ADVERTISEMENT:

 

 
 

98. Daisy en Bernard se sprokiestroue (Deel 2)

Date: 15 October 2015 By: 

Die drie vrouens by die tafel se monde val gelyk oop asof hulle dit geoefen het.

Ousus herstel eerste. “Kathy, ek dink brandewyn en Coke is in orde. Jacobus glo vas dat dit medisyne in enige krisis is. Skink vir ons medisyne terwyl ons dink, want hierdie is beslis ‘n krisis. Ek sal net ‘n bietjie Amarula drink.”

Daisy steek haar arms uit na haar suster toe vir ‘n druk. Binne oomblikke is Ousus se skouer papnat gesnik. Met groot geduld hou Ousus haar kleinsus vas en laat haar begaan. Sy vryf oor Daisy se wildgeslaapte blonde hare en fluis­ter trooswoorde soos toe sy ‘n klein dogtertjie was.
“Ek dink jy moet vir ons vertel wat so swaar op jou hart lê, Daisy,” praat Carla vir die eerste keer. “Kom sit. Drink. Rook. Kalmeer.”

Kathy gee vir Daisy ‘n stuk kombuispapier aan om haar neus te blaas. “Daisy, ek weet net een ding vir seker – dit gaan glad nie oor Bernard nie. Ek het jou nog nooit so gelukkig gesien soos vandat jy hom ontmoet het nie,” begin Kathy die sakie uitpluis. “Dit moet dan iets anders wees. Vertel ons sodat ons jou kan help? Asseblief?”

Sy druk ‘n sigaret dood en vat nog ‘n gawe teug van die brandewyn en Coke voordat Daisy haar rooigehuilde oë oor die vrouens laat gaan. Sy sug.

“Jy is heeltemal reg, Kathy. Ek twyfel glad nie dat Bernard die man is saam met wie ek die res van my lewe wil spandeer nie. Dis net al die voorwaardes en verantwoordelikhede wat saam met ‘n huwelik gaan. Ek is vreeslik bang dat ek myself gaan verloor in al die reëls en verwag­tinge wat daar gaan wees sodra ek Mevrou Young word. Ek sal nooit weer saam met julle op die ingewing van die oomblik die kar met ‘n Coleman en gatskop musiek kan laai, en net met kikoi’s en Panamahoede gepak in Botswana gaan rondflenter nie ... Of la-di-da oorsese toe­riste leer volkspele doen op die Bloutrein nie...” Sy begin weer huil.

Vir ‘n ruk lank is daar doodse stilte, onderbreek deur Daisy se gesnuif. Dis net Ousus wat opstaan om die bottel Amarula nader te sleep. Dan begin Kathy lag. “Onthou jy die aand toe ons die stout klere aangetrek het om vir die girls te wys by Dissieplek? En ons eers teen dagbreek op die plaas aangekom het? En ons saam met daai niggie van jou op die tafels gedans het by die Brazen Head in Pretoria?” Daisy glimlag.

“En toe ons agtuur in die aand besluit het ons gaan deurry Durban toe om die son te sien opkom oor die see?” voeg Carla by. “Vir brêkfis het ons bunny chows geëet en bier gedrink...”
Daisy snik harder. “Nou sien julle? Hoe kan ek dit alles opgee om kuis en gedweë te word en besigheidsmense te onthaal en die gastehuis te bestuur? Dit klink so ordentlik en volwasse! Dis mos nie ek nie.”

Ousus staan op. Hande op die heupe sê sy ferm vir Daisy: “Stop, Daisy. Stop dit net. Jy het alles wat enige vrou se hart kan begeer! Bernard is die vangs van die eeu – en dit is beslis nie omdat hy meer geld en common sense het as daai verspotte Donald Trump nie. Dis omdat hy jou liefhet presies nes jy is!” Ousus is so lelik opgeklits dat Daisy van skone verbasing ophou huil.

“Bernard weet alles van jou. Hy weet van jou vrye gees en jou goeie hart. Hy weet jy is onvoorspelbaar en buierig. Hy weet jy is slim en snaaks en uiters kreatief. En hy het jou lief vir al daardie dinge. Ek het nog NOOIT enige teken gesien dat Bernard planne het om jou skielik te wil verander wanneer julle getroud is nie. Dit maak van hom iemand wat in my oë amper op water kan loop en...” Ousus druk-druk met haar voorvinger teen Daisy se skouer “...‘n uiters selfsugtige en onbesonne, kinderagtige klein feeks!”

Nou staar al drie die meisies by die tafel vir Ousus met oop monde aan. “Ja toe – ek mag maar my eerlike opinie gee; sy is my suster. Ek weet julle stem eintlik ook met my saam, maar julle hanteer net vir Daisy of sy ‘n rare kaktusplant met vreeslike skerp dorings is. Hier trek ek nou die streep.”

“Jy, Daisy – jy gaan op hierdie oomblik en gaan bad en trek vir jou pragtig aan. Daar is ‘n kombuistee wat jy nog vandag moet bywoon; te hel met die verrassingselement. En julle strooimeisies het van hierdie oomblik af net één plig: julle sorg dat Daisy presies weet hoeveel sy het om voor dankbaar te wees.”

“Ek het nou klaar gepraat.”

 
 
 

Viewed: 110

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT