ADVERTISEMENT:

 

 
 

27. Daisy herontdek die vreugde van ‘n Paasnaweek

Date: 25 April 2014 By: News Correspondent

“Daisy, het jy al planne vir die Paas­na­week?”

Dis so vroeg in die oggend dat Daisy nog nie eers weet wat haar eie naam is nie. Vervaard sit sy regop in haar bed en gluur vir Ousus aan asof sy sopas van Venus op haar bed geland het. Haar een breinsel (wat net weet hoe om koffie te maak!) registreer niks.

“Watse naweek, Ousus? Waarvan praat jy?”

“Daisy, fokus,” sê Ousus in haar beste onderwysstem. “Iemand by die skool kan nie meer die Paasnaweek Ballito toe gaan nie en nou wil sy haar akkommodasie vir ons aanbied. Maar Jakobus sê dit is buite die kwessie om nou van die plaas af te gaan, toe wonder ons of jy nie graag wil see toe gaan nie?”

“Jis Ousus, dit klink na ‘n plan.” Daisy is skielik wakker. “Maar wag ‘n bietjie – waar is die vangplek?”

Ousus sug. “Ek het gedink as ek jou vroeg genoeg wakker maak, sou jy nie agterkom daar is ‘n voorwaarde nie! Dis net, jy weet, Plore studeer so hard hy verdien dit om bietjie weg te breek. Maar ons is bekommerd – hy is mos nog nie streetwise genoeg om op sy eie saam met sy vriende so losgelaat te word nie. Mens hoor allerhande rillerstories...”

“En jy wil hê ek moet saam met Plore en sy studentepêlle Ballito toe gaan vir die Paasna­week? En ek moet hulle oppas?” Ousus knik versigtig.

“Jippieeeeeee!” skree Daisy. “Dit klink wonderlik, ek loooooove sy pêlle - hulle is vet pret! Jy kan maar vir daai kollega van jou sê dis reg. Plore kan solank petrol in die kar gooi en ek sal beskuit bak. Miskien moet ons sommer ‘n dag vroeër gaan en ‘n dag later terugkom, wat dink jy Ousus?”

“Dis vir ‘n hele week, Daise. En vreeslik dankie, ons gesels later oor al die details. Lekker dag vir jou!”

Dit word ‘n road trip wat Daisy altyd sal onthou. Die skerp studentehumor, die harde musiek, die passievolle energie en entoesiasme. Sy verlustig haar in die feit dat sy die enigste meisiemens is saam met die drie studente en dat hulle haar op die hande dra met goeie, outydse maniere. Sy lag vir hulle planne om meisies te ontmoet en hoeveel shooters hulle gaan drink. Sê Plore: “Antie, gaan jy absoluut die héle tyd by ons wees en gaan jy absoluut álles vir my ma’le vertel?”

“O ja, Plore. Ek neem dit baie ernstig op dat julle in my sorg toevertrou is. Ek gaan hééltyd by julle wees.” Hulle kyk bekommerd na mekaar en sien nie hoe Daisy binnetoe glimlag nie.

Dis vroegmiddag toe hulle hulle voete natkry in die see. Eerste dinge eerste en die prioriteit is beslis nie om af te pak nie. ‘n Paar biere by Hops op die strand spoel oor na pizzas vir aandete en die jongmanne is gelukkig om te loer na talent. Dis eers na agt toe hulle uiteindelik by die blyplek uitkom. Terwyl Plore en sy pêlle die bagasie uitlaai, storm Daisy solank na die woonstel om dinge te bekyk.

By die voordeur gaan staan Daisy stil. Haar mond hang oop van skok.

Die ou, gebleikte blou meubels kan nog gaan. Maar oranje matte daarby? Elke oppervlak is toegehekel met vergeelde lappies. Die lieflike antieke eetkamertafel is toegegooi met drie verskillende lappe – bo-op die tjiep kanttafeldoek is ‘n groen tafeldoek en bo-op dié is ‘n pienk fluweellappie met goue borduursels wat lostorring. Die fokuspunt van die eethoek is ‘n formele koekbord op ‘n pilaar met prentjies van elke denkbare blom en vrug op die porselein.

In die sitkamer is daar ‘n televisie op die een rak van die nagemaakte houtkonstruksie wat jare gelede deel was van iemand se verbeelding­lose kantoor. Die televisie is so groot soos ‘n klein­erige tablet se skerm. Daar is ‘n ou DStv dekodeerder (sonder ‘n afstandbeheer), springen­de perde in perlemoenoranje glasering en dan die hoogtepunt van die interieurontwerp: ‘n ou blik ysbak met stowwerige plastiekblomme – poinsettias, verskrompelde rose, grasse en, net vir ‘n ekstra gril, vuil piesangs.

Daisy is stom. Sy stap deur die woonstel, on­be­wus van die spelerige studente wat lawaaierig stoei vir die beste kamers. Die skokkende dekor word erger – dolfyngordyne en duvetoortreksels in elke kamer. Goedkoop afdrukke van dolfyne wat skeef-skeef en met stukkende rame aan die muur vasklou, seeperdjies en visse is in gillende geel en groen keramiek skuins teen die muur gehang. Daar is plastiek Barokspieëls, klein kosmosprentjies, ingeduikte aluminiumpotte, plastiek messegoed en net een getjipte wynglas.

Op die naaste vuilblou bank gaan Daisy sit. Sy begin saggies huil toe die reuk van babapie­pie haar neus tref. Dis Plore wat eerste besef daar is fout. Sy vriende staan verskrik en kyk hoe Plore sy arm om Daisy se skouers sit; dis nie hoe hulle die blonde maltrap ken nie.

Plore wil nog troos toe Daisy die volgende oomblik opspring en soos ‘n demoniese warrel­wind deur die woonstel trek. Sy pluk al die hekel­lappe van die tafels af, gryp die ysbak met plastiekblomme, die lelike koekbord en stop als in ‘n kas in. Daarna rol sy die oranje matte op, haal die aaklige tooisels van die mure af en gooi als onder beddens in.

Right, ouens – dit lyk klaar beter,” sê Daisy hand op die heup.” Môre sal ons gaan shopping doen en dan sal die hele plek anders lyk! Hierdie versterk net my persoonlike teorie dat mense met geld om strandplekke te bekostig òf suinig is, òf geen smaak het nie! Maar hulle verwag darem dat die mense wat daar tuisgaan hulle belegging help afbetaal. Gmpf!” Drie jong gesigte staar terug na haar toe. Hulle het nie die vaagste benul wat in Daisy ingevaar het nie; vir hulle is die plek perfek.

Die volgende middag sit die vier by Craw­daddy’s en eet. Daisy lyk asof sy room gesluk het. Sy drink behaaglik aan haar vonkelwyn en slurp nog ‘n vars oester op terwyl sy tevrede oor die see uitkyk.

“Dis mos hoe dinge moet wees! Daai bos wit irisse het al die verskil in die wêreld gemaak aan daai mismoedige woonstel en hier sit ons ou viertjies en beleef ‘n stukkie van die hemel! Het julle enige idee hoe koud dit nou in Gauteng is en hier sit ons met seesand aan ons kaal voete ... Life is good!”
“Nou moet ek dit nog net regkry om julle klomp  karnivoriese steak-eters te bekeer en te leer oesters eet. Maar daar is darem nog so vyf dae oor. Hoe lyk dit – wil julle vanaand alleen die dorp gaan verken? Ek sal niks sê nie...”

En alvier lag oor die lewe goed is en die son baldadig oor hulle kaal skouers bak.

 
 
 

Viewed: 370

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT