ADVERTISEMENT:

 

 
 

18. Daisy maak gereed vir haar “Valentine date”

Date: 14 February 2014 By: News Correspondent

Vandat Daisy saam met Baardman en die Uitlanders op safari was, is daar vlinders in haar maag. En allerhande plannetjies in haar kop.

Nou kyk, ‘n langafstand vryery het uitda­gings. Eerstens is daar die onontbeerlike romantiese stukkie apparaat – ‘n selfoon. Vir die vroegste weke van ‘n nuwe verliefdheid word jou selfoon eintlik die nuwe liefde. Daai foon is nooit meer as twintig sentimeter van jou gretige, natgeswete hand af nie. Dis die heel eerste ding wat jy gryp in die oggend (net ingeval jy ‘n WhatsApp gemis het in die nag) en dis saam met jou tussen die lakens in die nag (net ingeval). Die selfoon kry ‘n gesig (verliefdheid maak jou vinnig ‘n meester van selfies!) en daai gesig word veertig keer op ‘n dag bekyk en selfs besoen.

Selfoonmaatskappye het egter geen erg aan Die Liefde nie. Veral nie as altwee partye die geneigdheid het om toe te gee aan die aantrekkingskrag van afgeleë bestemmings nie. Daar is bittermin die weelde van ‘n volledige gesprek en die gedagte aan mooi romantiese woordjies wat in haar ore gefluister word, laat Daisy sommer hardop lag.

Gister se gesprek met Baardman het so verloop:

Die gelui van ‘n selfoon. Die wysie is Nostalgia.
(Daisy duik agter die geluid aan, sy kan nie onthou waar sy laas haar selfoon neergesit het nie. Daar is geen herkenbare nommer toe sy kyk nie; sy vermoed dis ‘n internasionale oproep.)

Daisy, uitasem: “Haai hallo, is dit die man met die sexy baard?” (Sy probeer dit in ‘n lae, rokerige stem sê; sy begin onmiddellik uitbundig hoes.)
Selfoon: “Swgggghhhg... Whushoe, bougerjimst, whovrs, bning....”
Daisy: “Haai Baardman, is dit jy?”
Selfoon: “Klwetgh, whikhimsh frokbi wlozn. Swgggghhhg...”
Daisy, mompel vir haarself: “O hêl, miskien is dit iemand wat net Pools praat of ET wat van Mars af bel ... Ek weet nou nie, ek kan boggerôl hoor...”
Daisy, skree in die selfoon: “Bel weer, ek kan niks hoor nie, dêmmit!”

Weer Nostalgia wat opklink.

Daisy, wantrouerig: “Hallo?”
Selfoon: “Daisy, Daisy ... swggggghhhg ... kuier die naweek ... wokrvn, limprke, hignfo ... laat wees ... rokrn plosrkni ... tjoklits swgghhhhhhhg...”
Daisy: “Ag jimmel, Baardman, dis so lekker om van jou te hoor! Waar is jy? Wat doen jy? Ek verlang my dood! Wat sê jy van tjoklits?”
Selfoon: “Sjebeen, Daisy ... swgggggghhg, biere ... brimmph, jokhn, wompvi ... dromme, Ismael Lo ... Vrydag ... swggghhg ... Piep, piep, piep!”
Daisy: “!@#$%^&*!!!! Ek gooi sommer die dekselse selfoon dat hy trek!”

Vyf minute later sit Daisy met ‘n yslike glimlag op haar gesig. Die boodskap het uiteindelik deurgedring – Baardman kom die naweek kuier! En hy bring tjoklits...

Die volgende paar dae sien niemand vir Daisy nie. Sy het by Ousus haar naaimasjien gaan bedel en darem net die goeie nuus gedeel dat Baardman die naweek kom kuier. Maar die familie is gewoond aan Daisy se kluisenaarstreke.
In haar afsondering is Daisy op ‘n ROOI missie. Sy beplan rooi voorgeregte, hoofgeregte, nageregte. Rooi wyn. Hartjies. Vlae. Dis nie verniet Valentynsdag en boonop op ‘n Vrydag nie – dis alles ‘n wonderlike voorspel tot bloedrooi passie en vurige liefde!

Valentynsdag breek helder en skoon aan. Dis ‘n lieflike dag toe Die Geveerdes ‘n nuwe dag aankondig. Soos gewoonlik wag Daisy nie dat die son eers op is nie – sy is reeds besig om die vrugte van haar bedrywige verbeelding in ‘n krat te pak. Dan gaan sit sy by haar lessenaar met ‘n beker koffie en verf haar naels bloedrooi. Terwyl haar naels droog word, sit sy rustig en rook en gaan in haar gedagte deur al haar lysies vir die dag. Elke nou en dan onthou sy dat sy vandag vir Baardman gaan sien – dan vroetel daar weer ‘n duisend rooi vlinders in haar maag.

Net na die ergste hitte van die dag vaar Daisy met haar krat die bosse in – na die bosboma toe. Daar is reeds ‘n groot vuur gepak, net reg vir die aansteek. Uit die krat uit haal Daisy dosyne rooi vlaggies en begin dit ophang in al wat ‘n boom en bos is langs die paadjie boma toe – al die pad tot by haar voordeur. Dan span sy ritse rooi vlaggies kruis en dwars oor die boma se takmure. Volgende maak sy lanterns van papier­kardoese wat halfpad vol sand gemaak word en waarin sy rooi kerse plant. Die lanterns pak sy die hele boma vol. Dan pak sy lanterns ook aan weerskante van die paadjie tot by haar voordeur. In die boma pak sy orals kleibakke en maak dit vol water – sy sal die rooi roosblare daarop strooi wanneer sy die kerse ná sononder kom aansteek. Die kampeermatrasse langs die gepakte vuur gooi sy toe met Masailappe en groot kussings in al die skakerings van rooi, oranje en pienk. Sy kyk tevrede rond. Nou nog net die kos...

Teen sesuur sit Daisy ge-dress en ge-press in die boma. Sy het haarself oor al die kussings gedrapeer in haar rooi rok wat sy net twee keer ‘n jaar dra – vir Kersfees en Valentynsdag. In haar hand het sy ‘n glas rooiwyn en sy drink op ‘n lieflike sononder. Daar is ‘n verleidelike boodskap teen haar toe voordeur en al die kerse langs die paadjie is alreeds aangesteek. Dis net die Baardman wat kort...

Teen seweuur is al die kerse in die boma aangesteek, ook die kersies wat tussen die rooi roosblare op die water dryf. Daisy begin onrustig peusel aan die beetpatee en granaat­slaai. Vir die soveelste keer kyk sy of daar nie ‘n boodskap van Baardman is nie.

Teen agtuur maak Daisy die tweede bottel rooiwyn oop. Sy sing uit volle bors, lady in red, is dancing with me... Die honde by die huis tel die deuntjie op en sing saam. “Nouja toe, as ons dan alleen gaan paartie hou, kan daar net sowel gedans word,” besluit sy. Binne minute het sy haar radio opgekoppel aan die lang elektriese koord wat sy gaan bedel by ‘n verbaasde Jakobus.

Teen nege-uur het Daisy skoon vergeet van haar bekommernis oor Baardman. Sy speel haar gunstelingmusiek, dans rondom die vuur en drink heildronke op alles en almal wat sy liefhet in die lewe. Die ritmes raak al hoe wil­der en Daisy raak meegevoer met haar dansery.

Dis hoe Baardman haar aantref: ‘n kaalvoet­vrou met lang blonde hare en bloedrooi lippe wat met toe oë op maat van Wes-Afrika musiek in die sand rondom die vuur dans. Vir ‘n rukkie geniet hy eers die prentjie voor hom, dan trek hy sy boetse uit en val in met die ritme rondom die vuur.

 
 
 

Viewed: 799

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT