ADVERTISEMENT:

 

 
 

95. Daisy se wêreldreis skop warm af in Japan

Date: 24 September 2015 By: 

Daisy sing terwyl sy in die kombuis werk. Dis nou nie dat Katy Perry oor kompetisie uit hierdie oord hoef te wroeg nie, maar Daisy geniet elke oomblik van haar eie kalklig. Elke nou en dan word ‘n houtlepel of klitser ‘n mikrofoon en sy dans asof niemand kyk nie. Niemand kyk nie, behalwe vir Saartjie, wat nie eers verbaas sal wees as Daisy skielik ‘n tango van die dak af doen nie.

Wat Saartjie vandag fassineer is die bestanddele waarmee Daisy werk. Sy leun op haar besem en bekyk Daisy se behendigheid met die bamboesmatjie waarmee sy die rys, die seegras en rou salm oprol. Langs Daisy is daar ‘n skinkbord vol maki-rolletjies en reënboog “broodjies”.

“Nou wanneer sit jy daardie by die olie?” vra Saartjie. Daisy lag.

“Saartjie, mens maak nie hierdie gaar nie. Hierdie is nou klaar; mens eet dit net so. Kom proe hierdie...”

“Eish, Daisy! Maar daardie vis hy’s nie gaar nie. Mens eet mos nie vis as hy nie gaar is nie!”

“Kom, Saartjie, kom proe net. Mens noem hierdie sushi. Dis die kos van Japan. Kyk, mens doop dit ‘n bietjie in hierdie sojasous en dan sit jy ‘n bietjie van die pienk gemmer daarop ... Nee, Saartjie! Wag, moenie daai net so eet nie...”

Maar dit is te laat. Saartjie het klaar ‘n teelepelvol wasabi in haar mond gedruk. Daisy knyp haar oë toe en druk haar vingers in haar ore asof sy ‘n ontploffing verwag. Dan gryp sy ‘n glas en gooi bietjie melk in. Saartjie se oë is so groot soos saki bottels en die trane rol vryelik oor haar gekreukelde gesig.

“Daisy, Daisy...” hyg sy. “Daai avo, wat het jy met daai avo gemaak? Hy byt soos ‘n kwaad krokkodêl! Hy maak soos die groot vuur in my neus en my ore...”

Daisy probeer nie eers om op te hou lag nie. Sy sit haar arms om Saartjie se nek en soen haar op haar wang, maar sy kry nie haar lag se af-knoppie nie.

“Saartjie, Saartjie...” hik Daisy later. “Daai ... daai ... daai is nie ... dis nie avo nie. Dis wasabi. Dis soos chillies. Net erger. Maar dit brand darem nie so lank soos chillies nie. En as dit jou beter sal laat voel – ek het presies dieselfde gedoen die heel eerste keer toe ek sushi by ‘n vreeslike grênd restaurant geëet het.”

Saartjie is bitter verleë en wil verder niks met hierdie vreemde kos te doene hê nie. Daisy probeer haar bes om vir Saartjie te verduidelik dat sy Japanese kos maak omdat die Bokke vanaand teen Japan speel.

“Ek het besluit om hierdie manne so ‘n bietjie kultuur saam met die rugby in te gee, Saartjie. Ek gaan kos maak van al die lande teen wie die Bokke speel en dit voorsit saam met die nasionale drank van daardie land. Hulle behoort dit te geniet – so ‘n bietjie afwisseling van die gewone braaivleis en bier.”

“Jy gaan vir hulle ook vang met daai avo van jou, Daisy,” lag Saartjie nou saam. “Eish, daardie is groot muti vir ‘n verkoue, hy maak alles oop soos daai dynamite wat hulle by die myn gebruik!” Saartjie giggel in antisipasie dat een van die manne dieselfde skok as sy gaan ervaar.
Daisy kyk nie rugby daardie aand nie. “Dis te voorspelbaar, Bernard. Die Bokke gaan wen met ‘n 60-punt verskil in die eindtelling. Ek kyk liewers ‘n fliek. Maar toemaar, ek sal julle nie laat honger ly nie.”

Met rustyd kom Daisy agter dat die manne nie jubel nie. Maar sy vra nie vrae nie – bedien net die sushi en vertel met groot entoesiasme die geskiedenis van die delikate happies. 

Ver­stommend genoeg het die manne min teenstand. Dit wil vir Daisy voorkom asof hulle nie eers agterkom dat hulle rou vis eet nie. Maar die lou saki kry groot aftrek. Baie groot. Daisy wonder of sy hulle moet vertel dat saki meer alkohol bevat as Jägermeister, maar besluit daarteen.

Sy vermoed eers onraad toe dit stil raak rondom die televisie. Die enkele woorde wat wel gewissel word is nie vir die publieke oor bedoel nie. Af en toe hoor sy onderlangs iets van “Heyneke” en “rolbalspan”. Sy sluip in sodat die manne haar nie sien nie; sy wil net die telling sien. Die telling in die laaste stuiptrekkings van die wedstryd tref haar soos ‘n mondvol wasabi. Sy is dadelik woedend. Die manne kyk later om. Hulle het nog nooit die woorde wat Daisy vir Heyneke Meyer toevoeg uit haar mond gehoor nie.

Na die oorwinning van die Dapper Bloeisels (dadelik herdoop tot die Dapper Daisies) is die manne doodstil. Verslaentheid lê soos ‘n verlepte slaaiblaar oor die manne.

“Daar is nog baie saki,” sê Daisy. “En sushi ook.”

“Nee hel, Daisy,” sê Jacobus ongeduldig. “Ons gaan braai. Nou dadelik. T-bones. Ek gaan gooi solank die brandewyn en Coke. Hierdie Japanese kossies kan g’n Boer se maag vol kry nie en daai louwarm paraffien maak my naar.

“Nes die blêddie wedstryd wat ons verloor het,” sê hy.

 
 
 

Viewed: 103

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT