ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bekende onderwyspaar mnr. Ralph Harding (70) en wyle me. Bertha Harding (69). Foto verskaf.

Geliefde juffrou sterf ná ongeluk

Date: 10 April 2017 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg-gemeenskap is hierdie week weer in rou gedompel met die skoknuus van die skielike dood van een van die streek se mees beminde oud-onderwysers, me. Bertha Harding (69).

Die altyd glimlaggende Bertha is dood nadat sy en haar man, die 70-jarige Ralph, in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was op die N1-verbypad om Polokwane naby die Mall of the North.

‘n Bedroefde Ralph het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat hulle onderweg was na Pretoria waar hulle sou oornag. Hulle sou Dinsdag vanaf die OR Tambo lughawe na Zimbabwe gevlieg het vir ‘n welverdiende vakansie saam met Bertha se familie op ‘n rivierboot op die Karibadam. “Sy het so verskriklik uitgesien na hierdie vakansie,” het Ralph gesê.

Die ongeluk het Maandag omstreeks 11:30 plaasgevind, toe ‘n bakkie reg voor Ralph-hulle ingery het. “Hy het my net nie gesien nie, glad nie. Hy het nie eers probeer uitswaai nie,” het Ralph gesê. In ‘n poging om ‘n ongeluk te vermy het Ralph uitgeswaai, maar dit was te laat. Die bakkie het Ralph-hulle se voertuig op Bertha se kant getref.

Bertha en Ralph is per ambulans vanaf die ongelukstoneel na die NetCare hospitaal in Polokwane deurgejaag. Bertha het baie seergekry. Sowat ‘n uur na die ongeluk is Ralph die skoknuus meegedeel dat sy skoolliefde en lewensmaat van die afgelope 49 jaar aan haar beserings beswyk het. Sy het nooit haar bewussyn herwin ná die ongeluk nie. Ralph self het ligte beserings opgedoen en is na ‘n breinskandering en behandeling vir ‘n kopwond Maandagmiddag uit die hospitaal ontslaan.

Te midde van die hartseer onthou Ralph net die goeie. “Sy was ‘n besonderse mens gewees, iemand wat eerder gegee as wat sy geneem het. Sy het altyd mense bo haarself gestel,” het Ralph gesê.

Ralph onthou sy skoolliefde met hartseer verlange in die oë. “Ek en sy het begin uitgaan toe sy in Graad 10 (ou Standard 8) was,” onthou Ralph. Albei was leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt. “So ook al vier ons kinders Vernon, Martin, Charl en Cornia,” het Ralph bygevoeg.

Die twee was onafskeidbaar. Ná skool het Ralph en Bertha ook saam gaan onderwys studeer by die onderwyskollege in Pretoria. Hulle is kort ná universiteit getroud.

Die Harding-egpaar was welbekend in onderwysgeledere. Ralph het sy onderwysloopbaan in 1970 begin en ‘n jaar later het Bertha hom gevolg. Eers het hulle skoolgehou op Settlers, daarna op Ermelo vanwaar die egpaar Musina toe is. Van Musina is hulle terug Ermelo toe, totdat hulle finaal by Hoërskool Louis Trichardt geëindig het.

In die dertig jaar wat Bertha onderwys gegee het, het sy letterlik honderde kinders se lewens met haar saggeaarde tog beginselvaste persoonlikheid ten goede aangeraak. Die nuus van haar skielike dood het vir baie van hierdie nou groot “kinders” as skok gekom. “Ek kan dit nie glo nie! Sy was ‘n awesome juffrou gewees!” het oud leerling, Isabel Venter, opgemerk.

Bertha het vir kinders vanaf Graad 0 tot Graad 12 klas gegee. Sy het ondermeer die Graad 0-klas by Laerskool Louis Trichardt begin en die hoof daarvan geword. In die destydse Venda het sy huishoudkunde vir matrieks gegee. “Jy weet, sy het skoolgehou in Shayandima, daardie tyd met die opstande, en hier gooi die ouens een dag klippe op die dak. As hulle klippe op die dak gegooi het, het jy net kinders in alle rigtings uit die skool sien hardloop. Haar eie kinders wou ook hardloop, maar Bertha sê vir hulle: You are busy with your examination. No one goes out. You cook! Net daar stap Bertha by die deur uit en sê vir die ouens wat die klippe gooi: Ek sê nou vir julle, as iemand weer ‘n klip gooi is daar moeilikheid! Hulle [die studente] kan klaar kook, dan kan hulle saam met julle hardloop!” onthou Ralph met ‘n glimlag op die gesig. Juis uit hierdie storie uit, het Bertha begin om huishulpe vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente se kerksaal op te lei om kos te kook vir hul werkgewers. “Dit was ‘n ongelooflike sukses. Dit het sy na-ure gedoen,” het Ralph gesê.

Bertha was ‘n klein vroutjie, maar baie beginselvas. Sy was ook baie reguit en eerlik. “Sy was baie ernstig oor dinge wat haar na aan die hart gelê het,” het Ralph gesê. So het Bertha wye spore op alle vlakke van die samelewing getrap, nie net in die onderwys nie. Sy was baie betrokke by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en was ernstig oor haar geloof. “Sy het egter nie daarmee te koop geloop nie, jy kon maar net gaan kyk het hoe sy gelewe het en wat sy gesê het – haar optrede,” het Ralph gesê.

Ralph neem met hartseer afskeid van sy eggenote. “Ek veg nog teen die trane. Sy het my kalmeer,” het Ralph gesê. “Sy was my beste vriendin,” het dogter Cornia, ook met trane in die oë, bygevoeg.

Wyle Bertha word eerskomende Vrydag, 7 April, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die diens sal waargeneem word deur ds. Jan Pretorius.

“Ons wil net graag vir almal dankie sê wat ons in hierdie moeilike tyd ondersteun het en steeds ondersteun. Dankie aan my kinders wat my geweldig ondersteun het, so ook pastoor Martin Nyirenda van Polokwane. Hy en ‘n mede-pastoor het my vanaf die ongelukstoneel regdeur ondersteun. Hy het ons bagasie vir my hospitaal toe gebring en selfs met my kinders telefonies reëlings getref toe ek nie kon nie. Dit word opreg waardeer,” het Ralph gesê.

 
 
 

Viewed: 3287

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT