ADVERTISEMENT:

 

 
 

96. Daisy se braaidag het soos altyd ‘n kinkel

Date: 01 October 2015 By: 

“Bernard, ek is nou vreeslik jammer vir jou dat ons nie vir braaidag op die plaas gaan wees nie. Dis die slegte nuus, my liewe braaiko­ning, maar die goeie nuus is dat ons wel gaan braai. Met ‘n grênd kinkel,” glimlag Daisy. “Onthou jy nog dat ons van jou skoolpêlle en kollegas genooi het vir Donderdag?”

“Wat jy eintlik wil sê, my mooiste, is dat die spulletjie almal Engels is,” spring Bernard vir Daisy voor.

“Ek wil jou nou nie laag vat nie, Bernard, maar daar ís ander kos buiten T-bones. En af en toe wil ek ook asseblêrrieblieftog ‘n nuwe uitdaging hê! Iets wat met flair en elegansie bedien kan word, nuwe geure en kleure behalwe pap en vleis...”

“Maar Daisy, jy weet dit is eintlik Erfenisdag, nê? Dis wanneer ‘n mens jou herkoms, jou róóts, vier! En ek is stewig gewortel in ‘n steakie en Klippies en Coke ... Maar ek verstaan jou kant ook,” voeg Bernard vinnig by toe Daisy se oë begin vonke skiet.

“Daar is ander herkomste behalwe die Voortrekkers en Boere, Bernard! En almal van hulle het ‘n invloed gehad op die cuisine van Suid-Afrika!” Daisy is sommer reg vir ‘n lekker bekgeveg. “Van ons lekkerste ‘boerekos’ is eintlik van Maleise oorsprong, en ons tipiese Sondagmiddagete het van Engeland af hier uitgespoel. Nou die dag sien ek boereworshappies word saam met sushi voorgesit in ‘n Thai restaurant!”

Bernard gooi sy arms in die lug soos ‘n hens­opper. “Laat dit nooit gesê word dat ek tussen ‘n kok en haar kos kom nie. Ek is nie vitterig nie, my mooiste. Jy maak die wonderlikste kos en ek is seker jy sal vir hierdie braaidag ook iets voortrefliks optower. Maar die mense is miskien nie heeltemal so grênd soos wat jy dink nie, en hulle kry min die geleentheid om net gemaklik en informeel te wees...” probeer Bernard nog vir oulaas.

Daisy gryp vir Bernard om sy nek en gee hom ‘n klapsoen. “Laat jy dit maar net aan my oor, o grote ridder! Ek sal tot iets hê vir jou vegetariese vriende.”

Vir twee dae sien Bernard net vir Daisy met haar neus in ‘n resepteboek. Hy lol nie. Sy hardekop verloofde raak soos ‘n turksvy, en nou-nou jeuk hy waar dit nooit nodig was nie. Maar dis met groot aandag dat hy die aankope en gewerskaf dophou – so effe uit die hoek van sy oog, net sodat Daisy niks agterkom nie. En natuurlik het hy ook aankope en pligte van sy eie om na om te sien.
Erfenisdag breek helder en fel aan - soos dit dikwels doen in die vroegsomer. Iewers in die nag moes Daisy geslaap het, maar nie so dat Bernard kon agterkom nie. Sy het tafel gedek, blomme gerangskik, tafelware gepoets, gebak en gebrou.

“Bernard, hier is jou koffie en beskuit,” maak Daisy hom wakker. Hy wil nog mik om haar vrolik vas te druk en deeglik more te sê, maar Daisy grom net onderlangs en gaan woeker verder in die kombuis.

Teen elfuur kom daar wonderlike aromas uit die kombuis. Bernard kwyl behoorlik waar hy die glase en ys op die stoep vir die gaste regsit. Daisy kom hou toesig en sonder dat sy daarvoor vra, maak Bernard vir haar ‘n helder pienk sletsappie oop.

“Kom sit vir ‘n oomblik, Daisy. Jy lyk heeltemal oorwerk. Ek sal gou vir jou badwater gaan intap. Maar wees rustig en ontspan voor die mense kom. Ek wil nog hoor wat alles op jou spyskaart is, want die geure uit die kombuis is besig om my so honger soos ‘n leeu in Lapland te maak...”
Daisy bad lank. Baie lank.

Bernard verwelkom die gaste en maak seker dat almal iets het om te drink. Maar hy vermoed eers onraad toe iemand suspisieus na die braaiplek loer en vra of daar iets brand. Hy storm kombuis toe ... ‘n Kombuis wat vaal is van die rook wat by die oond uitborrel. Hy pluk die oonddeur oop en gryp met ‘n opgevoude vadoek na bakke in die oond. Die vadoek raak aan die element van die oond en vat vlam.

Daisy storm die kombuis binne met net ‘n handdoek om haar lyf. “Agge nee! Ag nee! Ek het aan die slaap geraak in die bad ... Kyk nou net die gemors!”

“Ja toe, Daisy.” Bernard hou iessegrimmig sy gebrande vingers onder die koue kraan. “Jy kan nie so kaal hier in die kombuis rondstaan nie, al die mense is al hier! Gaan trek aan sodat ons ‘n plan kan maak.”

Dit was ‘n heerlike dag. Bernard het die oondbakke met die gebrande fênsie geregte buite die agterdeur gelos en papwater opgesit. Daisy se moed was in haar skoene en sy het haar oorgegee aan die pienk voggies. Daar was darem ‘n imposante beet-, roket- en granaatslaai vir kleur en haar Amarula crème brûlée was onverbeterlik.

Die gaste kon nie uitgepraat raak oor die T-bones, krummelpap en sheba nie.
Later die aand toe hulle gaan inkruip, lees Bernard vir Daisy iets voor van Facebook af:

“Suid-Afrikaners is snaakse mense. Wanneer ons depressief voel, braai en drink ons. Wanneer ons iets wil vier, braai en drink ons en wanneer ons niks het om te doen nie, dan braai en drink ons. Daar is groot fout, mense. Bring more julle vleis en drank dan praat ons hieroor.”

 
 
 

Viewed: 208

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT