ADVERTISEMENT:

 

 
 

85. Daisy systap die stad se beurtkrag aanslae (2)

Date: 16 July 2015 By: News Correspondent

“Dit is lanklaas wat ons tequila gedrink het, of hoe Kathy?” vra Daisy toe sy die tweede stukkie suurlemoen met skil en al opkou. “Ek dink dit was met daai trippie op die Bloutrein Kaap toe ... Onthou jy hoe baie oesters het ons geëet saam met die tequila?”

Kathy giggel en begin vertel hoe Daisy die fênsie toeriste volkspele op die Bloutrein geleer het. In die helfte van haar storie ... gaan die krag af.

Vir ‘n oomblik is daar stilte, maar by ‘n gewilde kroeg is daar min wat die momentum van brandewyn en Coke kan stuit. Daisy is egter dadelik weer woedend. Die kelners probeer troos met kerse en lampies, maar Daisy gryp haar karsleutels en vir Kathy aan die arm.

In die kar klou Daisy verbete aan die stuurwiel, haal diep asem en glimlag halfhartig vir haar beste vriendin. Kathy se gesig lyk soos ‘n donderwolk.

“Daisy, vir wat moet ons nou ry net omdat die krag af is? Ek weet vir ‘n feit dat hulle kragopwekkers het ... Buitendien, daai ou wat die eerste rondte tequila gekoop het, is nogal oulik! Dinge het net begin smeul tussen ons,” kla Kathy.

Daisy sug. “Daai oulike ou is ‘n oulike getróúde ou, Kathy. Sy vriend het my vertel hoe kwaai sy vrou is! Ek het jou gered. Buitendien, g’n mens se hongerte kan gestil word met twee stukkies suurlemoen nie; ek is steeds rasend honger! Jy moet nog die eerste restaurant kies, dan gaan eet ons ‘n voorgereg daar.”

‘n Uur later is hulle nog vasgevang in ver­keers­knope. Daisy praat in ‘n kreatiewe taal waarvan Kathy nog nie die gelyke gehoor het nie.

“!!@#$%^&*!! Mens sou sweer dis seweuur op ‘n Woensdagoggend – nie seweuur op ‘n Saterdagaand nie! Waar gaan al hierdie mense heen? Hulle kruip uit gate soos rysmiere ná die somerreën ... Weet die spul nie beter as om in die Eskomdonkerte op straat te wees nie? Daar is ook nie eers taxis of busse wat mens kan blameer vir hierdie taai gemors nie!”

Kathy bars uit van die lag. “Hemeltog, Daisy – ek het jou nog nooit so befoeterd gesien nie!”
“Miskien  het  jy my net  nog nooit so honger gesien nie, my vriendin...” mor Daisy. “Ekskuus. Ek het al vergeet hoe frustrerend die verkeer in die stad kan wees. Ek dink ek is amptelik besig om ‘n plaasmeisie te word – ek kan nie wag om weer op die plaas te kom nie!”

“Daisy, dink jy nie ons moet maar na die naaste plek toe gaan nie? Enige plek. Miskien is hierdie wonderlike idee van ‘n gastronomiese toer nie die beste om uit te voer tydens beurtkrag nie? En hier is ‘n Cape Town Fishmarket net ‘n halwe blok ver – ek weet jy geniet gewoonlik hulle kos, daar is genoeg parkeerplek en die heel belangrikste – DIE LIGTE DAAR IS AAN!”

‘n Dosyn of wat garnale later is Daisy haar vriendelike, snaakse óú self. Sy loer na Kathy oor die randjie van haar wynglas en sug behaag­lik.

“Dis nou presies wat ek nodig gehad het, Moeder Kathy! My gunsteling-seekos, goeie rooiwyn, ‘n kers nét vir atmosfeer en heerlike musiek. Partymaal het jy die greatste idees – of is dit net omdat jy my so goed ken?”

“Nee, Daisy – dis omdat ek vrees vir bloedvergieting op die strate! Ek dink nie ek het jou al ooit so kwaad gesien nie. Nou weet ek nie of dit jou bloedsuiker was of ‘n magtelose reaksie op die onaantasbaarheid van ‘n megakorporasie nie...”

“Gmf,” giggel Daisy. “Sulke hogere woorde en intellektuele insigte ... Wie sou nou kon dink dat beurtkrag so inspirerend kan wees?”

 
 
 

Viewed: 131

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT