Date: 16 January 2014 By: News Correspondent

Viewed: 814

Gaap-gaap kom Daisy by die werkswinkel aan. Dis Maandag. Dis die eerste werkdag van die nuwe jaar.

“Jy’s laat, Daisy!” bulder Jakoboos en beduie woes na sy sonbruin arm waar daar ‘n horlosie behoort te wees. Die plaaswerkers lag. Een gevaarlike kyk van Jakoboos laat hulle vinnig bedaar.
“Skies, Jakobus,” mompel Daisy. Sy haal die bywoningsregister uit haar Marokkaanse mandjie uit en gee dit vir Jakobus aan.

Terwyl haar swaer die nuutste inligting van die plaaswerkers inskryf en notas maak vir kontrakte vir nuwe personeel, maak Daisy seker dat die werkers aan die voorgeskrewe higiëne-vereistes van GlobalGAP voldoen. Jakobus verduidelik die prosedures in Venda aan die nuwe werkers. Dan gee hy sy volle aandag aan Daisy.

“Ons kry more belangrike mense wat die dag hier op die plaas kom spandeer. Jy onthou mos die inligtingsessie waarvoor ons in Pretoria was – die een oor ‘Farming for the Future’? Daai drie ouens kom kyk na die infrastruktuur op die plaas sodat ons ge-oudit kan word. Ek sal dit waardeer as jy so bietjie op die plaas kan rondry en net vinnig seker maak dat dinge in plek is.”

“Dan is daar water samples in die kantoor by die huis wat jy asseblief moet wegstuur na die laboratorium by die WNNR om getoets te word.”

“O, en Daisy ... Sal jy asseblief vir Plore vanmiddag vat vir bestuurslesse? Hy moet dringend sy bestuurderslisensie kry voor die universiteit begin. Maak seker hy oefen sy parallelparkering. Intussen ploeg hy vandag by die nuwe lande.”

“Natuurlik, Swaerie, met plesier.” Sy is maar te bly dat sy iets kan doen om Jakobus se Maandagbui te laat sak.

Vyfuur is Daisy net betyds terug van die dorp af vir Plore se bestuurslesse. Die watermonsters is veilig afgegee vir oornag-aflewering in Pretoria en al haar ander werk is ook klaar. Sy staan teen die kar en rook toe die rooi trekker op die bospaadjie verskyn. Plore skree iets vir haar, maar sy kan nie hoor nie en beduie vir hom om af te spring.

“Daisy, skuif die blêddie kar man, ek wil die trekker onder die afdak parkeer!” skree hy in haar oor.

“Moenie so gil nie man! Ek mag jou antie wees, maar ek is nog g’n doof nie...”

“Plore, laat ek gou die trekker parkeer,” kry Daisy ‘n blink idee. “Ek wou nog altyd ‘n trekker bestuur.

Toe man, dan kan ons vir ‘n vinnige spin ook gaan met jou ma se kar as jy die parkering geoefen het...” Daisy weet dat sulke vryheid met ‘n vinnige kar haar nefie maar min gegun word. “Ag toe, Plore,” flikflooi sy en fladder haar wimpers.

“Maar jy het nog nóóit ‘n trekker bestuur nie, Daisy!” protesteer hy.

“Ag, Plore man, hoe moeilik kan dit nou wees? Ek bestuur al vir jaaaaaare en ek is vreeslik versigtig en jy kan my mos gou-gou wys ... Ag toe?” Plore weet wanneer hy verloor het en hy help vir Daisy op die trekker. “Parkeer nou sommer hier langs die koelkamer, Daisy. Die parkeerplek is groter. Dan trap jy die clutch in en hierso is die eerste rat...”

Die trekker storm vorentoe. “Draai, Daisy, dráái,” skree Plore en pluk aan die stuurwiel. “Oukei, Daisy, oukei... Stadig nou, trap die rem. Staaaaaadig, Daisy! STOP!” skreeu Plore.

“O hél, man! Waar’s die remm...”

Die volgende oomblik bars ‘n gillende Plore en Daisy op ‘n briesende rooi trekker deur die muur van die koelkamer. Daar is vallende stene orals. Die gebrul van die trekkerenjin hakkel genadiglik tot stilstand. Vir ‘n paar sekondes is daar geen geluid nie, toe stort ‘n dakbalk en ‘n paar sinkplate dawerend voor die trekker neer.

Toe die stofwolk bedaar, sit ‘n stowwerige Daisy oopmond en kyk na die vreeslike skade rondom haar. Skielik is daar ‘n stroom woorde uit Plore se mond. Skokkende woorde. Woorde wat nie gepubliseer kan word nie, maar wat kortliks beteken:
“Wat het jy aangevang, Daisy? Kyk nou die mooi gemors. Ek dink nie my pa gaan baie gelukkig wees nie. Dis alles jou skuld. Jy moet dit so aan my pa verduidelik, anders gee hy my ‘n vreeslike loesing...” Ensovoorts, ensovoorts.

Daardie aand lê Daisy verwese in haar donker kamer toe Ousus kom aanklop. Daisy se oë is rooi gehuil.

“Ag, ou Daisy, toemaar jong. Dit was ‘n ongeluk, net ‘n ongeluk. Al sê Jakobus wát, ek weet jy’t jou les geleer. Jy moet jou die man se buie nie so vreeslik aantrek nie – hy het eintlik maar ‘n klein hartjie, solank jy net nie met een van sy trekkers rondmors nie. Dis net dat daai belang­rike mense van Woolworths more kom en hoe moet hy nou so ‘n ongeluk aan hulle verduidelik? Dat hy skielik nie ‘n werkende koelkamer het nie?”

Tot Daisy se verbasing is Ousus dik van die lag. “En hoorie, Daisy, dit was baie edel van jou om Plore se sitvlak van ‘n pak slae te red! Om al die skuld so op jouself te neem ... Plore dink jy is cooler as sy Liefie op die oomblik!” giggel Ousus.

“Maar eintlik het ek net iets by jou kom hoor. Ek moet more-oggend vroeg urienmonsters na die patoloë op die dorp toe neem. Behalwe dat ek die monsters nêrens kry nie. Daar is net watermonsters in die kantoor – ek kan dit ook sommer vir jou gaan afgee in die dorp more?”
“Jy het nie dalk die urienmonsters iewers gesien het nie? Hierdie Blou Maandag hou net nie op nie!”

Daisy draai om en begin weer saggies in haar kussing huil.

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: news@zoutnet.co.za

 
 

More photos...