ADVERTISEMENT:

 

 
 

86. Daisy en die wille welwillendheid (Deel 1)

Date: 23 July 2015 By: News Correspondent

“Ousus, wat jy gaan jy op Madiba se verjaarsdag doen om goed te wees vir iemand?”

“O dis maklik. Ek gaan laat slaap en vir Jacobus oorreed om vir my sy beroemde brêkfis in die bed te bring. Dan gaan ek rustig my toonnaels verf en my nuutste boek begin lees. Ek gaan báíe goed wees vir myself. Maar miskien as die man hom mooi gedra, sal ek jou swaer toelaat om die middag ‘n T-bone te braai. Wil julle oorkom?”

Daisy giggel. Sy het nie regtig gedink haar sus sal haar steur aan welwillendheid nie.

“Ek is tot in my kleintoontjies toe geskok!” spot Daisy. “Maar as ek eerlik is, moet ek beken dat dit die grootste moontlike treat sal wees vir Bernard as ons daar kom braai. Hy sê die spul in die Kaap met hulle fênsie braaikamers weet niks van ‘n mopanievuur nie.

“Maar ernstig nou, Ousus. Ek voel regtig ek moet iets doen. Vir die gemeenskap. Is daar ‘n sopkombuis op die dorp waar ek kan gaan werk vir die dag? Of ‘n skool wat ‘n laag verf nodig het? Ek weet mos nog nie mooi van die plaaslike projekte nie – net die wat ons hier op die plaas bedryf en daar is nie hulp nodig nie. En ek het so ‘n wrewel ontwikkel vir die stad met al die beurtkrag dat ek beslis nie daar iets wil doen nie. ”

Ousus bly ‘n rukkie stil. “Weet jy, ek kry altyd so heimwee en verlange na Mamma wanneer ek by die ouetehuis verby ry. Hoekom vind jy nie uit of jy iets vir die omies en tannies kan doen nie? Ek sal met Jacobus praat – miskien kan jy ‘n paar kratte groente vir hulle gaan aflewer?”

Daisy se oë blink. “Ek het geweet jy sal my inspireer, Ousus. Wat ‘n lieflike gedagte! Ek praat sommer nou met die matrone.”

Twee dae later kry Daisy ‘n ongewone oproep van haar sus af.

“Dêmmit Daisy, plaas jy nooit vir my gevra het wat my planne is vir Mandela se verjaarsdag nie. 
Ek het so uitgesien na ‘n rustige dag, veral omdat die skole alweer begin. Maar van ek met jou gepraat het, voel ek skuldig. Wat het jy nou besluit om te doen? Het jy met die matrone van die ouetehuis gepraat?”

Daisy sluk amper haar tong in. “Met wie praat ek nou?” vra sy baie agterdogtig.
“Ja toe,” sê Ousus. “Moet dit net nie te erg invryf nie, want nou-nou onttrek ek my aanbod om jou te gaan ondersteun.”

Ok, ok ... Maar ek kan dit wraggies nie glo nie. Ek is nie ondankbaar nie, jy verstaan? Eintlik sal dit nou vreklekker wees om so iets saam met jou te doen!

“Laat ek net so bietjie dink ... Matrone het gesê enige kosskenkings sal welkom wees en enige individuele aandag vir die oumense. Sy het gemeen ek kan dalk van my stories oor die Soutpansberg vir hulle vertel en dan kan ek lekker koek en tee borg.

“Jy het nie dalk lus om so bietjie die tannies se naels te versorg nie?” vra Daisy versigtig. “Ten minste hoef jy dan nie by die koek en tee betrokke te raak en oor ditjies en datjies te praat nie. Ek weet dit sal jou grensloos irriteer...”

Douvoordag op die 18de Julie stop Daisy met ‘n swaargelaaide Land Rover by Ousus.
Ousus loer nuuskierig na al die kratte en bokse. “Wat op aarde gaan aan, Daisy? Wat is al hierdie pakkerasie?”

“Klim, Ousus. Het jy al jou naelgereedskap? En mooi stemmige kleure van die naelpolitoer? Ek vertel jou van als op pad in dorp toe. Dit gaan ‘n héérlike dag wees; die ou girls en die omies gaan nie weet wát hulle tref nie! Hou duimvas hulle harte is besonder sterk vandag.”

Daisy se hele gesig straal van opwinding.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 154

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT