ADVERTISEMENT:

 

 
 

93. Daisy en die sprokie van Laspostertjie ...

Date: 10 September 2015 By: 

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n meisie. Laspostertjie.
Sy was ‘n skoonheid met bene wat reg onder haar oksels begin het en silwerblonde hare wat net bokant haar netjiese sitvlakkie geëindig het. Nou nie juis ‘n verlepte muurblommetjie nie, was Laspostertjie bekend vir haar uitgesprokenheid en individualiteit. Ook haar intelligensie – maar dit is nie deugde waarvoor vrouens van haar milieu vereer is nie.
Laspostertjie het by haar twee stieftantes gebly. Saartjie was ‘n goeie mensie, maar tingerig en teruggetrokke. Sy wou te alle tye konflik vermy en net rustig van dag tot dag braai en rugby kyk. Dawieda, aan die ander kant, was ‘n satang wanneer sy gedrink het. Gewoonlik het sy sewe-uur in die oggend begin drink; partymaal tot sewe-uur die volgende oggend. Wanneer sy nie gedrink het nie, het sy babelas gehad. Dan was sy erger as ‘n satang.
Die meisie het haar bes gedoen om huis te hou vir die tantes. Sy het gekook en wasgoed gewas, ‘n verlore stryd gestry teen ‘n kakkerlakinfestasie en het met een bang oog oop geslaap oor die rotte in die huis. Naweke het Satang en Saartjie se huis oopgestaan vir nare karakters met misdadige intensies. ‘n Goor, vloekende spul met verstarde oë tussen leë bottels en walms aaptwak. Laspostertjie moes bontstaan om kos te maak en vroegoggend moes sy tussen die bewusteloses deur skoonmaak.
Haar enigste ontvlugting was haar kar. ‘n Silwer koets van ‘n kar wat sy soos goud opgepas het. Partymaal, wanneer dinge te erg geraak het vir haar, het sy sommer by ‘n petrolstasie in haar kar geslaap. Geld vir petrol was daar nie, maar haar kar was haar veilige hawe wanneer Satang dit in haar kop gekry het om Laspostertjie reg te ruk. Saartjie was te bang om ooit te keer; haar uitkoms was ‘n braaitang en ‘n sak Charka.
Toe, een mooi lentedag in Oktober, durf Laspostertjie die strate aan om haar geliefde koets te neem vir herstelwerk aan die remme. Op ‘n heuweltjie stop sy om water te kry vir die reis. En net daar besluit haar stukkie onafhanklikheid om selfdood te pleeg. Voor Laspostertjie mooi besef wat aangaan, begin die silwer wa teen die bult afrol, reguit op pad na ‘n verdoemende boom. Die donderende slag laat honderde pers jakarandablommetjies op die wrak en die grond neerreën.
Laspostertjie was verlate en uitgelewer aan plekke waarheen sy kon voetslaan...
Op ‘n dag bel Laspostertjie se Goeie Fee haar.
“Kom hiernatoe, klein Laspos. Kom bly hier teen die voet van die Soutpansberg. Ek stuur vir jou busgeld,” ontferm die Goeie Fee haar oor die radelose meisie.
Twee en ‘n halwe flieks in die bus later daag Laspostertjie met ‘n berese leerkoffer op in Waterpoort. Sy is in die koningryk van haar kinderdae, tussen die onderstebo reuse van die bosveld waar die oggend aangekondig word deur papegaaie en hoenderhane wat nog hulle kraaie oefen...

“Daisy, Daisy!”

Daisy vlieg regop op die bank. Dis Bernard wat haar aan die skouer skud om haar wakker te maak.
“Hoe is dit dat jy in die middel van die oggend hier op die bank lê en slaap, my mooi­ste? Het jy alweer heelnag gewerk aan jou stories?”

Daisy glimlag groot vir Bernard. “My held,” sug sy met gevoel en steek haar arms na hom toe uit vir ‘n druk. “Ek is so bly jy is my ridder en my Superman en my prins...”

“Waarvan praat jy, Daisy? Toe ek hier instap om te kom tee drink saam met jou, staan Elvis en sy trawante so wragtig agterop die bank en kraai kliphard! Het jy niks gehoor nie?”

“Nee, my liewe bruidegom! In my koninkryk was ek vinnig op pad na die ‘en hulle het vir altyd en altyd gelukkig saam gelewe’!

“Gee my asseblief nog ‘n drukkie, dan gaan maak ek vir ons mooi tee en dan vertel jy my hoe lyk dinge hier op die plaas.”

 
 
 

Viewed: 151

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT