ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Onlangse foto van wyle Pieter Möller (62) saam met dogter Jackie en kleinkinders Kristen en Kevin. Foto verskaf.

Pieter verloor stryd teen kanker

Date: 21 May 2017 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg-gemeenskap treur hierdie week saam met die Möller-familie van Louis Trichardt met die nuus van die afsterwe van die welbekende Pieter Möller, of Piet Vleis soos hy alom bekendgestaan het.

Pieter het verlede Woensdag, 10 Mei, aan huis van sy dogter Jackie in Fochville sy maandelange stryd teen kanker verloor. Hy was 62 jaar oud gewees. “Hy het vir ons gesê hy weet waar hy heengaan,” het suster Nettie aan die Zoutpansberger gesê.

 Pieter is sowat ‘n jaar gelede met kanker gediagnoseer en het verskeie chemo-behandelings ontvang. Vir dié doel het hy die laaste jaar hoofsaaklik by sy dogter en suster in Johannesburg gewoon.

“Die gewasse op sy organe was net te groot en die kanker net te ver gevorderd. ‘n Operasie sou hom nie kon help nie,” het ‘n baie hartseer broer Eben Woensdag gesê. Die twee boeties was die afgelope paar jaar onafskeidbaar van mekaar. Hulle was ook besigheidsvennote en het saam gedien as diakens op die kerkraad van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente. “Hy was my beste vriend en ek gaan hom baie mis,” het Eben gesê.

Pieter se pa, oom Eben Möller, was ‘n boorling van die Soutpansberg. Suster Nettie en broer Eben is ook hier gebore, maar Pieter is in 1954 in Zambië gebore naby Ndola. Sy wortels was egter ferm in Louis Trichardt gevestig en was hy in sy jonger dae ‘n sportman van formaat. Nie net het hy fantastiese skolerugby gespeel nie, hy het ook ná skool vir die Harlequins-rugbyspan van Pretoria uitgedraf. Hy was ook ‘n gedugte atleet op die atletiekveld.

Behalwe vir sy talente as sportman, was Pieter sy hele lewe in die mynbedryf. Hy en Eben was juis in die proses om na myngeleenthede in Mosambiek te kyk met sy afsterwe. “Hy was ook die eerste ‘lang’ valskermspringer wat dit gemaak het by die valskerm-eenheid. Hulle het aanvanklik vir hom gesê hy is te lank,” onthou Eben met ‘n glimlag.

In lewe was Pieter iemand wat gelewe het vir sy kinders en kleinkinders. “Hy was ‘n ongelooflike pa vir sy kinders en was altyd baie, baie trots op hulle as hulle presteer het,” het Eben gesê. Hy was ‘n harde man, maar met ‘n sagte hart. “Hy het ‘n aansteeklike lag gehad en goeie sin vir humor. Hy kon egter vinnig kwaad word, maar net so vinnig het hy weer goed geword,” voeg Eben by. Hy vertel hoe Pieter gereeld rondloperdiere by die huis aangebring het om te versorg. “Die een keer het hy sy beste hemp en broek vir ‘n boemelaar gegee,” het Eben gesê.

Die laaste paar weke was vir Eben en hulle familie ‘n baie moeilike tyd. Eben het egter gesê dat Pieter geweet het wat vir hom wag. “Ds. Rudolph Botha [voormalige leraar van die NG Kerk Soutpansberg] het hom die Dinsdagaand voor sy dood besoek. Ná sy besoek het Pieter ‘n rustigheid oor hom gehad,” het Eben gesê.

Teen druktyd was finale reëlings ten opsigte van ‘n roudiens nog nie gefinaliseer nie. Eben het egter genoem dat dit waarskynlik volgende Vrydag in Fochville gehou sal word waar hy baie skoolvriende gehad het. “Elke keer as ek met hom die laaste ruk gesels het, het hy gesê ek moet asseblief almal bedank wat hom in hulle gebede gedra het tydens sy siekte,” het Eben gesê.

 
 
 

Viewed: 1272

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT