ADVERTISEMENT:

 

 
 

90. Daisy en die gastelys vir die troue (Deel 1)

Date: 20 August 2015 By: 

“Daisy, dis geen blêddie wonder dat jy so oorweldig voel met jou getrouery nie,” sug Kathy.
Hulle werk in die kweekhuis en is omring deur die belofte van duisende wit blomme. Struike en bome is reeds by die gastehuis geplant en wat oor is in die kweekhuis is in hangmandjies en lieflike keramiekpotte.

“G’n mens met gesonde verstand ... Ja, toemaar, ek weet – dit was weer ‘n prentjie wat jy in jou kop gehad het, nê? Hoe jy in ‘n wasige wit rok tussen al hierdie wit blomme afsweef na jou geliefde toe, duisende wit skoenlappers en wit duiwe en wit wollerige katjies?”

Kathy vee die sweet van haar bolip af.

“Dis nou ‘n puik idee, Kathy! Waar dink jy kan ‘n mens duisende wit vlinders kry?” Daisy sien genadiglik nie die skok op Kathy se gesig nie.

“Ek gee op, Daisy. Kom ons gaan drink tee sodat ek bietjie sense in jou koppie kan inpraat.”
Terwyl Daisy die Earl Grey inskink, begin Kathy aantekeninge maak.

“Vertel bietjie weer vir my, Daise. Wie kom almal na die troue toe hier op die plaas?”

“Wel ... Natuurlik die familie, myne en Bernard s’n. Dan is daar ons pelle en Bernard se besigheidskonneksies hier en van die buiteland. Dis hoekom ons gedink het ons kan sommer die opening van die gastehuis laat saamval met die troue, want almal sal moet oorbly en als sal pragtig wees. Dis ook hoekom ek so werk aan die stories oor die plaaslike omgewing – mens moet iets hê om die mense mee te vermaak; veral in die aande om die vuur.”

“Daise, sal julle nie dalk oorweeg om liewers die opening van die gastehuis uit te stel nie? En miskien kan julle die troue hier op die plaas baie klein hou en dan nog ‘n troue reël in Johannesburg vir die fênsie besigheidsmense van Bernard? Dan strek ons die verrigtinge uit na drie geleenthede en nie net een groot tandetrekpyn van ‘n supershow nie?”

Kathy hou al hoe meer van haar eie plan soos sy aangaan om dit vir Daisy te verduidelik.
“Die troue in Johannesburg hoef jy nie eers self te reël nie. Dit kan ‘n formele dinee by daai boetiekhotel wees ... Jy weet, daai een waar Bernard jou na toe gevat het toe julle net begin uitgaan het ... Wat is die naam nou weer?”

“Die Saxon,” sê Daisy ingedagte. “Maar dis flippen grênd en dis flippen duur, Kath...”

“Daisy, partymaal wil ek jou skud. Jy weier om te aanvaar dat Bernard skatryk is. Jy weier dat hy jou op enige manier bederf. Jy het tot die splinternuwe Land Cruiser wat hy vir jou ge­koop het, verruil vir ‘n ou Land Rover. Die arme man is al besig om ‘n kompleks te ont­wikkel omdat hy welaf is! Dis hoekom hy nie die idee van die Saxon aan jou wil opdring nie – hy laat jou maar begaan om dinge te doen wat vir jou gemaklik is,” preek Kathy.

Daisy sê niks. Sy eet net die een brosbeskui­tjie na die ander terwyl sy na Kathy luister.
“Vriendin, dit help nie jy druk jou kop soos ‘n beswaarde volstruis in ‘n vlakvarkgat in nie. Jy gaan moet grootword en aanvaar dat Bernard se welvaart nie iets is om te vrees nie. Jy gaan moet leer om dit met grasie te hanteer, soos ‘n swemmer wat skielik ‘n prinses word. Ons het almal armrig en middelklas grootgeword en word maklik geïntimideer deur dinge wat buite ons ondervindingsveld is.”

Dit lyk of Daisy se onderlip begin bewe. “Jy is die heel eerste mens wat die moed het om my hieroor aan te spreek, Kath. Jy verstaan ook dat ek nie juis weet wat om daarmee te maak nie, dat ek bang is Bernard dink ek is ‘n fortuinsoeker ... Of die mense dink ek het airs en graces net omdat ek nou met ‘n man gaan trou wat geld het.

“Nou klink dit vir my ek het opleiding nodig. Soos in My Fair Lady?”

“Vergeet die prentjies en Hollywood se sprokies, Daisy. Hierdie is ernstig. As jy nie nou aandag daaraan gee nie, gaan dit ‘n konstante konflik in julle huwelik beteken. Buitendien, nou is die tyd wat jy geld vir jou kan laat werk, sodat jy nie oorweldig word deur alles wat jy self wil doen nie.
“Sê my, Daisy – hoe soort mens is Bernard se ma? Ek het haar nog nooit ontmoet nie en jy praat ook nooit oor haar nie...?”

“Kathy, om jou die waarheid te sê, het ek haar ook nog net een keer ontmoet. Dit was in Monte Carlo waar sy gewoonlik in die Europese winter bly. Sy is maar bittermin in die land en as sy hier is is haar tyd bitter beperk. Hoekom vra jy?”

“Daisy, my darling, ek dink ons moet haar vir hulp vra met hierdie Fair Lady-probleempie.”

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 189

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT