ADVERTISEMENT:

 

 
 

89. Daisy word uitgevang deur die lente (Deel 2)

Date: 13 August 2015 By: 

Dis Kathy wat vir Daisy wakkermaak.

“Haai, my vriendin! Kom sit regop, ek het vir ons ‘mooi’ tee gemaak met jou ma se silwergoed en bone china. Skons ook gebak en aarbeikonserf saamgebring. Daar is ‘n vars brie kaas en room...”
Voor Daisy haar oë oopmaak, kom daar ‘n breë glimlag oor haar gesig en sy steek haar arms uit om vir Kathy ‘n slaapwarm drukkie te gee.

“Jy is die beste,” fluister sy heserig en vee ‘n sliert blonde hare uit haar oë. Sy kyk met groot waardering na die skinkbord en ruik aan die wit roosknoppe in die piepklein blompotjie. Dan begin sy, tot Kathy se konsternasie, saggies huil.

“Ek mis my ma. Hoe nader hierdie troue kom, hoe meer mis ek haar!”

Kathy laat Daisy geduldig toe om haar skouer papnat te huil. Toe sy bedaar, skink Kathy die Earl Grey tee en laai ‘n botterbroodjie mildelik met room en aarbeie.

Right, Daisy. Bernard het my so bietjie ingevul oor die situasie. Van hierdie oomblik af hoef jy nie verder alleen te bekommer oor die troue nie. Ek is hier om te werk en te kyk dat jou kop nie uithaak nie,” sê Kathy met die eerlikheid wat tussen beste vriendinne bestaan.

“Maar eerste dinge eerste: ek gaan vir jou ‘n skuimbad intap en jou klere regsit. Daarna gaan ons ry na die gastehuis en na die kweekhuis en jy gaan my vertel wat alles moet gebeur. Geen trane en selfbejammering meer nie, dis nou verby. Daar is nie tyd daarvoor nie.”

Dis ‘n lieflike dag in die bosveld. Vlieswol­kies en ‘n effense dynserigheid, maar in die veld is daar orals tekens van lente.

“Weet jy, Kathy, die lente hier is so subtiel. As mens nie die bos ken nie, kom jy eers agter die winter is verby as jy oor die eerste slang struikel! Maar kyk hier, alles blom: daardie wat jy daar sien is knoppiesdoring, dan die spierwit valsdoring, berggranate, wilde sering ... Hierdie jaar veral het dit my onverwags bekruip en ek het alles vergeet wat Jacobus my van die bos geleer het. Miskien het ek te veel tyd in die stad spandeer. Daar bekommer jy jou oor beurtkrag en lokomotiewe wat te groot is vir ons spoorlyne. Mens lewe nie so naby aan die natuur as jy elke oggend vasgevang sit op ‘n snelweg nie.”

Kathy luister verwonderd na haar vriendin.

“Daisy, toe jy besluit het om plaas toe te kom, het ek my reggeskud dat dit net die nuutste gril was vir jou. Dat jy net so bietjie vrede nodig gehad het om die stad weer aan sy snorbaarde te kan regpluk. Maar besef jy dat jy langer en langer tye hier op die plaas spandeer? Dat jy boots and all geval het vir die bos?”

“Ekke? Nog nooit nie, Kathy! Hierdie mense bly vir my vreemd. Duidelik is ek vir hulle ook vreemd, want alhoewel ons almal met tye saam kuier, word ons nie noodwendig in die binne­kringe toegelaat nie. Dis amper of Bernard en ek ‘n soort entertainment vir hulle is...”

“Ek praat nie van die mense nie, Daisy. Dis hierdie wêreld. Noord van die berg. Die bos. Die sonsondergange, die kremetartbome, die voëls ... En dan is daar ook die T-bones en die brannas en Coke rondom die vuur in die aand,” spot Kathy.

Bernard maak vroeg-vroeg al ‘n groot vuur in die boma. “Daisy, bel jou suster-hulle en nooi hulle oor. Ons gaan gróót gaan vanaand. Ek het juis ‘n paar van die manne ook genooi om vir Kathy te kom geselskap hou. As julle girls nou net vir ons pap en sheba maak...”

Daisy gee vir Bernard ‘n druk. “Ek dink ons kan so bietjie beter doen as net pap en sous. Laat jy dit aan my en Kathy oor – ons sal nagereg ook maak. Spesiaal om die lente te vier.”

Toe daar in die nanag stilte neerdaal nadat die laaste singende manne se bakkies hulle pad huistoe gevind het, sit Daisy en Bernard nog by die vuur.

“Miskien is Kathy reg, Bernard. Die bos kom kruip in jou bloed in. Kyk hoe helder is die maan vanaand, en die jakkalse wat so roep... 

“Dis nie die skielike lente nie. Dis nie die stres van die gastehuis se bouery en die troureëlings nie. Dis nie eers PMS of omdat ek my ma mis nie. Dis die Limpopowater van my kinderdae wat my vasknoop aan hierdie wêreld en ek wil nooit hier weggaan nie. Ek wil net vir altyd gelukkig hier saam met jou bly, en ek is bang jy wil hê ons moet liewers in Johannesburg gaan nesskrop.

“My gypsy-vlerke is geknip, so sonder dat ek dit agtergekom het en ek het my hart op meer as net jou verloor.”

 
 
 

Viewed: 167

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT