ADVERTISEMENT:

 

 
 

88. Daisy word uitgevang deur die skielike lente

Date: 06 August 2015 By: 

“Bernard, hier lewe ek in ‘n gekkeparadys en jy wend geen poging aan om my reg te help nie!” raas Daisy.

“Hokaai. Begin van voor af met iets soos ‘More my geliefde aanstaande man, jy is so kosbaar vir my, kan ek vir jou koffie en beskuit in die bed bring’ – of so iets.” Bernard vryf deur sy opstandige kussinghare en knip sy oë teen die bedlampie se skielike lig.

Daisy lag nie. Sy loop sonder teëpraat kombuis toe om koffie te maak.
“Iets is nie lekker met Daisy as sy so willoos en ernstig is nie,” dink Bernard en rangskik meer kussings agter sy rug.

“Okei, Daisy. Vertel  my van hierdie gekkeparadys,” nooi Bernard ekstra vriendelik toe Daisy die skinkbord op die bed neersit.

“Hier is mos nie winter agter die berg nie, Bernard. Ek is gewoond daaraan dat lente ‘n aankondiging maak daar in die stad. Dis eers toe Plore my vertel van die eerste lentereën in Pretoria dat dit tot my deurdring ... Ons TROU binnekort! Ons TROU in die lente! Nou wel laatlente, maar nogtans – daar is nie meer genoeg tyd om alles te doen nie. Ek lê al heelnag wakker en dink aan alles wat gedoen moet word. Niks gaan reg wees nie; wat gaan ons doen?”
Daisy begin huil. Bernard raak verbouereerd. ‘n Groot stuk beskuit breek af in sy beker koffie. 

Terwyl hy dit uitvis met ‘n teelepel dink hy hoe om vir Daisy te troos.
“Daisy,” begin hy dapper. “Wat is dit wat jou die meeste pla?”
“Als. Als. Ek wil nie meer trou nie!”
“Kom nou, Daise. Dis irrasioneel. Kom ons bekyk die sakie mooi en dan hanteer ons die goed wat jou pla een vir een.”
“Bernard, die probleem is jy. Jy is nooit hier nie en jy doen niks vir die troue nie. Ek moet als doen, als. Trourok aanpas, die strooimeisies tevrede hou, kyk dat al die blomplante versorg word, seker maak dat die gastehuis betyds klaar is, die plaaslike Oom Schalk Lourens stories skryf ... En jy klim net heeltyd in jou Spitfire en vlieg orals heen,” snik Daisy.

“Gmf. Sal dit help as ék die trourokpassings doen en die strooimeisies tevrede hou,” probeer Bernard weer ‘n bietjie humor.

Daisy gee hom ‘n aaklige kyk en huil harder. “Nes ‘n blêddie man is! Dink aan die strooimeisies terwyl sy bruid se lewe uitmekaar val!”

“Het jy nie lus vir sjokolade nie, Daisy?” verstaan Bernard skielik die simptome en druk vir Daisy styf teen hom vas.

“Ja, asseblief Bernard,” snik Daisy. “En sommer van die biltong ook. Met botter.”
Die eetgoed laat Daisy bedaar. G’n mens kan huil en weglê aan biltong terselfdertyd nie.

Later begin Bernard weer versigtig: “Daisy, ek dink ek weet hoekom jy so ontsteld is. Jou lus vir sjokolade en biltong bevestig dit net maar. Dis ‘n klein bietjie PMS...” Daisy se oë blits gevaarlik.
“Wa, wa, wa, wag nou Daise, en sit neer die biltongmes,” keer Bernard beangs. “Ek bedoel niks leliks nie en ek ontken glad nie dat jy vreeslik baie stres ervaar nie. Jy hanteer die stres net beter wanneer jou hormone saamspeel! Nee, moenie baklei nie, ek wil ‘n voorstel maak waarvan jy baie sal hou.”

Daisy prop weer haar kieste vol.

“Ek gaan vir Kathy bel en dan gaan haal ek haar vanoggend nog. Geen verskonings nie. Sy kom ‘n bietjie kuier en jou help met al die troudinge. ‘n Raakvatter wat jou verstaan sal die lewe net vir jou makliker maak. Jy sal rustiger wees as Kathy hier is en dan kan jy ten minste by jou skryfwerk vir die opening van die gastehuis uitkom.

“En nou, my liefste bruid, wat ek liewer het as enige strooimeisie ... nou klim jy terug in die bed en slaap. Ek sal sorg dat jy brekfis in die bed kry so teen elfuur en dan is ek en Kathy al amper hier.”
“Jy is die heel beste,” fluister Daisy voordat sy haar diep onder die duvet inwurm.

 
 
 

Viewed: 193

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT