ADVERTISEMENT:

 

 
 

36. Daisy kry die son, maan, sterre op ‘n skinkbord

Date: 04 July 2014 By: News Correspondent

Vir ‘n sekonde of twee kan Daisy nie beweeg nie. Sy kyk stip in Bernard se blou oë asof sy besig is om te verdrink.

“Daisy, is jy okei? Hei Daisy, hierso, drink ‘n slukkie sjampanje. Dis nie so ‘n groot ding nie, Daisy. As jy dit nie wil doen nie moet jy maar net so sê? En as dit Baardman is, sal ek verstaan...”

Daisy vlieg op en trek die wit kamerjas stywer om haar vas. “Van alle vermetelheid wat ek nog ooit van ‘n man moes aanhoor, vat hierdie die koek! Wat laat jou dink dat jou mooi praatjies en kammalielie stories my sal oortuig om soos ‘n vrot vel in jou arms te val? Agge nee, Doktor Young, ek het beter van jou verwag! En toe trap jy ook netjies in die strik om te glo dat, net omdat ek blonde hare het, ek ook geen brein het nie! Die blonde grappies is nie altyd waar nie, het niemand op universiteit jou dit vertel nie?”

“Hokaai, Daisy! Gee my net ‘n oomblik ... Gits, ek het hierdie heeltemal verkeerd benader!
“Daisy, mooi asseblief. Sit vir vyf minute en luister verder. Laat ek net klaar praat, dan kan jy self besluit of jy my nog wil ken. Net vyf minute, asseblief Daisy?”

Sy blou oë is opreg ontsteld en pleitend. “Vyf minute, Bernard. Net vyf. Dan gryp ek my koffer en jy sien my nooit weer nie,” grom Daisy.

“Jy sien, ek het nou só gedink, Daisy: miskien wil jy graag die volgende maand daar by my kom bly en die dinge uitkyk. Jy het jou eie slaapkamer, badkamer en sitkamer. Ons kan ‘n tafel en stoel en vir al jou CD’s, radio en rekenaar plek maak en jy kan daar sit en skryf aan jou boek. Jy kan nog steeds by die pakstoor werk vir die afsienbare toekoms, maar miskien kan jy vir Jakobus vra om te kyk vir iemand anders.

“As alles goed gaan en jy het deeglik hieroor nagedink, dan wil ek graag hê jy moet beskikbaar wees om orals saam met my te reis. Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek die vrou van my drome sal ontmoet op Waterpoort nie! Ek het hoegenaamd nie hiervoor beplan nie...”

“En jy dink regtig jy sal die bos uit die vrou kan vat, Bernard? Hierdie fênsie hotel, so pragtig en luuks soos wat dit is, gee my klaar ‘n asemnood! Ek mis my hoenders en hulle kraaiery! Ek mis die son wat oor die kremetartbome opkom! Dis flippen vreeslik koud hier. En almal is vreeslik ordentlik en ek moet my gedra...

“Waar is jou gesonde verstand, Bernard? Dis nie eers ‘n volle twintig uur nie! As alles waar is wat jy my gisteraand vertel het, gaan ek beslis nie in jou rêrige wêreld inpas nie. Buitendien is ek te oud om airs en graces te ontwikkel en elke dag haai polfaais te dra, net om jou soort mense te beïndruk. Ek is heeltemal tevrede met wie ek is, baie dankie!”

Daisy steek bewerig ‘n sigaret aan. “En wat jy ookal doen, moet my net nie nou herinner daaraan dat ek nie hier mag rook nie!” tier sy voort.

“Ek het nie al die antwoorde nie, Daisy,” sê Bernard bedaard en nugter. “Al wat ek weet is dat ek jou in my lewe wil hê. Vir altyd. Maar ons moet iewers begin en elke dag net vat soos dit kom, totdat ons ‘n manier vind wat ons al­twee pas. Jy moet besef dat jy so veel en so lank as wat jy wil plaas toe kan gaan – my vliegtuig sal altyd tot jou beskikking wees. En ek gaan nie vir ‘n oomblik verwag dat jy moet verander nie. Ek het smoorverlief geraak op jou, alles van jou. Hoekom sal ek nou enigiets van jou wil verander?”

Daisy bly lank stil. “Laat ek dink hieroor, Bernard. Ek het nie geweet dis hoe jy oor my voel nie. En moenie so na my kyk met daai blou oë van jou nie – dan kan ek gladnie ‘n enkelte rasionele gedagte in my kop vorm nie!

“Maar ek gaan ook nou nie dat hierdie ernstige ding ons tyd hier ruïneer nie. Dink jy ons kan Pretoria toe gaan vir die dag? Daar is soveel dinge wat ek jou daar wil wys ... Die Hazel Food Market en, as ons gelukkig is, kan ons miskien ‘n plek bespreek vir middagete by Moroccan House – by hulle dakkafee. Wat sê jy daarvan?”

“Vir jou, my liewe, mooie Daisy – die maan op ‘n silwer skinkbord!”

 
 
 

Viewed: 331

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT