ADVERTISEMENT:

 

 
 

33. Daisy se “bling” verskuif van haar rok na haar oë

Date: 13 June 2014 By: News Correspondent

“Daisy, die afgelope maand was van die beste in my hele lewe,” sê Bernard in Daisy se nek. “Maar dit was ook een van die besigste maande ooit.”

“Jy het my bygestaan en op die hande gedra, my gehelp met GlobalGAP en elke aand vir my kos gemaak...”

“Ag, Bernard, jy weeet mos kosmaak is vir my ‘n plesier en glad nie werk nie! En dis juis so lekker om kos te maak vir iemand met gesofistikeerde smaak, iemand wat my kos waardeer en nie dink die wêreld begin en eindig by rys, vleis en aartappels nie.”

“Wat ek wou sê, Daisy, is dat ek jou graag wil uitvat vir ete vanaand. Trek vir jou ‘n swart nommertjie aan en dan kom haal ek jou so sesuur. Maar jy moet uithang, hoor. Bling van bo tot onder.”
Bernard gee vir Daisy ‘n skrams soen op die wang en, voor sy ‘n woord kan uitkry, ry hy in ‘n stofwolk weg.

“Gmf,” dink Daisy. “Waar op aarde het jy nou al gesien mens dress op vir ‘n ete by enige van die restaurante hier rond? Die man het regtig nog nie die omgewing leer ken nie...”

Stiptelik sesuur stop die Land Cruiser by Daisy se blyplek. Sy reageer doelbewus nie dadelik op Bernard se klop nie. Sy rek die oomblik uit totdat sy doodseker is dat sy volle aandag op haar binnekoms is, dat hy die volle effek van haar voorkoms sal waardeer.

Bernard is met stomheid geslaan. Voor hom staan ‘n droomvrou: ‘n klassieke swart rok wat op die regte plekke aan haar kurwes kleef, haar blonde hare hang sysag en reguit teen haar rug af, swart sykouse en swart spykerhakke met groot diamanté versiersels op die tone, glinste­rende diamanté oorbelle en halssnoer.

“Jy kan nie só uitgaan nie, Daisy!” sê Bernard ontsteld. “Daar behoort ‘n wet daarteen te wees, ek kan nie manalleen so saam met jou uitgaan nie...”

“Bernard, het jy koors of iets? Wat gaan met jou aan? Ek is heeltemal kuis aangetrek!”
Daisy se lip begin bewe.

Bernard kyk vir Daisy aan asof sy pas uit ‘n vreemde vlieënde voorwerp geklim het. Dan maak hy sy keel skoon.

“Nee Daisy, moet asseblief net nie huil nie! Ek is vreeslik jammer ek het myself so vrot uitgedruk. Wat ek eintlik bedoel het, is dat jy vreeslik mooi lyk en ek weet nie hoe ek alleen al die wolwe van jou af gaan weghou nie!”

Net toe kom Ousus om die hoek gestap, omring van al die plaashonde. “Jitte, Daisy, maar jy lyk pragtig! Jy ook Bernard, ewe gekoller en getaai. O, en Bernard, ek het die goedjies wat jy voor gevra het sommer agter op jou bakkie gelaai, hoor. Julle moet die ete geniet...” en sy verdwyn pad-af met al die honde.

“Nou toe kom, Daisy. Ek is nou oor die ergste skok. Kom, ons het nog ‘n hele entjie voor ons kan ontspan.” Daisy se gesig is die ene vraag­tekens. Iets is nie heeltemal pluis nie.

Haar agterdog word nog groter toe hulle terugry na Bernard se plaas. Hy stop by die vliegveld en help Daisy om met haar nousluitende rok en hoëhakskoene uit die bakkie te klim. Hy hou haar elmboog vas terwyl hulle aanstap vliegtuig toe.

“Waar het jy nou weer gesê gaan ons eet?” vis Daisy nuuskierig.

Bernard lag net. “Nee, Daisy, ek het niks gesê nie. Maar ek kan jou solank sê dat dit nie aan hierdie kant van die Soutpansberg is nie. Ek kry net gou die goed in die bakkie en dan kan ons gaan.”
Vir die eerste halfuur van die vlug kry Bernard nie ‘n woord in nie. Daisy babbel aanmekaar van pure senuweeagtigheid. Sy vertel vir Bernard hoe lieflik die son ondergaan, sy vertel van die eerste keer toe Plore gevlieg het, sy vertel hoe bang haar pa was vir vlieg. Later begin sy sing “Fly me to the moon...”

Midrand se liggies kompeteer met Daisy se bling toe hulle by Grand Central land. In die lughawegebou wag ‘n man in ‘n swart uniform hulle in. Hy pak die tasse agter in ‘n swart Mercedes en wag dat Daisy en Bernard hulle sit kry en hulle gordels aan het voordat hy vir elkeen ‘n glas Franse sjampanje skink.

“I have spoken to the restaurant manager, Dr Young. They are aware that you may be a little later than your original booking time. But we should make it in good time to the Saxon; just sit back, relax and enjoy your wine.”

“Die Saxon? Die Saxon?” dink Daisy, en skielik is sy vreeslik bly dat sy soveel moeite met haar voorkoms gedoen het.

(Deel 2 volg.)

 
 
 

Viewed: 263

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT