ADVERTISEMENT:

 

 
 

15. Daisy se nuwe kleure begin wys op ‘n safari

Date: 24 January 2014 By: News Correspondent

Die selfoon se gelui dring stadig deur Daisy se slaapnewels.

Op sigself is dit ‘n buitengewone gebeurtenis: elkeen wat vir Daisy ken weet dat sy twee ure nadat sy haar oë oopmaak eers in staat is tot sinvolle kommunikasie. Veral op ‘n Maandagoggend.
“Ek hoop jy’t vervlaks goeie rede om my hierdie tyd van die oggend te bel,” grom Daisy sonder om te kyk wie praat.

“More, mooiste meisie in die hele wêreld! Is jou oë nog so groen soos die Springbokvlakte na ‘n goeie reënseisoen?” Die welluidende stem wil-wil vir Daisy bekend klink.

“Wie wil weet?” mor Daisy ongeskik. “En sê sommer gou ook wat jy wil sê; die hoenders het nog nie begin kraai nie en dan hoef ek nog nie maniere te hê nie!”

Die man bulder soos hy lag. “Ag, ou Daisy, ek is so bly party dinge bly altyd dieselfde! Gaan maak gou vir jou koffie dan bel ek jou oor tien minute terug as jy kan sense praat.” Sonder verdere omhaal sit die man die foon neer.

Vier ure later is Daisy op pad Pretoria toe; vier-en-twintig uur later stop die konvooi safarivoertuie anderkant Martin’s Drift grenspos vir ‘n laat ontbyt. Die groot man met die bulderstem en groot baard sit sy arm om Daisy se skouers.

“Ja toe, Daisy. Hierdie is die laaste keer wat ek die kookwerk doen. Dis net om jou vir oulaas te oriënteer - van nou af is jy in beheer van al die kos en catering. Vanaand is jou vuurdoop daar by Nata waar ons gaan kamp. Hierdie Duitsers gaan lekker honger wees! Maar hél, is ek bly dat jy op so kort kennisgewing kon uithelp op hierdie safari!” Daisy lag uit haar maag uit.

“Baardman, jy weet daar is vir my geen groter lekker as om in die bos rond te flenter nie! Baie dankie dat jy aan my gedink het toe jou sjef jou in die steek laat!”

Die tien dae in Botswana word ‘n warrelwind van onvergeetlike sonopkomste wanneer die kamp opgepak word, die opslaan van die kamp voor sononder sodat die gaste elke aand met ‘n glas in die hand langs ‘n groot vuur kan begin. Die natuur is besonder gul – daar is troppe oli­fante, kameelperde, koedoes, leeus. In die delta verlig die baldadige gesig van duisende waterlelies die stres van heeltyd op die uitkyk wees vir krokodille en seekoeie.

Daisy is in haar element. Elke dag is vir haar ‘n bladsy uit die joernaal van Karin Blixen – sy kombineer die aardsheid van Afrika met perfek-gedekte tafels, lapservette en pragtige disse. Daar is bottels Suid-Afrikaanse shiraz saam met die individuele Beef Wellingtons wat in ‘n ysterpot gebak is, yskoue chardonnay saam met die hoender in kappertjiesous. Geen moeite is te veel vir die moeilike en kritiese Duitsers nie. Daisy se energie is onblusbaar – sy is eerste op in die oggend om die kamp met moerkoffie en beskuit wakker te maak, sy gaan slaap eers nadat die laaste skottelgoed skoon en weggepak is.

Die laaste aand van die safari kom sit Baardman by Daisy voor die vuur. Hy gooi nog ‘n stomp op en maak Daisy se wynglas weer vol sonder om te vra.
“Daisy, ek kan half nie my oë glo nie,” kom Baardman sonder omhaal tot die punt. “Jy weet ek is jou grootste fan, al het jy my hart gebreek toe jy daai stadsmannetjie bo my gekies het. Maar ek het wragtig nie geglo jy kan in die bos oorleef nie. Ek moet nou maar eerlik wees, as dit nie was dat ek so dêm desperaat was vir ‘n sjef nie, sou ek nooit gedroom het om jou saam te vat nie. Jy was nog altyd so vol geite en vrese – jy het op die naaste tafel gespring en gegil as ‘n spinnekop net na jou kant toe kyk. Nou dra jy boetse en maak die skerpioene en spinnekoppe vir die gaste dood. Wat het gebeur?”

Vir lank antwoord Daisy nie. Sy kyk stip in die vuur en haar gedagtes loop ‘n voetpaadjie.
“Ek dink dit gebeur as mens regtig grootword, Baardman. As mens nie meer op ander mense staatmaak nie en jouself meer vertrou,” antwoord sy ernstig. “Dan eers kan mens werklik van jouself gee.”

Terug in Pretoria sit Daisy en Baardman by die Boardwalk en kyk vir die laaste son oor die klein mensgemaakte watergat. Die Duitse toeriste is songebak en moeg in die vliegtuig op pad Frankfurt toe. Iemand anders dra die drank en kos aan vir Daisy en Baardman.

“Terwyl ons nou so lekker ontspan, Daisy, kan ons net sowel ook by die lekker gedeelte uitkom. Die Duitsers het vir jou ‘n tip gelos. ‘n Gróte. Regtig gróót. Hulle was baie beïndruk met ons diens; het ons sommer klaar bespreek vir nog ‘n trippie volgende jaar. Hier’s jou koevertjie, Daisy. Ek het sommer jou salaris vir die week ook daarby gesit. Jy sal dit nie glo nie, maar dit alles saam is amper genoeg vir ‘n deposito op ‘n oulike kar...”

Sy loer vinnig in die koevert. Haar mond hang oop toe sy weer vir Baardman kyk.
“Nou toe, Daisy. My volgende safari is eers oor twee weke. Wat sê jy daarvan dat ek jou sommer self terugvat plaas toe en dan kuier ek ‘n bietjie daar by jou? Daai stadskêreltjie is mos nie meer in jou lewe nie en ek kan nie wag om meer uit te vind oor die Daisy wat nou grootgeword het nie!”
Vir ‘n verandering het Daisy geen woorde toe sy in Baardman se oë kyk nie.

 
 
 

Viewed: 555

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT