ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Hansie en tannie Corrie Uys en 'n foto van hulle troudag 60 jaar gelede. Hulle vier nog steeds ook elke jaar die dag waarop hulle verloof geraak het.

Hansie en Corrie Uys vier meer as sestig jaar saam

Date: 07 September 2018 By: Jo Robinson

Sestig jaar later en nog steeds vier Hansie en Corrie Uys elke jaar nie net hulle huweliksherdenking nie, maar ook die dag waarop hulle verloof geraak het.

Hulle Verloofdag noem hulle dit. Die liefde en vriendskap tussen die twee is maklik om te sien en dit is duidelik dat hulle ná al die jare steeds dankbaar is vir elke dag wat hulle saam kan deurbring.

Die egpaar lag lekker saam, terwyl hulle mekaar herinner aan die tye wat verby is. Op ‘n vraag oor die geheim van so ‘n lang en gelukkige huwelik, sê tannie Corrie met ‘n groot glimlag: “Uithou, aanhou en bekhou!” Oom Hansie sê maar niks. “Eintlik,” sê sy verder, “het ons nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie. Nooit. Nou dat ek dink, ons het nog nooit regtig rusie gehad nie.”

Oom Hansie het as jong man op Waterpoort met beeste geboer en tannie Corrie was die posmeesteres by die poskantoor daar. Sy het toe besluit om na Dendron te verskuif. “Ek het 15 keer in een maand bedank, so mal was dit daar,” sê sy. “Hulle het my elke keer oortuig om te bly. Toe sê Hansie vir my dat as ek die werk los, hy vir my dieselfde salaris sal betaal. Ek wag nou nog vir die geld!”

Oom Hansie en tannie Corrie het mekaar by haar sussie se troue ontmoet en op daardie dag, sê oom Hansie, het hy geweet dat sy die vrou vir hom was. Later het hulle nader aan Louis Trichardt getrek, want hulle wou nie hê hulle kinders moes koshuis toe gaan toe hulle begin skoolgaan nie. Die egpaar het aangegaan met die boerdery, maar oom Hansie het weer in die dorp gaan werk, terwyl tannie Corrie na die plaas gekyk het. Hy was al die jare besig met verskillende werk, maar Oom Hansie leer gou. “Ek was nooit in Graad 11 nie,” sê hy, “en na net drie kwartale in matriek het ek baie goed geslaag.”

In Paul Prinsloo se boek, Burgers van die Soutpansberg, sê hy van Hansie: “Het u al gehoor van een man wat 193 beroepsjare agter die rug het? En soms vier beroepe gelyktydig beoefen het? Wat ‘n ingenieur wou word en toe uiteindelik joernalis, fotograaf, boer, politikus, elektriese- en meganiese ingenieur geword het?”

Tannie Corrie is ook ‘n skrywer en het self ook al baie berigte geskryf. Hulle vertel hoe oom Hansie aan die begin foto’s in die hangkas moes ontwikkel, omdat hulle nie ‘n donkerkamer gehad het. En hoe hulle gejaag het om die lokomotief te vang om hulle berigte en foto’s vir die kondukteur gee om deur te vat Landbou Weekblad toe. Oom Hansie het vir die Transvaler, die Beeld, Huisgenoot, Farmer's Weekly, die SAUK en ander instellings geskryf. Oom Hansie sê hy was ook die eerste persoon in Suid-Afrika wat ‘n berig per telefoon lewendig vir die SAUK uitgesaai het.

Oom Hansie gooi nie belangrike goed weg nie, en sy versameling van duisende ou foto’s, berigte en snuisterye vertel die geskiedenis van Louis Trichardt, asook sy eie. “Meeste van ons ou vriende is nou oorlede,” sê tannie Corrie, “maar ons het nuwes. As ons tyd kom, gaan ons veras word en die plek wat dit doen kan ontslae raak van die as. Mens is nie daarin nie, en die begraafplaas hier is nou so gevaarlik dat niemand jou graf in elk geval gaan besoek nie. Ons geniet mekaar nou terwyl ons lewe.” Oom Hansie se ouers was ook lank getroud. Ná 71 jaar saam het hulle twee dae uitmekaar gesterf.

Oom Hansie en tannie Corrie het seker baie jare nog voor hulle, en hulle sê hulle sal nooit verveeld word met mekaar nie. Hy bou en versamel, onder andere, staanhorlosies, speelgoed en treine. Met twee kinders, vier kleinkinders en ‘n pragtige agterkleinkind is hulle lewe besig en vol liefde. Hulle beskerm en sorg vir mekaar.

Oom Hansie en tannie Corrie het op 30 Augustus 1958 verloof geraak en is op 18 Julie 1959 getroud.

 
 
 

Viewed: 724

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT