ADVERTISEMENT:

 

 
 

29. Daisy vat die leisels en knor vir die buurman

Date: 09 May 2014 By: News Correspondent

Vir ‘n Maandagoggend verloop alles vlot in die pakhuis. Almal het opgedaag vir werk, ten spyte van die gewone snuffels en niese dié tyd van die jaar, die plukkery vorder fluks en die babagroentetjies se kwaliteit is uitstekend.

Daisy neurie iets van Nora Jones en maak grappies met die vrouens wat vlytig pak. Sy vra uit na hulle families en luister na die stories van hulle lewens. In ruil vertel sy vir dié wat uitvra oor haar eie lewe. Vir die vrouens in die pakhuis is die grootste misterie dat Daisy steeds ongetroud en sonder kinders is. Ook dat sy nie ‘n kar het nie maar met Miss Soft Serve orals heen ploeter. Daisy is al gewoond aan die vrae – nie net van die plaasarbeiders nie, maar ook van die meeste mense in die omgewing wat Daisy as buitengewoon eksentriek ervaar.

“Tot my eie bloedsuster dink ek is vreemd,” mymer Daisy. “En dit net omdat ek my datums vir Moedersdag verkeerd gehad het! Maar as mens na jou ma verlang, dan is datums mos nie belangrik nie?” Daisy kan nog nie daaroor kom oor hoe lekker Ousus en Jakobus gelag het toe sy hulle van die piekniek by die Haantjiekerk vertel het nie.

“Enigeen kan mos ‘n fout maak!” mor sy verder. “Nou kan ek darem twee keer hierdie jaar Moedersdag vier...”

So verdiep is Daisy in haar eie gedagtes en die eentonigheid van haar administatiewe take dat sy haar skoon bewerig skrik toe die man langs haar praat. Die eerste ding wat sy oplet is die blouste, blouste oë.

“Vir wat bekruip jy mens so? En hoekom stel jy jou nie voor soos enige ordentlike mens nie?” Daisy pluk haar dadelik op van pure skok.

“Okei, okei. Laat ons oorbegin.” Die vreemdeling loop terug na die deur van die pakhuis toe. Hy skree oor die geraas van vervoerbande: “Goeiemôre! Kan ek maar inkom?”

Daisy lê terug in haar stoel en kruis haar arms op haar maag. Sy kyk die man behoorlik deur. Op die oog af lyk hy soos die res van die boere in die omgewing – kakieklere, regte leer Cats, bruingebrande, gespierde bene. Maar dié een smokkel nie met waatlemoene onder sy hemp nie – sy lyf is gebeitel met spiere op al die regte plekke en hy lyk heeltemal in staat om ‘n leeu aan sy snorbaarde rond te swaai.

Sy wink hom nader. “Nou weet ek hoekom ek jou nie gehoor het nie – dis al die meganika. Nou goed, wat wil jy aan my smous?” Daisy mors nie tyd nie.

“Mevroutjie, dis meer kompleks as dit. My naam is Bernard Young. Nie Barry of Barries nie; Bernard. Ek verkoop vervlaks niks nie. Maar ek is ook nie hier vir buurskaplike koeitjies en kalfies nie – ek is hier omdat ek pleinweg moerig is. Daar is ‘n probleem met die water op my plaas en ek het bewyse dat die oorsaak hier by julle is. Waar’s jou man? Ek wil dringend met hom praat.”

“Aangename kennis, Meneer Bernard Young.” Daisy lê steeds terug in haar stoel met gevoude arms en ’n onnutsige glinstering in haar oë. Sy verlustig haar in die man se afgemete woorde wat duidelik sy onsteltenis onderdruk.

“Ongelukkig is die baas van die plaas in die Caprivi op ‘n privaateiland. Hy hengel. Vir twee weke. Maar jy kan gerus met my gesels. Hoe kan ek jou help?”

Bernard gee een tree terug. Nou is dit hý wat Daisy van bo tot onder bekyk – die lang bene in stywe Sissy Boy jeans, ‘n wit t-hemp wat heelwat van haar Paasnaweek se sonbruin afwys, haar blonde hare wat amper tot op haar heupe hang, die lipglans wat haar vol lippe beklemtoon...

Hy skud hy sy kop. “Ek vermoed die pro­bleem is heeltemal te tegnies van aard vir jou om van hulp te wees. Maar dankie vir die aanbod. Het julle ‘n voorman hier op die plaas, Mevrou? En is hy heeltemal au fait met die vereistes van GlobalGAP?”

Daisy sukkel om ‘n giggel te onderdruk.

“So ‘n cheek, nê? Dis ook maar goed ek is in ‘n gawe bui vir ‘n Maandag en daar is niks blou tot dusver aan hierdie dag nie. En dan is hy nog ‘n chauvinis ook...” dink Daisy.

“Hoorie, Mevrou, my Maandag is blou genoeg sonder om ook nog beledig te word. Ek is bly vir jou dat jy in ‘n goeie bui is, maar kan jy nou asseblief julle voorman kontak sodat ek met hom praat?”
“O gaats,” sê Daisy. “Het ek sowaar hardop gedink? Of kan jy dalk gedagtes lees?”
“As ek gedagtes kon lees, sou ek my eie teikens gekies het, dié met aansienlik meer substansie. Die voorman, Mevrou? Ek het nie heeldag tyd nie!”
Toe wip Daisy haar.

“Ou Barries, jy kyk na die persoon wat die naaste aan ‘n voorman is op hierdie plaas. Mi­skien sonder substansiële gedagtes, maar darem genoeg grysstof om dinge te laat vlot terwyl die baas van die plaas ‘n welverdiende wegbrekie vat. Praat, ek luister.”
Daisy verlustig haar aan die man se ontstelte­nis.
En dié keer dink sy nie hardop nie: “Vat so, jou vaal vark met die blouselblou oë. As jy oor­log wil hê, is jou wens vervul...”

(word vervolg)

 
 
 

Viewed: 328

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT