ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Kransaasvoël besig om sy vlerke reg te skud, afgeneem by Blouberg Natuurreservaat deur mnr. Johan van Wyk.

Blouberg se aasvoëls het nog baie vriende nodig

Date: 09 March 2017 By: Isabel Venter

Die Blouberg Natuurreservaat naby Vivo het geen bekendstelling nodig as dit kom by hul aasvoël-rehabilitasieprojek nie.

Danksy die hulp van die nie-winsgewende organisasie Vriende van Blouberg (VVB) is daar al heelwat veranderings op dié staatsbeheerde reservaat aangebring tot voordeel van beide die personeel en die diere, maar meer spesifiek die diere. Die VVB is in 2013 in samewerking met die BirdLife Soutpansberg Voëlkykersklub gestig met die uitsluitlike doel om die natuurreservaat by te staan met geld en hulpbronne.

Blouberg Natuurreservaat staan tans aan die voorpunt van die bewaring van aasvoëls, meer spesifiek die bedreigde kransaasvoël wat teen die hange van Blouberg nesmaak. Die reservaat het meer as 10 jaar gelede ‘n projek begin waarin plaaslike gemeenskappe betrek en vergoed word ten opsigte van die bewaring van aasvoëls. Aasvoëls, wat gesog is vir muti-mengsels, word van die gemeenskap teruggekoop, gesond gemaak en weer in die natuur vrygelaat.

Die VVB steun veral op borgskappe van privaatinstansies en die helpende hande van vrywilligers. Dit is ook hoe die nuwe vlughok die lig gesien het. Vrywilligers van die VVB het hier en daar ‘n tydjie afgeknyp en self die hok gaan bou op die reservaat. Hierdie vlughok word kort-kort ingespan om beseerde aasvoëls te rehabiliteer voordat hulle weer vrygelaat word in die natuur.  

Die vlughok is nie die enigste projek wat die VVB mee uitgehelp het nie. Daar is ook ‘n uitkykpunt op die reservaat waar die VVB ‘n "wegspringdek" gebou het vanwaar gerehabiliteerde aasvoëls ‘n gemaklike aanloop het vir hul “eerste” vlug. Die dek bied ook ‘n pragtige uitsig oor die suidelike vlaktes van die reservaat. Die VVB het ook die toeristekaarte en -bordjies regdeur die reservaat op datum gebring en ‘n nuwe boorgatpomp verskaf wat die kantore en kampe van water verskaf. Verder help die VVB se fondse met die kleiner uitgawes as veldwagterstoerusting kort.

Die nuutste projek wat die VVB aangepak het, is die konstruksie van ‘n nuwe skuiling (hide) by Buffelspan. Vir dié projek word daar nog ongeveer R7 000 (van R25 000) benodig voordat konstruksie kan begin. Harde kontant is egter nie die enigste hulp wat die VVB kort nie. Vrywilligers om te help met die bouwerk is net so belangrik, aangesien veldwagters hul hande vol het om stropers weg te hou van die reservaat.

Donasies kan gemaak word in die VVB se bankrekening by Nedbank, rekeningnommer 1029301476, takkode 141848 met verwysingsnommer “Buffelspan”.  Indien iemand voel hulle wil op ‘n ander manier uithelp, kan me. Jana Smith geskakel word by tel. 082 895 9034 of alternatiewelik mnr. Barry Fourie by tel. 083 601 5530.

 

 
 
 

Viewed: 635

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die skaars Rüppellse Aasvoël besoek ook van tyd tot tyd die Blouberg Natuurreservaat. Foto: Geoff Goetsch.

'n Onlangse sonsondergang afgeneem op die Blouberg Natuurreservaat. Foto: Facebook.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT