ADVERTISEMENT:

 

 
 

22. Daisy en die skattige klein pienk varkie

Date: 14 March 2014 By: News Correspondent

Met die dat Daisy se hart en blyplek deesdae op meer as een plek is, rits sy die hele wêreld vol. Vir Daisy kom dit natuurlik. Sy vermoed sterk dat ‘n sigeunerkaravaan vir ‘n ruk onder haar stamboom staanplek (of liewer sláápplek!) gehad het. Sy het pakkery verfyn tot ‘n kuns – ‘n tandeborsel, sarong en ‘n panamahoed – en ondervinding het haar geleer dat plekke waar jy meer as dit nodig het gewoonlik nie die moeite werd is om te besoek nie.

Daisy laat ook geen geleentheid verbygaan om ‘n rits kennisse en vriende in haar omswerwinge te besoek nie. En daar waar sy geen siel ken nie, maak sy vinnig vriende by die omge­wing se gewildste kuierplek.

So sit Daisy en Baardman een aand teen sononder by ‘n watergat net buite Ellisras. Daar is bosgeluide van die dosyn of twee wit tarentale, die paartjie swart swane, besoekende watervoëls, weemoedige poue en twee mak zebras.

“Woorde is totaal oorbodig wanneer die grootsheid van die bos ‘n mens se hart vollê,” mymer Daisy. Baardman gee haar hand ‘n drukkie en glimlag instemmend. Dis hulle gemeenskaplike liefde vir Afrika en rondrits wat die min tyd wat hulle saam spandeer so spesiaal maak.

Net voor donker stop daar nog ‘n safarivoertuig op pad terug van Botswana af. Die groep in kakieklere sluit hulle lawaaierig by Daisy en Baardman aan en bestel Kaptein en Coke in dorstige hoeveelhede. En dis daardie aand waar Daisy die idee kry van ‘n verjaarsdaggeskenk vir swaer Jakobus. Meer spesifiek toe die laataandgesprek gaan oor die voordele van ‘n varkboerdery; wat een van die kakiegekledes teen besonder goeie winste bedryf naby Potgie­tersrus.

Met ontbyt ruil Daisy en Baardman kontakbesonderhede uit met die boere. Daisy bevestig weer met die varkboer presies waar sy plaas is en dat hy een van sy speenvarkies vir haar sal hou. Sy sal so gou as wat sy vervoer kan reël Jakobus se verjaarsdagpersent laat afhaal. In haar geestesoog sien sy al die varkie heel gerooster soos net haar swaer kan – pragtig geglassuur met ‘n appeltjie in die bek en ‘n wortel...

Dit vat al Daisy se oorredingsvermoë om twee weke later vir Plore te oortuig om ‘n klein ompad te ry om die verjaarsdagpersent saam te bring wanneer hy vir sy pa se verjaarsdag van Pretoria af kom. Uiteindelik het Daisy geen ander keuse as om vir Plore af te pers nie:
“Hoorie my liewe nefie, as jy nie daai onskuldige ou pienk varkie in jou kar het wanneer jy hier aankom nie, is daar ‘n storie of twee wat ek dink jou ma’le vreeslik baie sal in belangstel. Onder andere oor watse soort buurvrouens jy mee vriende maak daar in die bose stad...” Dit raak doodstil aan die ander kant.

“Of wat van die aand daar in Hatfield toe jy eintlik moes studeer...” Dié keer het Daisy nie nodig om haar sin klaar te maak om vir Plore te oortuig nie. Daar is ‘n groot sug en een medium-lelike woord.
“Nouja toe, Daisy. Dis nie nodig dat jy dit so invryf nie. Ek skat ek is jou dankbaar vir baie dingetjies wat jy vir my doen, maar met hierdie één guns is die bord skoongevee, hoor jy? Dan skuld ek jou niks meer nie!”

“En ek doen dit net omdat jy my oortuig het watse skoon diere varke eintlik is,” voeg hy by. “Jy weet hoe heilig ek is op my kar...”

Die Vrydag van Die Verjaarsdagnaweek is Daisy die ene glimlaggies. Sy doen haar werk op die plaas terwyl sy af en toe spontaan begin sing “How much is that piggie in the window, oink oink...” Die pakkers in die pakhuis wat al min of meer alles van Daisy gewoond is, lag net en moedig haar aan met ‘n paar danspassies om nog te sing.

Dis toe ook net na tjailatyd wat Plore se silwer karretjie met ‘n spoed deur die plasse water jaag op pad huistoe. Hy waai nie uitbundig soos sy gewoonte is nie, hy stop nie eers om vir Daisy op te laai langs die pad nie. Die donderweer op sy gesig is blouer as die dreigende wolke wat oor die Soutpansberg saampak.

‘n Ent van die huis af hoor Daisy al die gejil van ‘n beangste vark en die opgewonde stemme van Ousus, Precious en Plore. En die bekende maaglag van Jakobus wat in onkeerbare sarsies bo dit uitstyg. Die honde blaf histeries en hardloop rondom Plore se kar.

Binne hoorafstand kan Daisy net Plore se woedende stem uitmaak:
“Hoe de hêl kry ek die gedierte hier uit? Kom help, Precious! Pa, hou op lag en kom vat daai kant ... Ma, praat met Pa – dis ernstige moeilikheid hierdie! As ek daai sussie van Ma in die hande kry, wurg ek haar vir ‘n week lank!” Daisy besluit dis veiliger om vir ‘n stappie in die bos te gaan.

Later die aand, toe almal buite op die stoep sit en die braaivleisvuur al goed kole maak, hoor Daisy toe die storie van ‘n meer bedaarde Plore.

“Jy vertel my dit gaan so klein pienk varkie wees, Daisy. Jy sê ek sal die ou dingetjie in ‘n handdoek kan toedraai en by die voetruim aan die passasierkant kan laat lê. Jy het my belowe die gedreun en gewieg van die kar sal dit soos ‘n babatjie laat slaap, dat ek nooit sal weet dat daar ‘n onskuldige diertjie in die kar saam met my is nie...”

“Wel, my liewe tannie, ek vermoed jy het nog nooit ‘n Landrasvark gesien nie. Landras speenvarkies is nie cute of pienk nie, hulle is HUGE! G’n handdoek sal om daai lyf gaan nie, toe gooi hulle die ding in ‘n streepsak en sny net ‘n stukkie uit vir die snoet. En al waar die varkie inpas is agter in die kattebak!”

“En van Potties af tot hier het daardie verjaarsdagpersent van my pa nie ‘n oomblik opgehou skree of skyt nie! Het jy enige idee hoe ruik my kar?!”

Jakobus se hele lyf begin weer ruk van die lag.

 
 
 

Viewed: 435

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT