ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se adjunk-provinsiale kommissaris, generaal Jan Scheepers, afgeneem tydens sy toespraak. Foto: Limpopo Polisie Kommuniaksie.

Meer moet saamstaan teen misdaad

Date: 10 December 2017 By: Isabel Venter

Limpopo se top polisiehoofde het met groot lof gepraat van Louis Trichardt se aksies om misdaad te voorkom.

Volgens die SAPD se adjunk-provinsiale kommissaris, generaal Jan Scheepers, is die samewerking tussen die polisie en plaaslike veiligheidsforums van die beste in die provinsie. Hy het die dorpswag, plaaswag en ander verwante organisasies wat onder die plaaslike gemeenskapsolisiëringsforums val gelukgewens en gevra om voort te bou op hulle goeie werk.

Scheepers het gepraat by ‘n gemeenskapsvergadering verlede Donderdag in Louis Trichardt se Ferdie Beyerssaal. Die vergadering is bygewoon deur al die belangrike rolspelers in die veiligheids- en sekuriteitsbedryf wat funksioneer in die Louis Trichardt- en Vivo omgewing.

Scheepers het klem gelê daarop dat daar nooit genoeg samewerking kan wees nie, en inwoners versoek om aktief betrokke te raak by hulle onderskeie plaaswagte of by die Soutpansberg Dorpswag. “Moenie jou eie ding probeer of jou eie groepie stig nie. Werk saam met die instansies wat reeds bewys het dat wat hulle doen, werk,” het Scheepers gesê.

Samewerking, het Scheepers verduidelik, sluit nie net jou deelname by ‘n organisasie in nie. Hy het die publiek gevra om hulle plaaslike polisiestasie verantwoordbaar te hou en te sorg dat sake reg ondersoek word. “Die publiek moet asseblief kla as hulle nie tevrede is nie. As niemand kla nie, weet die SAPD se bestuur nie daar is fout nie,” het Scheepers gesê.

Volgens Scheepers is dit ongelukkig ‘n tydsame proses om ‘n klag te lê, maar een wat vrugte sal dra in die lange duur. Iemand wat ontevrede is met hoe hulle saak hanteer word, of dalk gevra is om omkoopgeld te betaal, moet eerstens die stasiebevelvoerder nader. Dit sal help as inligting soos datums, name, tyd en plek op papier vasgelê kan word. Indien die klaer voel daar word nie aandag gegee aan sy klagte nie, het Scheepers gesê, kan die klag verder gevoer word.  

Scheepers het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die kwessie van sosiale media, en veral die gebruik van WhatsApp-groepe wat gebruik word om inligting oor misdade te versprei, aan te raak. Volgens hom is sosiale media die grootste rede dat sake onopgelos gaan en misdadigers vry kom. “Dit help niemand nie, en mense moet liefs nie onbevestigde inligting aanstuur as feite nie,” het Scheepers gesê. Hierdie sogenaamde inligting, het Scheepers gesê, is dikwels verouderd, saai net onnodig paniek onder die publiek en mors kosbare ondersoektyd van die polisie.

 
 
 

Viewed: 378

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT