ADVERTISEMENT:

 

 
 

68. Daisy ontmoet weer Oom Schalk Lourens

Date: 12 March 2015 By: 

Plore kom by die sitkamer ingehardloop.

“Daisy, is jy ok?” vra hy angstig.

Trane loop oor haar wange en dit neem ‘n rukkie vir Plore om agter te kom dat sy gunste­ling tante nie huil nie, maar lag. Onkeerbaar, welluidend en diep uit haar maag uit. Elke keer wanneer sy haar oë afvee en hikkend probeer ophou, tref nog ‘n lagstorm haar.

Plore, nou seker daarvan dat sy tante haar nie aan weemoed oorgegee het nie, is steeds onrus­tig aan die rondkyk vir ‘n leë wynglas of pilboksie wat die onheilige gelag dalk veroorsaak het. Dit laat Daisy nog meer lag. Sy beduie vir Plore na haar voete toe. Uiteindelik snap Plore – die boek wat by haar voete lê is Die Oorsaak. Teen dié tyd is Plore reeds aan die lag – vir Daisy. Vir ‘n goeie tien minute dreig histerie.

“Kan nie meer nie, Plore! Hou nou op ... Kan nie...” Daisy is uitasem. Sy vee haar oë en neus aan haar T-hemp se mou af. Plore lê op die ander bank, net so uitasem. Af en toe gee hy ‘n laaste hik en proes. Uiteindelik lyk en klink hulle weer na mense sonder verkoue of hoë bloeddruk.
“Ok, Daisy, ek gaan maak vir ons rooibostee met warm melk soos my ma altyd maak in ‘n krisis en dan moet jy asseblief vertel hoekom ons so gelag het.”

Daisy begin sommer vertel terwyl Plore doenig raak met teeketels en dinge.

“Plore, my gunsteling peetkind, laat jou antie nou vir jou ‘n wyse ding vertel: daar is meer terapie in lag as in huil. Niks beter om van al die muisneste en spinnerakke ontslae te raak nie! Ek het die afgelope twee dae glad nie eers gedink aan troues of gastehuise nie. Pure, pure bliss. En die bonus was dat jy ook aangesteek het en nou voel jy ook wonderlik ... Dis amper soveel pret as om na ‘n ruk-en-pluk dokter toe te gaan, net vroliker.

“Ek het laas so ‘n lagaanval gehad toe ek Asterix gelees het! Daar was hierdie een klein prentjie van ‘n Romeinse soldaat se voet met ‘n omkrul groottoon wat so pas uit sy sandaal gefoeter is deur Obelix ... Laat ek liewer nie in detail ingaan nie, ek voel my lagspiere wankel.

“Jy weet mos ek kan nie ou boeke weerstaan nie, en Sondag by daardie mark waar jy die girls so beloer het deur jou sonbril ... Wel, ek het al vergeet van Oom Schalk Lourens en Abjaters­kop en die Groot Marico, tot ek Mafeking Road daar uit die hoop uitgrawe.”

Daisy hou die boek op dat Plore mooi kan sien – stowwerig en vergeel, maar onmiskenbaar Herman Charles Bosman.

“Dis nou jammer dat jy eintlik besig is om te swot hierdie rukkie wat jy by ons in Johannes­burg kuier, want ek weet dit is perfek vir jou sin vir humor,” sê Daisy vroom. “Ag, en ek weet jy is maar bietjie lui om te lees, maar aangesien dit Engels is, sou dit nou handig wees vir jou boekverslag wat volgende week moet klaar wees...” Slinks. Daisy het nie nodig om veel verder te praat nie; Plore kwyl alreeds oor die boek. “Antie Daise, soos hulle sê in die flieks, any friend of yours ... ensovoorts. As hierdie boek jou so laat lag het, moet ek doodeenvoudig lees. Dadelik. Waaroor gaan dit?”

Daisy begin weer gevaarlik giggel. “Waterpoort,” sê sy.

“En perskebrandewyn.”

(Deel 2 volg)

 
 
 

Viewed: 144

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT